Vra vir Faffa

Bewaar plaagdoders veilig

Vraag

Antwoord

Suid-Afrika het menigte boere, vanaf die groot manne wat duisende tonne voedsel produseer tot by die mense wat pas tot die landboubedryf toegetree het en begin met hul eie kleinskaalse produksie. Enige boer strewe seker daarna om ‘n goeie wins uit sy bedryf te maak, maar die huidige stygende produksie-insette maak die banksake vir meeste boere taai. 

Benewens ‘n ekonomie wat druk en middelmanne wat die winste opvreet, is daar ook by ‘n groot deel van die Suid-Afrikaanse samelewing ‘n baie ongustige indruk van boere en boerdery – dit terwyl dieselfde mense met monde vol om die tafel sit en die boeregemeenskap afkraak. 

Daar is soms wel rede vir die publiek om negatief oor die landbouers te voel en een van die maklikste wapens wat ons as bouers vir die publiek gooi, is die misbruik, onwettige gebruik en wanbestuur van plaagdoders. Deur amper 20 jaar se werk met die landbougemeenskap om die gebruik van plaagdoders minder negatief vir die omgewing te maak, het ek male sonder tal net my hande kon saamslaan oor die dinge wat soms met plaagdoders aangevang is. 

Plaagdoders in besit van misdadigers
Om op ‘n swerm van 55 dooie kransaasvoëls wat die slagoffers van karbofuraanvergiftiging was, af te kom, was ‘n bitter pil om te sluk. Om te hoor hoe iemand in die Karoo 223 witooievaars met diasinon afgemaai het omdat die persoon dit wys geag het om sy eie beesdip met ou sprinkaangif te vervaardig, was net so hartseer. So is daar honderde gevalle van vergiftiging gewees, maar gelukkig was baie daarvan nie die boere se skuld nie maar wel die van onwettige immigrante, migrerende werkers en plaaswerkers. 

Die probleem met vergiftiging lê dikwels by die oorsprong van die plaagdoder waarop die misdadigers hulle hande lê en daar speel die boerdery tog ‘n indirekte maar belangrike rol. Plaagdoders word op meeste plase gebruik en die beheer daaroor is beslis nie na wense nie. Vir die boer hou die lakse bestuur van plaagdoders nie alleen vir sy eie boerdery ‘n groot risiko in nie, maar ook vir bure en selfs mense baie ver weg van die plaas. 

Diegene wat plaagdoders by die boer vaslê doen dit met een doel: misdaad! Diere soos plaasdiere, waghonde en wilde diere, insluitende voëls word afgemaai met plaagdoders wat onwettig bekom is. Feit van die saak is dat daardie plaagdoders meestal op ‘n plaas gesteel is.

Oplossings teen onwettige misdrywe
Nou wat gemaak oor die dilemma? Jan Groen Publiek beskuldig die plaagdoderbedryf en die landbougemeenskap vir die misdrywe wat onwettig met plaagdoders gepleeg word, maar vergeet gerieflikheidshalwe dat daar geslepe misdadigers agter die prentjie skuil. Die Vereniging van Veterinêre en Oesbeskermingsverenigings, oftewel Avcasa, pleit by alle boere om hulle plaagdoders soos goud agter slot en grendel te bêre. Plaagdoders behoort nooit oop en bloot in ‘n skuur of stoorkamer te staan nie. 

“ ’n Boer maak ‘n plan”, lui die gesegde en ek nooi die manne op die plase om planne te maak om die plaagdoders in veilige bewaring te hou. Bou ‘n staalhok in die skuur waar die plaagdoders weggesluit kan word en maak seker dat daar van elke enkele gram rekenskap gegee kan word. 

Daar gaan iewers die geleentheid hom voordoen waar iemand betrap gaan word met ‘n ongemerkte houertjie gif. Só ‘n persoon oortree Regulasie 181 van Wet No. 36 van 1947. Die regulasie bepaal dat ‘n plaagdoder nie in ‘n houer wat nie die oorspronklike houer wat met die oorsponklike etiket toegerus, geberg, gebruik, verkoop, verhandel of vervreem mag word nie en die wet verklaar dit dan as ‘n onwettige aktiwiteit. Indien die omie op die plaas dus so iemand raakloop is dit logies dat die persoon onwettig optree. Skakel dan die Griffon Gifinligtingsentrum op 082 446 8946 met al die inligting sodat ons hopenlik aksie kan loods om die persoon in hegtenis te laat neem. 

Nou sal die humaniste seker reken ons tree te hard op maar sal iemand dalk wil sien dat mense met onwettige vuurwapens rondloop? Beslis nie! Plaagdoders in onwettige hande is net so dodelik soos vuurwapens in onwettige hande. 

Avcasa wil graag ‘n hand na die boere uitreik en sê: Manne dit is tyd dat ons almal saam hierdie euwel van onwettige plaagdodergebruik uitroei. Avcasa bied allerhande raad aan boere aan oor die korrekte en veilige gebruik van plaagdoders. Kontak gerus die Griffon Gifinligtingsentrum vir navrae – die sentrum is daar om almal te help. Daardie oproep na die sentrum is miskien net die oproep wat die lewens van ‘n klomp wilde diere gaan red. Bel gerus, manne (of miskien moet ek liewers die dames uitnooi om te bel want ons as boere is altyd “te besig”!).

Groetnis en lekker boer. 

Vir verdere navrae kontak dr. Gerhard Verdoorn by die Griffon Gifinligtingsentrum by 082 446 8946 of besoek die webwerf nesher@tiscali.co.za .

16 September 2010


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X