Vra vir Faffa

Bestuur van ooie tydens KI

Vraag

Indien ek my ooie met dragtige merrieserum (DMS) spuit om lampersentasie te verhoog, sal dit verkeerd wees om terselfdertyd die ooie vir parasiete te behandel?

Antwoord

Dis is nie verkeerd om ooie te behandel tydens sponsonttrekking en spuit van DMS nie, MAAR, daar is verskeie faktore wat ernstig in ag geneem moet word en wat ‘n groot invloed op die eindresultaat het.

In die eerste plek word die lampersentasie deur die ooi se kondisie bepaal.  ‘n Ooi wat besmet is met parasiete, is onder stres en kan nie optimaal presteer nie.  Behandeling teen parasiete tydens sponsonttrekking en spuit van DMS (twee dae voor KI of dekking), sal  nie die ooi se vermoë om te presteer binne so ‘n kort tydsverloop kan verbeter nie.   Enige middel wat toegedien word, mag die parasiete vinnig beheer, maar die skaap het tyd nodig om die skade wat parasiete aangerig het, te herstel en daarom is deeglike beplanning uiters belangrik.

Sinchronisasie van ooie is ‘n kunsmatige proses waartydens ‘n groot klomp ooie getydig op hitte gebring kan word.   Ooie kan nie “reggemaak” word deur hulle te sinchroniseer of die dosis DMS te verhoog nie.  Sy bly slegs ‘n dier wat afhanklik is van haar meester.  Swak resultate of prestasie moet regverdig beoordeel word en swak bestuur en beplanning sal noodwendig tot teleurstellende resultate lei.

Om optimum resultate met dektyd of KI te behaal, moet enige stresfaktore uit die weg geruim word. 

Prosedures wat vier tot ses weke voor sponsonttrekking afgehandel moet word, is:

  • Skeer van ooie, indien van toepassing

 

  • Alle inentings en doserings:  geen lewende entstof moet binne ‘n minimum tyd van 3 weke voor dektyd toegedien word nie . In die geval van ramme is die minimum periode  agt weke voor dektyd aangesien tydelike onvrugbaarheid kan voorkom!

 

  • Speen lammers

 

  • Elimineer ooie met swak uiers wat nie tweelinge kan grootmaak nie, asook ooie met swak lamrekords

 

  • Soek ooie uit vir spesifieke ramme;   moet dit nie tydens sponsonttrekking eers doen nie

 

  • Begin prikkelvoeding en hou vol met dieselfde rantsoen vir drie weke na paring

 

  • Vermy klawer en lusernweidings ses weke voor en na paring.

Met goeie bestuur, beplanning en voeding van sy kudde, sal die teler die uitslag van die teelprogram bepaal en kan hy staatmaak op goeie resultate en sodoende meer wins in sy sak steek!

Gekryf deur: Hendriëtte Stafford, Ramsem  (hendriette@ramsem.com)

30 Januarie 2013

Lees ook alles oor voeding van ooie.

hulp.landbou.com

Klik op Indeks na alle antwoorde onder Vra vir Faffa

Rol af na Skape

Klik op Voeding

Klik op Ooie


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X