Vra vir Faffa

Besigheidsplan vir kalwers grootmaak

Vraag

Ek is nog jonk en nuut in die landbou en wil graag die dierebedryf betree. Ek wil weet wat die kostes sal wees vir die grootmaak van kalwers tot en met 6 maande ouderdom bv. melk bulkalwers? Wat moet my begroting per kalf wees vir poeiermelk en veeartsenykostes? Gaan hulle ’n nadeel hê as ek hulle op besproeide weiding laat loop waar kikoejoe en lusern saam geplant is.? Wat moet ek inreken vir my maandelikse water en krag en huur vir die stuk grond.

Antwoord

Voor ‘n mens kyk na die kostes wil ek net die volgende onomwonde aan jou stel: kalfgrootmaak is nie maklik nie. Dit verg toewyding, intensiewe aandag en uiterste higiëne.  

Die kostes van kalwers wissel van area tot area, vanaf R250 per kalf direk vanaf melkprodusente tot soveel as R700 per kalf op sekere veilings. Wat melkpoeier betref, kan jy begroot op een sak per kalf. Die kostes bedra R400-480/sak afhangende van soort en verskaffer. Terwyl kalwers op melk is, neem hulle ongeveer 35kg kalfaanvangsmeel of korrels in @ R2.60 /kg, dus R91.00. Begroot ‘n verdere R50 per kalf vir inentings soos kalfparatifus en pasteurella, asook dosering en antibiotika in geval van siektes soos diarree en longontsteking. Die kalf is nou 8 weke oud en die grootste koste en risiko van vrektes is nou verby. 
Om die kalf vanaf speen tot op 6 maande te neem teen ‘n aanvaarbare groeitempo op weidings benodig die kalf ongeveer 2kg kalfgroeimeel per dag vir ‘n verdere 120 dae @ R2.20 / kg , dus R528. Dip en doseermiddels behoort jou ‘n verdere R20 per kalf te kos. Uit bogenoemde berekening kan gesien word dat slegs direkte kostes, jou enige iets van R1350 tot R1600 per kalf gaan beloop. Wat nie hierby ingereken is nie, is arbeid, brandstof, huur, rente en moontlike mortaliteite.
Uit bogenoemde kan gesien word dat eers goed besin moet word oor ‘n moontlike verkoopprys, voordat daar so ‘n projek aangepak word.Wat die weidings betref, is daar met lusernweidings altyd die risiko van opblaas. Daar is middels beskikbaar om dit te? te werk. Die resultaat is egter dat diere wat gereeld opblaas nie bevredigend groei nie. Jong diere en kikoejoeweidings mag werk, mits daar ‘n intensiewe parasietbeheerprogram gevolg word. Dit het ook weer ‘n koste en winsgewendheidsimplikasie.   
Geskryf deur Dewald Vosloo en dr. Hannes Dreyer (hannesdreyer@vodamail.co.za)
7 April 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X