Vra vir Faffa

Bepaling van die gemiddelde daaglikse toename en voeromsetting van lammers en beeste in ‘n voerkraal

Vraag

Wat is die mees doeltreffende manier om die GDT en voeromsetting (VOS) van lam en bees in 'n voerkraal te meet sodat voer nie die wins weg vreet nie, maar ook nie die prestasie van die dier beїnvloed nie? Vir bees staan ons tans 60 bees in 'n kamp. Drukgang met skaal is omtrent 300m weg van kamp. Om GDT te bereken: sal dit 'n drastiese effek hê op die prestasie van die bees as mens 'n steekproef (± 5 bees) van die kamp daagliks/weekliks(?) drukgang toe jaag, weeg en dan weer terug voerkraal toe neem? (Effek van die stres van die daaglikse stres na/in drukgang.) Hoe bereken ek 'n akkurate VOS (kg inname per dag/GDT kg) met verskeie kampe? Voer word eweredig in verskeie kampe gegooi. Bees in verskeie kampe in verskillende fases met verskillende gewigte en kondisies ens.

Antwoord

Verskillende vrae word gevra wat afsonderlik beantwoord word:

Wat is die akkurate manier om GDT en VOV te meet?

Beide hierdie verhoudings is ‘n manier om die biologiese produktiwiteit of groeiprestasie van diere te meet.

Die gemiddelde daaglikse toename (GDT) word gemeet as die lewende massa wat ‘n dier oor ‘n periode toeneem en wat dan met ‘n gemiddelde syfer per dag oor daardie periode uitgedruk word. Hier word in die liggaamsmassa belang gestel en nie die massa van die rumeninhoud nie.  Die rumeninhoud van ‘n herkouer kan soveel as 10%+ van die lewende massa wees en kan die voerinname en waterinname ‘n verkeerde of skeefgetrekte GDT-syfer beteken.  Diere het gewoonlik ‘n sekere vreet- en drinkgedrag en die rumen is ‘n sekere tyd van die dag tipies met ‘n sekere massa gevul. Die lewende massa wat aan die begin en einde van die voerperiode geneem word, moet dus verkieslik dieselfde tyd van die dag wees sodat die rumenvulling en dus massa in beide gevalle dieselfde is. Die beste is om diere op leë pens te weeg. Dit is om vroeg in die oggend te weeg voor die dag se eerste voer verskaf word. Op die wyse sal slegs die lewende massa toename die akkuraatste gemeet kan word. Hier kan elke dier individueel geweeg word en elke dier se GDT kan gemeet word.

Die Voeromsettingsverhouding (VOV) verwys na die kg voer wat oor ‘n bepaalde periode ingeneem word en die kg lewende massa wat die dier oor dieselfde periode met hierdie voer gegroei het.  Aangesien die individuele inname van elke dier nie prakties gemeet kan word nie word ‘n groep diere se voerinname oor ‘n periode gemeet en dan die totale lewende massatoename  van die groep oor dieselfde groep gebruik om die gemiddelde VOV te bepaal.

‘n Belangrike aspek van VOV is die voginhoud van die voer. ‘n Voer met 25% vog sal ‘n hoër inname as ‘n voer met 15% vog oor ‘n periode toon en dus sal die 25%-voer ‘n swakker VOV toon wat nie akkuraat is nie. Die voer moet dus wat voginhoud betref, vergelykbaar wees.  Dit word gedoen deur die voer na ‘n droëmateriaalbasis (0% vog-basis) of lugdroogbasis (10% vog-basis) te verreken en hierdie voerinname te gebruik om die VOV te bereken.  Hierdie syfer kan dan met ander voer of diere vergelyk word. Bv. 15kg voer wat 25% vog (75% droëmateriaal) bevat is vergelykbaar met 15 x 75/100 = 11.25kg 100% droë voer en 15 x 75/90 = 12.5kg 90% droë voer.

‘n Verdere aspek wat die VOV grootliks beïnvloed is die verteerbaarheid van die voer.  Hoe meer ruvoer (vesel) die voer bevat, hoe swakker is die verteerbaarheid en hoe swakker sal die VOV wees.  Dit is waarom ‘n weidende dier, wat ‘n groot persentasie stadig verteerbare gras (vesel) inneem, se VOV aansienlik swakker is as ‘n voerkraaldier, waar groter hoeveelheid maklik verteerbare graan (stysel) in die voer verskaf word. In beide gevalle word aanvaar dat alle ander voedingsvereistes van proteïene en minerale wel in balans in die voer is.  Indien nie, sal dit die verteerbaarheid en dus die VOV nadelig beïnvloed.

Wat is die effek van GDT en VOV op die winsgewendheid van diere in ‘n voerkraal?

Beide hierdie verhouding het ‘n betekenisvolle effek of die winsgewendheid van ‘n produksiestelsel. Diere word gewoonlik in ‘n voerkraal gevoer totdat die regte slagmassa bereik is. Die regte slagmassa is wanneer die grootste waarde vir die dier gerealiseer kan word. Dit word bepaal deur swaarste karkasmassa, maar steeds die kwaliteit (karkasklassering) met die hoogste prys per kg. Indien hierdie punt vinniger (minder staandae) bereik kan word, dus met ‘n beter GDT, word die waarde van die dier soveel vinniger gerealiseer en kan ‘n volgende dier in sy plek gevoer word.

Die voerkoste maak tussen 40 en 50% van die totale koste van die voerkraal uit. Indien minder voer gebruik word om dieselfde karkasmassa te produseer, dus beter VOV, is die produksiekoste en dus die wins dienooreenkomstig beter. Alhoewel die genetiese vermoë van diere verskil om voer na spiermassa om te sit (VOV) is die verteerbaarheid van die voer die belangrikste faktor wat VOV bepaal – hoe beter die verteerbaarheid, hoe beter die VOV. Om hierdie rede is daar ook ‘n positiewe verband tussen GDT en VOV.  In praktyk word die beste GDT en VOV bereik met die voer wat geformuleer is vir maksimum verteerbaarheid.

Wat is die effek van hantering op die spanning wat diere ervaar en hoe beïnvloed hierdie spanning die prestasie van diere?

Spanning verander veral twee belangrike aspekte van diere wat produksie negatief beïnvloed, naamlik die normale vreetgedrag en die immuniteit van die diere.  Sodra die dier spanning ervaar, word hormone afgeskei wat oorlewing eerder as normale groei en ontwikkeling stimuleer.  Hierdie reaksie veroorsaak dat die vrywillige inname van voer betekenisvol verlaag met dienooreenkomstige swakker groeiprestasie.

Spanning veroorsaak ook die afskeiding van spanningsverwante hormone wat die immuunfunksie (vermoë om siektetoestande te weerstaan) verlaag. Die dier sal dus makliker siek word en swak presteer. Dus, hoe minder spanning hoe beter produksie.

Normale bestuurspraktyke van diere sal altyd spanning by diere veroorsaak wat nie heeltemal vermy kan word nie.  Diere pas egter goed aan en raak gekondisioneer met ‘n abnormale produksie-omgewing.  Die wyse waarop diere behandel word, bepaal wel of die dier die mens later begin vertrou. Goeie raad is om diere nie skrik te maak nie, stadige rustige bewegings en optrede wat vir die dier voorspelbaar raak. Om diere in ‘n drukgang te kry en te weeg, sal onnodige spanning veroorsaak wat tot minimum beperk moet word.  Om produksie te kontroleer, hoef net aan die begin en einde van die voerperiode geweeg te word wat minimum spanning sal wees. Vermy die nuuskierigheid om die groei dop te hou met meermale se weging.

Hoe word die VOV prakties bereken indien diere, wat in verskillende fases is, in verskeie kampe aangehou word en waar voer eweredig tussen die kampe verdeel word?

Om VOV akkuraat te bepaal, moet die voerinname en lewende massatoename akkuraat bepaal word.  Indien net die totale voerverbruik van al die diere akkuraat bepaal kan word, sal slegs die gemiddelde VOV van al die diere bepaal kan word met ‘n akkurate begin en eind lewende massabepaling van elke dier.  Daar sal dus nie tussen kampe en fases en gewigte onderskei kan word nie. Vir meer akkurate VOV-berekening kan die diere in eenvormige groepe ingedeel word per kamp en die voer wat per kamp gegee word akkuraat bepaal word. Deur die betrokke kamp se voerinname te bepaal en die totale groei van daardie kamp te bepaal, kan die gemiddelde VOV bereken word en ten minste tussen die kampe/fases/ens. onderskei word.

Geskryf deur: Dr. Kobus Swart, PhD; Pr. Sci. Nat, Dierevoeding. (kobus@mixcure.co.za)

www.mixcure.co.za

21 September 2017

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X