Vra vir Faffa

Belangrikheid van biesmelk by skape

Vraag

Ek het 'n hanslam wat nie eerste biesmelk ingekry het nie en a.g.v. daarvan nou gewrigsiektes het. Hoe kan ek in die toekoms 'n vervanging vir biesmelk aan lammers gee? (Ek het nie melkkoeie nie). Ek was onder die indruk dat die "Biomel" melk wat ek hulle gee voldoende was vir hul gesondheid.

Antwoord

Die gewrigsontsteking kan wees omdat die lam ‘n lae immuniteit gehad het weens onvoldoende biesinname wat hom meer vatbaar maak vir siektes. Die organismes wat gewrigsontsteking veroorsaak, gaan dikwels die lam binne deur die naelstring van die pasgebore lam. Daarom moet die lam se naelstring so gou moontlik na geboorte met ‘n jodiumbevattende middel ontsmet word.

Biomel (V11906) is ‘n melksurrogaat aangevul met ‘n breëspektrum-melksuurbakteriekultuur (Biorem G958) wat biologiese beskerming gee teen sekere patogene organismes, byvoorbeeld E.coli; nie-spesifieke oorsake van diarree asook diarree weens voedingsteurnisse. Indien teenliggaampies aan die lam verskaf wil word, kan Biomel-plus-kolostrum (V17060; ook geregistreer as Bioglobin G2151) as ‘n volledige biesmelkvoeding aan die lam gegee word. Die beste praktyk bly egter om ooibies te gee omdat slegs ooibiesmelk die teenliggaampies (immunoglobulienes) bevat wat die lam teen die heersende skaapsiektes beskerm, mits die ooi daarteen geënt is of aan die siektes blootgestel was.
 Die belangrikste funksies van biesmelk is (Treacher, 1973):
·       Voorsien lewensnoodsaaklike teenliggaampies om die lam te help om passiewe immuniteit teen siektes op te bou.
·       Is lakserend en gevolglik help dit om die inhoud (mekonium) van die dermkanaal met geboorte uit te skei om sodoende die spysverteringskanaal van die lam kort na geboorte te aktiveer.
·       Is ‘n gekonsentreerde bron van voedingstowwe vir die pasgebore lam om te voorkom dat hy verkluim van die koue.
·       Deur die vertering, absorbering en metabolisering van die bottervet in die bies word die liggaamstemperatuur van die pasgebore lam verhoog wat noodsaaklik is vir oorlewing.
·       Is die enigste bron van vog vir die pasgebore lam wat voorkom dat die lam ontwater (dehidreer).
Die vinnige inname van voldoende ooibies (Murphy et al., 1996), binne die eerste drie (Brown & Meadowcroft, 1990) tot vier uur na geboorte, is van lewensbelang vir lamoorlewing (Murphy et al., 1996). Onvoldoende biesinname kan tot lamvrektes aanleiding gee weens verkluiming of hitte-uitputting en ontwatering; lae weerstand teen siektes of ooie wat hulle lammers weggooi (Holst, 1997). Om te verseker dat die lam voldoende immuniteit teen siektes opbou, moet die lam ± 50 ml bies/kg liggaamsmassa binne die eerste drie uur na geboorte inneem, want daarna neem die vermoë om die teenliggaampies te absorbeer drasties af (Mellor, 1990). Lammers kan 24 uur na geboorte nie meer die teenliggaampies absorbeer nie (Umberger, 2009). Navorsing toon ook dat die vorming van ‘n band met die ooi vertraag word, al word die lam net vir die eerste twee uur na geboorte verhoed om te suip (Nowak, 1994). Lammers moet reeds ‘n uur na geboorte begin suip.
Indien ‘n lam dus op een of ander manier geen of nie voldoende ooibies inkry nie, byvoorbeeld as hy te swak is om te drink; half verkluim is; beseer is tydens geboorte; die ooi nie biesmelk het nie of die ooi die lam verwerp, moet die lam bies met ‘n maagbuis ingegee word. Bies kan verkry word deur een of twee ooie wat pas gelam het te melk. Sodra ooie begin lam, moet van die ooie gemelk word en die bies gevries word sodat ‘n voorraad biesmelk altyd beskikbaar is. Vries die bies in ysbakkies en nadat dit gevries is, moet die “gevriesde biesblokkies” in ‘n plastieksak in ‘n vrieskas, vir latere gebruik, gestoor word. Vries ongeveer 100 ml bies per plastiese sakkie. Bevrore bies moet toegelaat word om by kamertemperatuur te ontdooi en dan tot 37 °C (Mellor, 1990) verhit word deur die biesmelk in ‘n houer binne in ‘n kastrol met warm (nie kokend nie) kraanwater te plaas. Bies moet nooit direk verhit nie, want dit kan die teenliggaampies vernietig.
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, private dierevoedingskundige. 
28 September 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X