Vra vir Faffa

Behandeling van lugweginfeksie in beeste

Vraag

Hoe kan ek lugweginfeksie suksesvol in beeste behandel?

Antwoord

Die Sukses van Lugweginfeksie Behandeling in Voerkraalbeeste

 Ons gebruik onder andere antibiotika om lugweginfeksies (longontsteking) in beeste te behandel. Dit is belangrik om te besef dat antibiotika NIE die bees gesondmaak nie. Al wat die antibiotika doen, is om die bakterieë se verdeling (groei) te stop of om hulle dood te maak. Daarna is die bees op sy eie immuunsisteem aangewese om gesond te word. Hierdie insig beteken doodgewoon dat beeste hulself gesondmaak en dat die behandeling bloot ’n hulpmiddel is om kliniese sukses te behaal.
 
Wat beteken kliniese sukses?
 
Dikwels word die sukses van behandeling van beeste met lugweginfeksies (bees respiratoriese siekte, BRD-“Bovine respiratory Disease”) gemeet aan die kliniese voorkoms van die bees. Ons weet egter dat beeste wat klinies normaal voorkom, steeds littekens in die longe kan oorhou. Verder kan “kliniese tekens” nie verkoop word nie en is dit dus ’n ongeldeige maatstaf om die kostevoordeel van behandelings met mekaar te vergelyk.
 
Daar is net een geldige norm om die sukses na behandeling van lugweginfeksies (bees respiratoriese siekte, BRD) te meet. Dit is:
 
  • Die dier se GDT (gemiddelde daaglikse massatoename) na behandeling moet so na as moontlik aan die GDT van ’n gesonde bees terugkeer – d.w.s die GDT voor siekte toestand. GDT is immers die geldmakende norm vir die beesboer en dit is hieraan wat sukses gemeet moet word.
 
 
HOE kan ek verseker dat ek minder mislukkings met BRD behandeling sal hê?
 
1) Vroeg trek van siek beeste (vroeë diagnose)
 
Diere wat kliniese tekens wys, is al ten mintens 4 dae siek, so ons wil hulle so veel as moontlik help op die pad na gesondheid. Hoe vroeër ‘n diagnose gemaak word, hoe beter is die kanse dat die dier volkome sal herstel.  Enige dier wat die geringste tekens van BRD toon, moet van die res van die diere geskei word en dadelik behandel word.
 
Vroeë simptome van BRD, in volgorde van belangrikheid, sluit in:
 
  • A-sosiale gedrag:
die bees neig om eenkant te staan en toon nie normale kuddegedrag nie. Let daarop dat dit ook die eerste simptoom van baie ander toestande is en daarom is dit noodsaaklik dat hierdie bees deeglik ondersoek sal word om die oorsaak van die afwykende gedrag te bepaal.
 
  • Vinniger, soms moeiliker asemhaling: dit beteken die siekte observasie moet soggens VOOR dit warm word gedoen word, want normale beeste wat aangejaag word of warm kry sal ook vinnig asemhaal
 
  • Weiding- of voerinname: Besoek voerkrippe minder gereeld en vreet minder. Die bees lyk “dunner” as die res. 
 
Ander tekens kan ook teenwoordig wees, maar behoort nie noodwendig lukraak aan BRD toegeskryf word nie omdat gesonde beeste soms hierdie tekens wys onder spesiale omstandighede – veral in voerkrale:
 
  • Periodieke hoes is soms waarneembaar en is dikwels normaal in beeste op ‘n koue oggend.
  • Slymafskeiding uit die neus, hetsy waterig of etterig: Dit kom ook in normale beeste voor en moet versigtig saam met die gedrag beoordeel word.
  • Koors: Dit is nie noodwendig ‘n konstante teken nie. Wanneer gesonde beeste op ’n warm dag na die drukgang aangejaag word, sal hulle ook ‘n “koors” van tot 41ºC toon.
 
Praat met jou veearts om jou te help met die identifisering van siek beeste en om te onderskei tussen die simptome van verskillende toestande. Dit vereis goeie VEEVERNUF (‘stockmanship’) om ’n siek bees uit ’n trop of kraal met baie beeste te identifiseer. Daarom moet versigtige, kalm observasie eers gedoen word voordat die beeste uitgekeer word vir verdere ondersoek en behandeling, indien nodig.
 
2) Behandeling met die regte antibiotikum
 
Omdat die reputasie van die persoon wat die behandeling aanbeveel of uitvoer op die spel geplaas word deur die uitkoms daarvan, behoort drie belangrikste vereistes van ’n antibiotikum in ag geneem te word tydens die keuse van behandeling:
 
  • Spoed van werking:
 
Bakterieë se getalle verdubbel elke 20 minute in die longweefsel van ’n siek bees of skaap. Spoed van werking is dus van kardinale belang. ’n Goeie antibiotikum behoort binne 2 ure terapeutiese konsentrasies in die aangetaste longweefsel te bereik.  
 
  • Metode van werking:
 
Ons verkies ’n antibiotikum wat bakterieë doodmaak (bakterisidies) en nie net die verdeling stop nie (bakteristaties). Diere wat siek is, is reeds immuun onderdruk en die toediening van ‘n bakteriostatiese middel vereis steeds dat die immuunsisteem daarmee moet klaarspeel. Dit is essensieel om saam met bakteriedodende antibiotika ook ’n anti-inflammatoriese middel te gebruik om die weefselskade tot die minimum te beperk.
 
  • Effektiwitiet van die antibiotikum:
 
Die antibiotikum van keuse moet ten minste effektief wees teen die 4 hoof bakterie? wat ‘n rol speel tydens BRD.
 
  1. Manheimia haemolytica
  2. Pasteurella multocida
  3. Histophilus somni
  4. Mycoplasma bovis
 
TTA’s (trans trageale aspirate) is die metode waarmee vog uit longe van siek beeste versamel word om vas te stel watter patogene (siekteveroorsakend organismes) teenwoordig is. TTA’s moet aan die begin of einde van die winterseisoen gedoen word wanneer die insidens van BRD die hoogste is. Die bakterieë wat daardeur geïsoleer is, word in ’n laboratorium gekweek en aan verskillende antibiotika blootgestel om te bepaal hoe vatbaar hulle is. Hoewel hierdie metode nie die hulp wat die bees se immuunsisteem tydens behandeling verleen in ag neem nie, is dit minstens ’n betekenisvolle aanduiding. Die doeltreffendste antibiotikum moet gebruik word om sodoende verliese te help verminder.
 
3) Ondersteunende behandeling:
 
Die toediening van ’n anti-inflammatoriese middel saam met die antibiotikum verminder vorming van aanhegtings (verklewings) in die borskas. Dit verlaag ook die liggaamstemperatuur. Die bees voel vinniger beter en begin vinniger vreet. Verliese a.g.v. vertraagde massatoename word beperk.
 
Samevatting
 
Al hierdie faktore versnel die genesingsproses, wat die dier vinniger laat terugkeer na normaal.
 
Met die hulp van TTA’s kan ‘n ingeligde behandelingsplan opgestel word vir BRD en kan behandelingsukses verhoog word wat verliese as gevolg van herbehandelings en vrektes beperk.
 
Elke bees wat vrek as gevolg van te laat behandeling of behandeling met ’n minder geskikte, dikwels goedkoop antibiotikum sal die winsgewendheid van die onderneming ondermyn. Praat met u veearts om te help met ’n ingeligte besluit.
 
 
24 Julie 2010

 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X