Vra vir Faffa

B-Phemeral, drie-dae-stywesiekte entstof

Vraag

Kan u vir my inligting verskaf oor die nuwe drie-dae-stywesiekte entstof: B-Phemeral?

Antwoord

Die nuwe verbruikersvriendelike entstof teen drie-dae-stywesiekte is so pas bekendgestel. Hieronder verkyn die inligting wat op die voubiljet van die entstof B-Phemeral, verskyn:

 Slegs vir dieregebruik
 
B-PHEMERAL
(3DSS) ENTSTOF VIR BEESTE
 
Reg Nr. G 1283 (Wet 36/1947) Namibie: NSR 1513
 
Gevriesdroogde, lewende, verswakte drie-dae-stywesiekte virus vir die voorbehoedende inenting van beeste teen drie-dae-stywesiekte.
 
Bewaar die entstof by ‘n temperatuur van 4 ?C tot 8 ?C, in ‘n yskas. Moet nie die entstof na die vervaldatum wat op die bottel gedruk is, gebruik nie.
 
AANBEVELINGS VIR GEBRUIK
Beeste wat nog nooit voorheen geënt was nie behoort op 6 maande en ouer ingeënt te word met ‘n opvolgdosis
4 weke later. Volwasse diere kan ingespuit word ongeag die stadium van dragtigheid of laktasie. Jaarlikse her-inenting word aanbeveel. Indien moontlik moet inenting gedurende die laat winter of vroeë lente plaasvind.
Die entstof moet met ondersteunende insekbeheer teen Culicoides muggies toegedien word, veral gedurende hoë reënval seisoene.
 
WAARSKUWINGS
Klein plaaslike swelsels mag soms voorkom op die plek waar die entstof toegedien is. Moet nie diere binne 7 dae na inenting vir menslike verbruik slag nie. Slegs gesonde diere moet ingeënt word. Hou buite bereik van kinders, oningeligte persone en diere. Alhoewel hierdie produk breedvoerig onder ‘n wye verskeidenheid van toestande getoets is, mag dit faal as gevolg van verskeie redes. Indien dit vermoed word, raadpleeg ‘n veearts en verwittig die registrasiehouer.
 
GEBRUIKSAANWYSINGS
Gebruik slegs soos voorgeskryf. Steriliseer spuite en naalde deur dit vir ten minste 15 minute in water te kook. Moet nie ontsmettingsmiddels of brandspiritus gebruik om spuite en naalde te steriliseer nie. Indien inenting tydens ‘n uitbraak van die siekte gedoen word moet ‘n aparte naald vir elke dier gebruik word om verspreiding van infeksie te verhoed. Vermy blootstelling aan hoë temperature en direkte sonlig gedurende inenting.
Die aktiewe bestanddeel van die entstof is in die vorm van ‘n poeier of klont in ‘n klein botteltjie. Dra 5 ml van die botteltjie gemerk B-Phemeral verdunningsvloeistof oor na die botteltjie gevriesdroogde entstof. Die vloeistof moet versigtig in ‘n spuit op en af getrek word totdat die gevriesdroogde materiaal opgelos is. Dra nou die volle hoeveelheid terug oor na die botteltjie gemerk verdunningsvloeistof en meng goed deur die bottel ‘n paar keer liggies te skud. Die entstof is nou gereed vir gebruik. Moet nie meer entstof berei as wat binne een (1) uur toegedien kan word nie.
 
DOSIS:
Beeste: 2 ml onderhuids
 
UITWERKING VAN DIE ENTSTOF
Immuniteit begin na 7-14 dae ontwikkel en diere behoort na ses weke beskerm te wees maar kan egter nie in alle diere gewaarborg word nie.
 
VERPAKKING
Beskikbaar in pakkies van 10 en 50 dosisse.
 
Registrasiehouer:
Onderstepoort Biologiese Produkte (Bpk), Mpy. Reg. Nr. 2000/022686/06
Privaatsak X07, Onderstepoort, 0110. Tel: +27 (0) 12 522 1500, Faks: +27 (0) 12 522 1591
 
Inligting verskaf deur: Willie Botha (willie@obpvaccines.co.za)
 
8 Oktober 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X