Vra vir Faffa

Ammonifisering van ruvoer

Vraag

Kan dr. Jasper vir my sê of die ammonifisering van ruvoer (koringstrooi) die moeite werd is vir skaap en bees in die lig daarvan dat dit in die Wes-Kaap feitlik die volopste vorm van ruvoer is. Hawerhooi en lusern is nie altyd geredelik beskikbaar nie en moet dikwels oor groter afstande vervoer word. Baie dankie. Butch

Antwoord

Die ammonifisering van strooi met ammoniakgas verhoog die proteïeninhoud van koringstrooi vanaf die oorspronklike ± 3 % na ± 6.4 % en die verteerbaarheid van 38 % na
± 46 %. Die ekstra proteïen wat geammonifiseerde strooi voorsien, is nie-proteïenstikstof en daarom kan geammonifiseerde strooi nie met hoë ureumbevattende lekke aangevul word nie omdat dit tot ammoniakvergiftiging (ureumvergiftiging) aanleiding kan gee. Aanvullings wat saam met geammonifiseerde strooi gegee word, moet ook voldoende magnesium bevat omdat van die magnesium onbeskikbaar is weens die vorming van ‘n ammoniak-magnesium-fosfaatkompleks. Daar is ook aanduidings dat geammonifiseerde strooi spoorelementabsorpsie verlaag. Hierdie diere moet dus met Multimin gespuit word.
 

Melkkoeie wat 8 tot 9 kg geammonifiseerde strooi vreet en ‘n suiwelmeel ontvang, kan 14 tot 15 liter melk/koei/dag produseer. Vleisbeeste vaar egter die beste daarop. Lakterende vleisbeeskoeie kan met ongeveer 12 kg geammonifiseerde strooi plus Voermol Energieblok sonder geen weiding oorsomer word. Daarteenoor is dit moontlik om droë en dragtige koeie in ‘n relatief goeie kondisie te hou met onbehandelde strooi met die aanvulling van Rumevite Ekonolek of Voermol Super 18.
 
Aangesien skape, veral laatdragtige en lakterende ooie, asook groeiende lammers ‘n baie hoë deurvloeiproteïenbehoefte het, is geammonifiseerde strooi vir hulle minder werd omdat dit geen deurvloeiproteïen voorsien nie. Dit is gevolglik nie ekonomies geregverdig om geammonifiseerde strooi vir laatdragtige en lakterende ooie, asook groeiende lammers te voer nie omdat met onbehandelde strooi, lupiene, gars of mielies en deurvloeiproteïenkonsentrate uitstekende rantsoene vir hierdie klas skape geformuleer kan word. Geammonifiseerde strooi kan wel aan droë, vroeë en middragtige ooie saam met ‘n lae ureumbevattende lek soos Voermol Energieblok of Maxiblok gevoer word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
21 November 2009

Kommentaar

Een kommentaar op “Ammonifisering van ruvoer

  1. David Krynauw
    David Krynauw

    Die antwoord is korrek maar tegties. Jy wil nie jou diere vergas nie! Bou liewers baalkothuisies vir jou arbeiders en gaste en koop blaarryke lusern en goeie hooi vir jou grasvretende maatjies! Hulle sal jou beloon.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X