Vra vir Faffa

Akkerboonreste as voer vir speenkalwers en lammers

Vraag

Ek het baie akkerboonreste beskikbaar. Wat is die tipe Voermolkonsentraat of resep wat ek vir speenkalwers kan voer? Kan ek die kalwers op die land afrond met Voermolkonsentraat? Is die bone ook geskik vir skaaplammers op dieselfde wyse met ander tipe konsentraat? Ian

Antwoord

Speenkalwers

Die speenkalwers kan op die akkerboonreste afgerond word indien ‘n afrondingsmengsel aan hulle gevoer word. Voer die volgende afrondingsmengsel aan die speenkalwers op die akkerboonoesreste:
 
            200 kg Voermol SB 100
             50 kg Voermol Procon
            750 kg gemaalde mielies
         1 000 kg TOTAAL
 
Die volgende voedingsinstruksies moet stiptelik nagekom word:
·       Begin met 3 kg afrondingsmengsel per kalf per dag en verhoog dit elke derde dag met 1 kg per kalf tot ad lib.-voedingspeil (± 3 % van liggaamsmassa) bereik word.
·       Voer die afrondingsmengsel in twee gelyke porsies, naamlik die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag.
·       Sorg dat daar voldoende vreetspasie is sodat almal gelyktydig kan vreet.
·       Daar moet ten alle tye ad lib. en voldoende ruvoer (akkerboonreste) in die kampe beskikbaar wees om te voorkom dat die speenkalwers laminitis en suurpens kry.
·       Die 50 kg Procon in die mengsel kan met 50 kg gemaalde mielies vervang word wanneer die kalwers ongeveer 280 kg bereik. Indien die Procon tot bemarking ingehou word, vind ons normaalweg dat die uitslagpersentasie en dikwels ook die voeromsetting betekenisvol verbeter.
 
Vir speenlammers kan die volgende Voerkraalrantsoen in die voerkraal gevoer word:
 
            150 kg Akkerboonstrooi (maal deur 20 mm-sif)
            475 kg gemaalde mielies
            200 kg Voermol SS 200
             50 kg Voermol Procon
             50 kg Akkerbone
             80 kg Voermol Melassemeel
         1 005 kg TOTAAL
 
Speenlammers
Wanneer die Voerkraalrantsoen vir lammers in die voerkraalgevoer word, moet die volgende bestuursaspekte stiptelik nagekom word:
(1)    Voer die lammers die eerste dag slegs 100 g/lam van die Voerkraalrantsoen.
Verhoog die voedingspeil van die Voerkraalrantsoen elke dag daarna met 100 g/lam, m.a.w. Dag 2: 200 g/lam; Dag 3: 300 g/lam, ensovoorts totdat ‘n peil (ad lib.) bereik word waar hulle begin om van die voer te los (dit is gewoonlik 4.0 % tot 4.5 % van liggaamsmassa).
(2)    Voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag.
(3)    Voer ongemaalde akkerboonstrooi (-reste) eenkant ad lib. by vir die eerste 14 dae waarna dit gestaak word.
Sorg dat daar voldoende vreetspasie (± 250 tot 300 mm/lam) is sodat al die lammers gelyk kan vreet, met ander woorde moenie selfvoerders gebruik nie, want dan gaan die lammers hulle aanvanklik oorvreet wat tot laminitis, suurpens en vrektes aanleiding kan gee.
(4)    Na die aanpassingsperiode (eerste 10 dae) moet die daaglikse hoeveelheid voer verkieslik drie maal (oggend, middag en laatnamiddag) per dag gevoer word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
30 Oktober 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X