Vra vir Faffa

Aggressiewe bulle

Vraag

Ek het 11 bulle wie se ouderdomme wissel van 2 tot 5 jaar (9 Charolais, 2 Limousin, 1 Bonsmara). Die Bonsmara was die dominante bul, maar ‘n Charolais het nou oorgeneem. Al die bulle het in een kamp geloop voor dektyd. Om hulle vrugbaarheid te verhoog, het ek hulle 4 weke voor dektyd met Multimin ingespuit. Ek het al 11 bulle by 250 koeie en verse in een kamp van 135 hektaar gesit op 21 Desember 2010. Ses weke na die Multimin gespuit is (2 weke by die koeie) het die bulle agressief begin word en mekaar begin stoot en mekaar probeer afkeer van die koeie en verse af. Hulle was by die koeie van 21 Desember tot einde April. Die dragtigheidspersentasie van die koeie en verse het drasties afgeneem. Ek het nog 2 Bonsmarabulle gekoop en hulle weer by die koeie en verse gesit. Die bulle is laas in 2008 vir deksiektes en vrugbaarheid getoets. Wat kan die oorsaak wees want ek het niks verander van wat ek in die verlede gedoen het nie behalwe dat ek Multimin gespuit het. Gee my raad asb. Wilma vd Berg

Antwoord

Om so ‘n groot aantal bulle in een kamp by ‘n trop koeie te sit is nie aan te beveel nie. Verder word dit gekompliseer deurdat daar bulle van verskillende ouderdomme en verskillende rasse is. Hier is in werklikheid twee probleme :

1)    Die aggressiwiteit van die bulle en
2)    Die lae herkonsepsie van die koeie
 
Temperament
Tom Lasater, skepper van die Beefmaster het op ‘n stadium gesê : “ People don’t like wild cattle – so why breed them?”. Daar is ongelukkig nog min telers wat aandag gee aan hierdie eienskap. Alle bulle wat egter deelneem aan ‘n veldtoets onder beskerming van Veldbul SA word vir temperament getoets. Daar is altyd twee kante van die saak – aan die een kant wil ‘n mens nie bulle hê wat kop onderstebo by die koeie staan nie en aan die anderkant wil ‘n mens ook nie ‘n bul hê wat jou uit die kraal uitjaag nie. Die probleem met die aggressiwiteit van hierdie bulle klink nie vir my na ‘n werklike probleem met temperament nie en die toediening van Multimin kon ook nie ‘n effek gehad het nie.
 
Herkonsepsie
Die lae herkonsepsie kan die gevolg wees van verskeie faktore , onder andere voeding (swak kondisie van koeie met dektyd), geslagsiektes en vrugbaarheid van die bulle. Die aanbeveling is dus om dadelik die bulle te laat toets vir Trichomoniase en Vibriose. Indien geslagsiektes uitgeskakel is, kan daar na die voeding van die koeie gekyk word en dit dan regstel.
Myns insiens kan die aggressiwiteit van die bulle toegeskryf word aan die feit dat daar te min koeie op hitte gekom het en dat die bulle dus begin baklei het om die min beskikbare koeie te dek. U gebruik op die oomblik 4.4 % bulle wat in werklikheid te veel is. Verder moet onthou word dat die bulle ‘n jaar ouer is as die vorige dekseisoen en dat die dominansie orde gedurig kan verander en dat dit gereeld onder mekaar uitgesorteer word. Die groot probleem ontstaan wanneer die dominante bul onvrugbaar of laag vrugbaar is en die ander bulle dan weghou van die koeie af.
 
Aanbeveling
Doen gereeld (voor elke dekseisoen) ‘n vrugbaarheidstoets en laat bulle vir deksiektes toets.
Doen elke jaar met die begin van die dekseisoen ‘n kondisie-telling op die koeie.
Gebruik net 2,5 tot 3 % bulle en verminder die grootte van die koeitrop.
Hou bulle gedurende die dekseisoen dop om te sien of hulle wel dek.
Vermy oorvoerde bulle.
 
Geskryf deur: dr. Hannes Dreyer, Veekundige (hannes.dreyer@vodamail.co.za)
2 Augustus 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X