Vra vir Faffa

Afvalkos as dierevoeding

Vraag

Ek wil graag weet as jy afvalkosse soos bv. appels, lemoene, druiwedoppe, asook ander kossoorte het en dit word deur 'n masjien verwerk tot 'n dro? eindproduk, wat in die eindproduk moet wees sodat dit vir plaasdiere gevoer kan word? Dankie, Barend.

Antwoord

Die belangrikste aspek is om eers die verwerkte droë vrugte se voedingswaarde te bepaal deur dit volledig in ‘n laboratorium te laat ontleed. Die voedingswaarde van hierdie verwerkte produk(te) moet dan in ‘n spesiale minste-koste voerformuleringsprogram gelaai word voordat dit saam met ander grondstowwe gebruik kan word om plaasvoere te formuleer. 

Om goeie diereprestasie te verseker, kan een rantsoen nie vir alle klas diere gevoer word nie omdat hulle behoeftes drasties verskil. Die Amerikaanse handboek, NRC (National Research Council) gee die voedingsbehoeftes van verskillende plaasdiere (Nutrient requirements of sheep, beef cattle, dairy cattle, horses, ensovoorts) aan. Van hierdie inligting kan ook in die boek "Dierevoeding: van FJ van der Merwe en WA Smith (1991) verkry word. Die volgende webadres van die Veevoerwet (Wet 36/1947) gee die spesifikasies van rantsoene vir die verskillende plaasdierspesies aan (Annexure 9, bladsy 90) aan:
 
Die samestelling van ‘n rantsoen (voer) vir plaasdiere word onder andere deur die volgende faktore bepaal:
1.   Dierspesie (bees, skaap, perd, ensovoorts).
2.   Is dit ‘n aanvulling (lek) of ‘n volledige rantsoen.
3.   Fisiologiese en produksiestatus van die dier (groeiend; droog; dragtig; lakterend, ensovoorts).
4.   Die tipe weiding wat die diere bewei of is dit zero-beweiding.
5.   Die gehalte en hoeveelheid van die weiding.
6.   Seisoen van die jaar.
 
Volgens die Veevoerwet (Wet 36/1947) mag veevoerprodukte wat verkoop word, slegs deur ‘n geregistreerde voedingskundige geformuleer word. Enige veevoervervaardiger wat voere vervaardig en bemark, moet toesien dat hy oor voldoende versekering beskik indien kliënte eise, van watter aard ook al, teen hom instel.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
29 Augustus 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X