Vra vir Faffa

Afsit van honde se sterte

Vraag

Daar heers onduidelikheid oor die afsit van honde se sterte. Is dit moontlik dat ‘n deskundige op die gebied inligting oor hierdie netelige saak kan verskaf?

Antwoord

Stertamputasies in honde

Inleiding 

Vir honderde jare is mense al gewoond daaraan dat sommige honderasse kort sterte het terwyl ander lang sterte het.  Baie mense weet nie eers dat honde met kort sterte nie natuurlik so gebore is nie en dat die sterte afgesit word wanneer die hondjie nog baie jonk is. Amper alle honde word met lang sterte gebore – daar is ‘n paar uitsonderings in sekere rasse bv. sommige Australiese skaaphonde en corgi’s het van nature kort sterte. Slegs sekere rasse se sterte word roetinegewys geamputeer.  Die oorgrote meerderheid van honde word gebore met lang sterte, van tussen 6 en 23 stertwerwels lank, wat elk met ‘n reeks spiere aan mekaar en aan die sakrum (stuitjie), rektum, anus en pelviese diafragma deur middel van ligamente gekoppel is.  Hierdie fyn spiere en ligamente stel die stert in staat om fyn bewegings uit te voer – op en af en sywaarts – op die vlak van elke stertwerwel.  Saam met verskeie senuwees en bloedvate, is die stert dus ‘n komplekse orgaan wat vir belangrike funksies verantwoordelik is.

Geskiedenis van stertamputasies

Oorspronklik, in en voor die negentiende eeu, is honde se sterte vir ‘n verskeidenheid van interessante redes afgesit – daar was bv. ‘n geloof dat honde met kort sterte nie sou hondsdolheid kry nie (wat natuurlik glad nie die geval is nie) en dit was ook gebruik om honde te identifiseer as jaghonde wat nie aan die normale honde-lisensiegelde van daardie tye onderhewig was nie.  Nog ‘n rede daarvoor was vir hondegevegte – beide die ore en die sterte was afgesit omrede dit dan minder sou bloei tydens gevegte.  Georganiseerde hondegevegte is natuurlik deesdae onwettig.

So het mense gewoond geraak aan die voorkoms van sekere honderasse met hulle stomp sterte, bv. die boxer, boerboel en doberman.  Die prosedure was aanvanklik sommer deur die teler van die hondjies met ‘n skerp mes of skêr gedoen en later jare (in die tweede helfte van die twintigste eeu) het veeartse dit begin doen.  Dit was op klein baba-hondjies uitgevoer, voor hulle 5 dae oud was, weens die geloof dat as mens dit later doen, die hondjie pyn sou ervaar en die genesing van die wond ook langer sou neem.  Veeartse het die stertamupatasie gewoonlik met ‘n skerp skalpel uitgevoer en ‘n velstekie ingesit en sou dit nie graag op ‘n hondjie van ouer as ‘n week uitvoer nie.   Destyds was daar ook ‘n algemene geloof dat pasgebore mens-babas nie pyn kon voel nie en is sjirurgiese prosedures dikwels sonder narkose op babas uitgevoer.

Kan pasgebore diere pyn ervaar?

Nuwe navorsing in die sewentigs en tagtigs het egter daarop gewys dat pasgebore babas wel ‘n hoogs ontwikkelde senuweestelsel het en beslis pyn kan voel. Nuwe protokolle is opgestel vir die behandeling van babas en vandag word dit as wreed beskou om ‘n baba nie narkose te gee vir mediese prosedures nie en die behandeling van pyn in babas is deesdae ‘n gespesialiseerde studieveld in die mediese wetenskappe. Intussen het verdere studies ook bewys dat kinders wat sulke prosedures sonder pynstilling en verdowing ondergaan het, latere sielkundige komplikasies gekoppel aan die trauma ervaar het. Ander spesies (rotte, muise, honde) is ook ondersoek en daar was die uitslag dieselfde – die nuutgebore dier het dieselfde kapasiteit om pyn te voel as op enige ander ouderdom.  In lyn met hierdie bevindings, het die veterinêre beroep ook die behandeling van jong diere aangepas om pynstilling en/of verdowing (plaaslik of algemeen) toe te dien aan baba-diere wat pynlike prosedures moes ondergaan of pyn ervaar het as gevolg van siekte of besering.

Dit het duidelik geword dat die afsit van sterte van babahondjies wel traumaties en pynlik vir die diere is en dat die basis waarop daar nog altyd aanvaar was dat die afsit van sterte op ‘n jong ouderdom nie kwaad doen nie, nou verander het.  Veeartse asook telers en diere-eienaars het begin vra of dit eties korrek was om die diere aan die pyn van so ‘n prosedure bloot te stel. Heelwat veeartse, insluitende die Onderstepoort Akademiese Dierehospitaal waar veeartse en veearts-spesialiste opgelei word, het vroeg reeds besluit dat dit vir hulle eties onaanvaarbaar was om hondjies se sterte roetinegewys af te sit en het geweier om die prosedure te doen.  Die Veeartsraad is genader deur ‘n groep veeartse wat gevra het dat die prosedure as oneties verklaar moet word.  Na deeglike oorweging het die Raad toe in 2006 besluit dat die prosedure wel oneties was, omrede daar geen voordeel vir die hond is om sy stert te laat afsit nie aangesien ‘n hond sy stert nodig het en die risiko van die pyn wat die hond ervaar tydens die prosedure, asook ander probleme gekoppel aan sterte afsit, nie hierdie nadele regverdig nie.

Die koepering (Engels: “cropping”) van ore deur veeartse is reeds etlike jare tevore deur die Raad verbied.

Waarvoor benodig ‘n hond sy stert? 

Honde gebruik hulle sterte vir verskeie doeleindes en die belangrikste twee is kommunikasie en balans.  Die stert is deel van ‘n komplekse sisteem van lyftaal wat deur honde gebruik word om met mekaar asook met mense te kommunikeer.  Sonder ‘n stert kan ‘n hond minder effektief oordra dat hy vriendelik, bang of kwaad is.  Die posisie van die stert en hoe dit beweeg, gee ‘n aanduiding van ‘n hond se gemoedstoestand – ‘n stert wat gemaklik heen en weer swaai in ‘n wye boog is gewoonlik ‘n teken van vriendelikheid, maar een wat styf regop staan en met ‘n klein omvang swaai, dui op spanning en moontlike aggressie.  Bo en behalwe lyftaal, kommunikeer honde ook met feromone.  Feromone word op verskillende dele van die liggaam afgeskei om boodksappe aan ander lede van dieselfde spesie oor te dra.  Dit word deur middel van ‘n orgaan in die neus aan die brein gestuur waar dit geprosseseer word en dan tot sekere gedrag aanleiding gee.  Afhangende van die tipe feromoon en waar op die liggaam dit vrygestel word, sal dit die ander hond(e) laat veilig voel en ontspan, of bedreig voel (en dus moontlik tot aggressie aanleiding gee) of dit kan inligting oordra wat met voortplanting te doen het, bv. ‘n teef op hitte herkenbaar maak.  Een van die areas waar sulke feromone afgeskei word, is weerskante van die anus-opening.  Wanneer die stert swaai, help dit om hierdie feromone te versprei sodat ander honde dit kan  waarneem.  Wanneer ‘n hond bang is, wil hy nie graag sy teenwoordigheid verkondig nie en hou hy sy stert laag en tussen die bene, nie net om met lyftaal sy vrees en onderdanigheid aan te dui nie, maar ook as ‘n poging om die vrystelling van feromone te verberg om hom sodoende minder opmerklik te maak vir ander honde en om te keer dat hulle onder sy stert kom snuif.  Die afwesigheid van ‘n stert kan dus verskeie vorme van kommunikasie negatief affekteer en aanleiding gee tot onnodige aggressie tussen honde en teenoor mense as gevolg van wankommunikasie.

‘n Hond se balans word sterk deur sy stert beïnvloed aangesien dit ‘n verlenging van die rugstring is. Dit help die dier om effektief op vier voete te beweeg.  Wanneer ‘n viervoetige dier beweeg, het hy gewoonlik net twee pote op een slag op die grond en hoe vinniger hy beweeg, hoe korter is die tyd wat elke poot met die grond kontak maak.  Om akkuraat van rigting te verander sonder om sy balans te verloor, benodig hy die stabiliteit van die stert.  Dink aan ‘n windhond met sy lang, dun stert – as ‘n kortafstand-atleet help die stert hom om vinnig van rigting te verander – die stert dien as ‘n teenwig.  ‘n Jaghond soos ‘n labrador wat oorprsonlik geteel was om sy prooi in die water te gaan haal, benodig weer ‘n dikker, korter stert om te dien as ‘n “rudder” in die water – dit help hom ook om van rigting te verander sonder om spoed en balans te verloor. Honde wat in koue dele van die wêreld vookom, soos huskies, het baie wollerige sterte wat hulle dan gebruik om hulle gesigte warm te hou wanneer hulle opgekrul in die sneeu lê en slaap.

Watter nadelige effek het stertamputasies?

Omdat veeartse nie meer roetine stertamputasies in jong honde wil doen nie, word dit nou meer dikwels deur telers self gedoen.  As gevolg van onkunde, word die prosedure nie korrek gedoen nie en tree daar maklik bloeding en / of infeksie in – beide kan fataal wees.  Veral die gebruik van rekkies om die bloedtoevoer oor die periode van ‘n paar dae af te sny sodat die stert nekroties (vrot) word, veroorsaak baie pyn en ongemak oor ‘n lang periode van tyd en is ongetwyfeld baie wreed.

As die stertjie te kort geamputeer word, kan dit fekale inkontinensie veroorsaak, met ander woorde die hond kan nie sy ontlasting behoorlik beheer nie.  Honde met so ‘n probleem word dikwels uitgesit as gevolg van die gemors wat aanpak om die anus en afdrup waar die hond loop.

Hoekom wil mense dan nou nog sterte afsit? 

Behalwe vir die feit dat mense moeilik verandering aanvaar en so gewoond is aan die voorkoms van die dier wat tradisioneel altyd ‘n kort stert gehad het dat dit vir hulle ondenkbaar is dat sekere honde lang sterte kan hê, is daar ook ‘n ander argument ten gunste van stertamputasies.  Jaghonde soos spaniels en pointers wat in die dik bosse ingaan om prooi te vind, se sterte word soms beskadig terwyl hulle jag en moet soms afgesit word omrede stertwonde gewoonlik moeilik genees.  Daar is egter ‘n studie gedoen wat bewys dat net ‘n klein hoeveelheid honde hulle sterte so ernstig beseer dat hulle geamputeer moet word.  Vir elke hond wat so ‘n stertbesering opdoen, sou 500 hondjies roetinegewys ‘n onnodige amputasie sou moes ondergaan, as dit voor die voet gedoen word.  Die beleid van die Veeartsraad keer nie veeartse wat sterte in volwasse honde amputeer vir suiwer mediese redes nie.  Dus sal die klein persentasie honde met probleemsterte wat maklik en ernstig beseer word, of bv. gewasse op die stert ontwikkel, steeds die nodige behandeling kan kry en mag die veearts die stert amputeer in sulke omstandighede.

Ek het al die belaglike verskoning gehoor dat honde wat hulle sterte swaai op die hoogte van ‘n koffietafel, lastig is en dalk die koppies van die tafel sal afswaai.  Nou wonder ek net – as die oplossing vir so ‘n probleem is om die hond se stert se amputeer, dan moet mens seker maar kinders wat aan warm stoofplate wil vat se vingers afsit?  Dit is regtig nie moeilik om ‘n woelige hond te leer sit en wag nie, of as dit te veel moeite is, doodeenvoudig die hond iewers toe te maak terwyl daar koffie gedrink word.  Miskien moet ons sommer die honde wat so teen mense opspring se voorpote amputeer… ja, ek is nou sommer net laf, maar dit lyk vir my of mense nie werklik ‘n praktiese probleem mooi deurdink en met gesonde verstand ‘n oplossing vind nie.

‘n Ander argument het te doen met die feit dat lammers se sterte ook afgesit word en hulle oorleef dit dan.  Hou in gedagte dat die risiko’s wat met sekere skaapsoorte (die met vet sterte veral) se sterte gepaard gaan, heeltemal anders is as honde s’n en dat mens nie die twee kan vergelyk nie. Boonop is daar deesdae heelwat boere wat reeds nie meer skaapsterte wil afsit nie.

Wat sê die wet?

Klousule 2(1)(a) van die Dierebeskermingswet 71 van 1962, beskou die verminking (Engels: “maiming”) van diere as ‘n kriminele oortreding. Hierdie wet is van toepassing op almal – telers, veeartse, boere ens.  Dierewelsyns-wetstoepassers beskou stertamputasies as verminking, maar daar is verskillende opinies onder regslui oor die interpretasie van die wetgewing.  Daar is huidiglik ‘n paar gevalle aanhangig in howe en hopelik sal daar binnekort uitsluitsel verkry word oor die wettigheid van die prosedure al dan nie.  Oorkoepering word beslis as verminking beskou en ‘n paar persone is reeds skuldig daaraan bevind onder die Dierebeskermingswet.  As ‘n veearts aangekla word onder die Dierebeskermingswet, sal hy / sy waarskynlik ook by die Veeartsraad vir onprofessionele gedrag aangekla word.  Hierdie dissiplinêre verhoor geskied egter gewoonlik eers nadat die oorspronklike saak deur die howe afgehandel is.

Wat mag ‘n boer doen met sy / haar eie diere? 

Omdat ons wet nog diere as besittings beskou, mag ‘n diere-eienaar ‘n prosedure op sy eie diere uitvoer.  Sou so ‘n prosedure egter pyn en lyding veroorsaak, bv. ‘n kastrasie sonder verdowing, sou dit ‘n oortreding van die Dierebeskermingswet wees.  Dit is ‘n oortreding van die Veeartswet as ‘n boer ‘n veterinêre prosedure op ‘n ander persoon se dier uitvoer vir vergoeding.  

Gevolgtrekking 

Die enigste redes hoekom mense vandag nog roetinegewys die stertjies van jong hondjies wil afsit, is omdat dit vir hulle mooi is en hulle dit gewoond is.  Dit is selfsugtige, primitiewe redes wat nie die diere se belange op die hart dra nie.  Geen babahondjie het nodig om sy stert te verloor nie, wat ookal die wet sê.  Die pyn en moontlike komplikasies wat daarmee gepaard gaan, regverdig nie die selfsugtige redes waarvoor mense honde se sterte wil afsit nie. Sonder ‘n stert is ‘n hond se kommunikasie- en balanseringsvermoë gekortwiek en gee dit aanleiding tot verminderde lewenskwaliteit.  Ouer honde wie se stert-siektetoestande (nie ‘n algemene verskynsel nie) wel amputasie regverdig, mag sodanige sjirurgie ondergaan om hulle lewenskwaliteit te verbeter.  Kom ons dink eerste aan die diere en nie ons eie belange nie.  Sodra mens verstaan wat die belangrike rol en ingewikkelde anatomie van die stert behels, word dit iets om te bewonder eerder as om te vernietig. En waarom sal mens, wanneer die wetenskap onteenseglik bewys het dat die prosedure pynlik is, onnodige pyn aan ‘n weerlose diertjie wil toedien en aan sy natuurlike staat karring as dit geen voordeel vir die dier self inhou nie?  Dit maak nie sin in die een-en-twintigste eeu wanneer ons juis harder werk om pyn en lyding van mens en dier te verminder nie.  ‘n Stert is vir ‘n hond baie werd.

Geskryf deur:

Dr Quixi Sonntag (BVSc)(Hons)PGCHE

Lektor: Etiologie, Welsyn, Voeding, Gedragsmedisyne, Gemeenskapsbetrokkenheid

Department van Geselskapdier Kliniese Studies

Fakulteit Veeartsenykunde

Universiteit van Pretoria

Quixi.sonntag@up.ac.za

3 Februarie 2016


Kommentaar

Kommentaar (3) “Afsit van honde se sterte

  1. ou joe
    ou joe

    Wat ‘n wonderlike artikel!!!

  2. Elaine Miller
    Elaine Miller

    Ek het n poedel en hy is al ouerig en sien nie meer so goed nie en lyk of hy nou doof raak ook.
    So het hy per ongeluk onder die kar se wiel beland. Dit lyk of die stert af is.
    Sal die stert weer aangroei en ook het ek gesien dat hy sukkel met die ontlasting.
    Ek wil net weet of sal dit beter word of glad nie? Ek was maar af op die stadium. Die artikel
    het baie gehelp om te verstaan wat fout is. Ek kan net nie bepaal waar die stert af is nie.

    • Jan Bezuidenhout

      Elaine,
      Kontak asb. jou veearts. Dr. Faffa kan nie ‘n diagnose oor die internet maak nie.
      Sterkte


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X