Vra vir Faffa

Afronding van Friesbulkalwers in vergelyking met vleisraskalwers

Vraag

Ek het ‘n paar vrae oor die afronding van Friese:

Antwoord

Vraag: Kan jy Friesbulkalwers koste-effektief grootmaak sonder weiding in ’n  voerkraalstelsel van week een af?

Antwoord:  Friesbulkalwers kan ekonomies grootgemaak word van week 1 af, afhangende van die aankoopprys, die vleisprys en die voerpryse. Neem in aanmerking dat die kalf eers nog vir n tyd melk of surrogaat moet kry en dan kalfsmeel wat gewoonlik duurder is as ander voere wat later gevoer word wanneer die kalwers groter is.  Sulke jong kalwers het ook spesiale behoeftes waaraan aandag gegee moet word soos byvoorbeeld goeie higiëne , verkieslik afsonderlike hokke met geen kontak tussen kalwers om siekte-oordraging te voorkom en goeie roetine met die voeding. 

Vraag: Is dit meer koste-effektief om vleisraskalwers van ongeveer 6 maande ouderdom in ’n voerkraalstelsel sonder weiding groot te maak in vergelyking met eerste vraag?

 Antwoord: Dit kan meer koste-effektief wees, weereens afhangende van die aankoopprys en kwaliteit van die kalwers.  Sulke jong kalwers neem goedkoper aan gewig toe as daar goeie veld of weidings beskikbaar is  saam met goeie lek, as in ‘n voerkraal self.  Kalwers wat eers op ‘n later stadium in die voerkraal kom se gesondheid in die voerkraal is ook heelwat beter, mits hulle wel al die nodige entings en prosessering ontvang het voordat hulle op die veld geplaas word.

 

Vraag: Op hoeveel weke word bulkalwers ossies gemaak en het dit invloed op vleisgehalte en prys (is dit van toepassing op Fries bulkalwers en vleisras bulkalwers)?

Antwoord:  Bulkalwers moet verkieslik voor 3 maande ouderdom kastreer word.  Op ‘n later ouderdom is die trauma van kastrasie baie erger en sal dit beslis die kalf terugsit vir ‘n hele lang tyd.  Dit het wel ‘n invloed op die groei aangesien ossies beter gewig aansit as bulkalwers. Oskarkasse  het ‘n beter vetverspreidng as bulle se karkasse.  Friese neem oor die algemeen langer om slaggereed te kry as meeste vleisrasbeeste.

 

Vraag: Hoe vergelyk die prys wat jy kan kry vir ‘n Friesos op ongeveer 350 kg teenoor vleisras kalwers?

Antwoord: Die prys van ‘n Friesos op 350 kg sal heelwat goedkoper wees as ‘n vleisras bees.  Die meeste voerkrale koop nie sommer ‘n bees van 350 kg nie want hulle soek gewoonlik kalwers van 220 tot 240 kg.  ‘n Fries van 350 kg is gewoonlik nog nie naby slaggereed nie en die koopprys sal laag moet wees voordat ‘n voerkraal hom sal koop.

4 September 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X