Vra vir Faffa

Afrika-Varkpes

Vraag

Ons het onlangs gehoor van Afrika-varkpes wat uitgebreek het in twee gebiede van die RSA. Vertel my meer van die siekte.

Antwoord

Afrika-varkpes

Afrika-varkpes  (AVP) (African Swine Fever ) is ‘n hoogs aansteeklike hemorragiese siekte (siekte wat bloedings veroorsaak) van varke, vlakvarke, Europese en Amerikaanse wildevarke. Alle ouderdomsgroepe is ewe vatbaar.

Met die vorm van die siekte wat hoogs siekteverwekkend is, word die volgende waargeneem: hoë koors, verlies aan eetlus, bloeding in die vel en inwendige organe en die dood tree ongeveer  na 2 tot 10 dae in. Mortaliteit kan so hoog as 100% present wees.

Organisme

AVP word deur ’n DNA-virus van die familie Asfarviridae veroorsaak.

Die siekte is ook deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) gelys

en moet aan die OIE Terrestrial Animal Health Code gerapporteer word.

Verspreiding van die siekte 

AVP kom endemies voor in lande van sub-Sahara en in Europa net in Sardinië (Italië). Om te sien waar die siekte voorkom kan die volgende webadres besoek word:

http://www.oie.int/wahis/public.php?page=home 

Oordraging en verspreiding

Vlakvarke (Phacochoerus aethiopicus) , bosvarke (Potamochoerus sp.) en reuse bosvarke (Hylochoerus meinertzhageni ) kan as natuurlike reservoirs van die Afrika-varkpesvirus (AVPV) dien sonder dat hulle siektetekens wys. Gashere wat siektetekens wys, is die gedomestikeerde vark (Sus domestica), die Europese en Amerikaanse wildevarke. Bosluise van die genus Ornithodoros (sagte dopbosluise), O. moubata, word beskou as die natuurlike geleedpotige gasheer en daar word gespekuleer dat die Afrika-varkpesvirus eintlik ‘n virus van geleedpotiges is en dat die soogdierspesies eintlik “toevallige gashere” is.

https://www.google.co.za/search?hl=af&site=imghp&tbm=isch&source=hp&biw=1037&bih=604&q=Ornithodorus+moubata&oq=Ornithodorus+moubata&gs_l=img.12…1510.11484.0.14312.0.0.0.0.0.0.0.0..0.0….0…1ac.1.64.img..0.0.0.pOZBxSmL3p0

Bronne van die virus:

  • Bloed, weefsel, afskeidings en ​​uitskeidings van siek en dooie diere
  • Diere wat van óf akute of chroniese infeksies herstel, kan draers van die virus word; veral in Afrika wilde varke en in die gedomestikeerde varke in ensoötiese gebiede (gebiede waar die siekte voorkom).

Oordraging van die virus:

Direkte oordraging van siek na gesonde diere.

Indirekte oordraging van die virus:

  • Voeding van vullis wat besmette vleis bevat (AVPV kan vir 3 tot 6 maande besmetlik in ongekookte varkprodukte bly)
  • Biologiese draers- sagtedopbosluise van die genus Ornithodoros
  • Fomiete soos besmette persele, voertuie, implemente en klere
  • Oordraging in bosluise – transstadiaal, transovariaal en deur seksuele oordraging
  • Bytende vlieë 

Publieke gesondheidsrisiko

AVPV is nie besmetlik vir mense nie.

Kliniese siektetekens van AVP

Die erns en verspreiding van die letsels wissel volgens virulensie van die virus.

Ernstige gevalle van die siekte word gekenmerk deur hoë koors en vrektes binne  2-10 dae na infeksie opgedoen is. Die vrektesyfer kan so hoog as 100% wees. Ander kliniese tekens kan die volgende insluit: verlies aan eetlus, depressie, rooiheid van die vel van die ore, maag en bene, asemhalingsnood, braking, bloeding van die neus en rektum en soms diarree. Aborsies mag die eerste tekens in ‘n uitbreek wees.

Die minder virulente vorme van die AVP lewer minder ernstige siektetekens op al kan daar nog 30 tot 70% vrektes voorkom.

Siektetekens van chroniese AVP sluit die volgende in:

gewigsverlies, onderbroke koors, respiratoriese tekens, chroniese velsere en gewrigsontsteking.

Diagnosering van Afrika-Varkpes

AVP kan vermoed word op grond van kliniese tekens en word bevestig deur voorgeskrewe laboratoriumtoetse. Dit is veral belangrik om AVP te onderskei van Klassieke Varkpes.

Voorkoming en beheer van AVP

Afrika Varkpes is ‘n staatsbeheerde siekte en daarom sal die staat die bestuur van die uitbreek behartig.

Daar is geen entstof tot op datum om varke voorkomend in te ent nie. Aangesien die siekte deur ‘n virus veroorsaak word, is daar ook geen behandeling vir siek varke nie.

In lande waar die siekte nie voorkom nie, word ‘n streng invoerbeleid gevolg om te voorkom dat besmette lewende varke of hulle produkte ingevoer word. Dit sluit afvalkos uit vliegtuie, skepe of voertuie wat uit besmette lande kom of aangedoen het, in.

In endemiese gebiede is dit moeilik om die virus in reservoir diere (vlakvarke) te beheer. Dit is ook belangrik om te verseker dat die vleis van vlakvarke of besmette diere  nie vir vatbare varke gevoer word nie.

Alle suksesvolle uitwissingsprogramme berus op die vinnige diagnose, uitslag van alle varke op die besmette perseel, deeglike skoonmaak en ontsmetting en bewegingsbeheer van varke.

Bronne:

http://www.oie.int/doc/ged/D13953.PDF

http://www.oie.int/fileadmin/Home/eng/Animal_Health_in_the_World/docs/pdf/Disease_cards/AFRICAN_SWINE_FEVER.pdf

http://www.oie.int/index.php?id=169&L=0&htmfile=chapitre_asf.htm

http://www.oie.int/fileadmin/Home/eng/Health_standards/tahm/2.08.01_ASF.pdf 

List of Reference Laboratories:

www.oie.int/en/our-scientifi cexpertise/reference-laboratories/ list-of-laboratories/

List of Collaborating Centres:

www.oie.int/en/our-scientifi cexpertise/collaborating-centres/ list-of-centres/

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

29 Junie 2016

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X