Vra vir Faffa

Abnormaliteite in pasgebore lammers

Vraag

Ek kry so af en toe ’n pasgebore lam by wie die kloutjies van die voorbene omgebuig is. Wat kan die oorsaak wees?

Antwoord

Abnormaliteite in lammers is ‘n algemene verskynsel in Suid-Afrika. Daar kom verskillende  misvormings voor. Artrogripose (stywe, gebuigde gewrigte in die bene) is een van die tipiese misvormings wat dikwels gesien word. Die misvorming word dikwels geassosieer met belemmerde beweging van die fetus in die baarmoeder. Dit mag die gevolg wees van ‘n breindefek wat bv. veroorsaak is wanneer dragtige ooie ingeënt word met gemodifiseerde lewende entstowwe (bv. bloutong) tydens vorming van die lammetjie se brein. Daar mag ook ander oorsake wees wat beweging van die fetus in die baarmoeder beperk. As gevolg van hierdie beperking op beweging, trek die pese van die fetus saam wat tot die toestand van artrogripose mag lei.

  • Genetiese defekte: Sommige kongenitale  (wat in die baarmoeder ontwikkel) word in ingeteelde diere gesien: breindefekte, gesplete verhemelte, papegaaibek (te lang bokaak)/ visbek (te kort onderkaak) en artrogripose. As meer as een van hierdie abnormaliteite in lammers in ‘n kudde  waargeneem word en/of rekordhouding aantoon dat ‘n spesifieke ram gebruik is om met sy kleindogters of agterkleindogters te teel, moet vervangingsramme aangekoop word om verdere gevalle te voorkom. 
  • Virusse: Waar virusse betrokke is, sal daar ook ander  misvormings  of probleme soos kifose of skoliose (gebuigde ruggraat), misvormde skedel en opmerklike breindefek teenwoordig wees. Die ooi mag ook tekens van siekte getoon het tydens die eerste of tweede trimester asook lewerdefekte soos in die geval van Slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte. Virusse wat geїmpliseer is, sluit die bloutongvirus (alhoewel dit gewoonlik die gevolg van inenting met die bloutonentstof eerder as die veldvirus is), Slenkdalkoorsvirus, Wesselsbronsiektevirus, ander virusse van die Simbugroep (bv. Akabanevirus), Middelburgvirus en die Schmallenburgvirus (lg. is nog nie hier  in Suid-Afrika gediagnoseer nie, maar beteken nie dat die virus hier voorkom nie. Dit is dikwels baie moeilik om die virus wat betrokke is te diagnoseer omdat die infeksie ‘n paar maande tevore in die ooi voorgekom het, voordat die lam met die abnormaliteite gebore is.

Die teenwoordigheid van teenliggaampies (in die ooi) van ‘n sekere virus beteken nie   noodwendig dat dit die oorsaak van die misvorming is nie. Die blootstelling van die ooi aan die virus kon voor of na die aantasting van die lam plaasgevind het. Daar is wel toetse beskikbaar wat kan help om die “waarskynlikheid” dat ‘n spesifieke virus betrokke was, vas te stel.

  • Inenting met enige gemodifiseerde lewende entstof, veral gedurende die eerste of tweede trimester, kan misvorming in lammers veroorsaak. Dit het met die ontwikkeling van die fetus te doen. In die eerste en tweede inenting in die laaste trimester mag eerder aborsies as kongenitale misvorming tot gevolg hê. Gedurende die eerste en tweede trimester vind ontwikkeling van die fetus plaas terwyl groei in die derde trimester plaasvind met al die organe en sisteme al klaar ontwikkel. Boere moet dus al hulle data van bv. dek- en immuniseringsdatums noukeurig op datum hou sodat vasgestel kan word waaraan die fetusse dalk blootgestel was. 
  • Giftige middels kan ook abnormaliteite veroorsaak – weereens as dragtige ooie gedurende die eerste en tweede trimester van dragtigheid blootgestel is.  Boere moet let op waarskuwings wat op etikette van middels aangebring is (veral bosluis- en  wurmmiddels, antibiotika en ander voorskrifmedisyne) rakende gebruik tydens dragtigheid. Maak ook seker dat alle ander produkte soos bv. onkruiddoders, plaagbeheermiddels en motor- en trekkeronderhoudsprodukte so gestoor word dat diere nie toegang daartoe het nie. 

Dit is belangrik om ten minste te probeer om die oorsaak van die kongenitale misvorming vas te stel veral as daar ‘n gereelde voorkoms plaasvind sodat korrektiewe aksie gedoen kan word. Dit mag insluit dat ‘n spesifieke ram uitgeskot moet word, reskedulering van die tyd van inenting of dat ‘n ander produk gekies moet word.

Die beste is om jou plaaslike veearts betrokke te kry sodat hy/sy jou kan help om die regte monsters te neem vir verdere diagnostiese toetse.

Geskryf deur: Dr. Rhoda Leask

BScAgric, BVSc, MMedVet(CaprOv), Dip. ECSRHM

Fakulteit Veeartsenykunde

Departement van Produksiediere studies

Universiteit van  Pretoria

Rhoda.Leask@up.ac.za

14 Augustus 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X