Vra vir Faffa

Aartappelverbouing afgewissel met aangeplante weidings

Vraag

Ek is tans besig met die beplanning van ’n besproeiingsprojek langs die Okavangorivier teen die grens van Angola. Ons beplan om hoofsaaklik aartappels te produseer, maar ook ander gewasse soos mielies, koring en uie. ’n Sekere gedeelte van die projek sal egter spesifiek vir aartappelproduksie en veral vir die produksie van siekte- en virusvrye aartappelmoere gereserveer word. Die gedagte is om die lande waarop aartappels verbou word, af te wissel met aangeplante weidings vir ’n aantal jare voordat daar weer teruggekeer word na aartappels. Ek soek tans inligting omtrent aangeplante weidings. Die grond is ’n sandgrond met ongeveer 94% sand en maksimum temperature kan 38°C bereik en minimum temperature tot -3.5 °C. Ek verneem graag watter tipe grasse of weidingsgewasse u sou aanbeveel vir die toestande en min of meer watter opbrengste behaal sal kan word met besproeiing en goeie bemesting. Ons beoog om die weidings te bewei en sal meerjarige weidings verkies, maar as eenjarige weidings of voergewasse ’n beter opsie is, sal dit sterk oorweeg word. Uit die aard van die saak sal ’n kort aanbeveling oor tegniese aspekte van bewerking, bemesting en bestuur baie waardeer word. Verder sal dit ook vriendelik wees as u dalk ’n aanduiding kan gee van die ekonomiese aspekte soos hoeveelheid diere (beeste) per hektaar (ha) per jaar, gewigstoenames en moontlike kostes betrokke by aangeplante weidings. Die reënval is in die orde van 550 tot 600 mm per jaar wat strek vanaf Oktober tot einde Maart/begin April. Ons sal die weidings besproei om optimale opbrengs te kry. Baie dankie by voorbaat en ek sien uit na u terugvoering. Staal Burger, (sjburger@iway.na)

Antwoord

1.Volgens inligting in die vraag verskaf, bestaan  die lande wat onder aangeplante weidings moet kom uit 94% sand. Maksimum temperature kan 38 °C bereik en minimum temperature kan so laag as minus 3.5 °C daal. Aangeplante weidings sal vir ’n aantal jare verbou word, voordat daar weer teruggekeer word na aartappelverbouing op hierdie lande. Eenjarige weidings of voergewasse is ook ’n opsie. 

Jul klimaat en  besproeiing laat toe om ’n wye keuse gewasse aan te plant. Die 94% sand plaas egter ’n beperking op die keuse.
 
Somergrasse
 
1.1 Borseltjiegras (Anthephora pubescens)
Sonder besproeiing sou ek hierdie gras “met toe oë” aanbeveel. Dit is hiper smaaklik en lewer goeie diereproduksie. Dit is aangepas in lae re?nvaltoestande en die produksie is dus nie hoog nie. Onder besproeiing kry dit egter roes en verdwyn. Maar as daar ’n droëland kol is, probeer gerus borseltjiegras.
 
1.2 Rhodes gras (Chloris gayana)
Hierdie gras word deur baie tabak- en tamatieboere in wisselboustelsels gebruik. Die redes: dit vestig vinnig, dit is aalwurm weerstandbiedend en dit het slegs ’n lewe van 5 – 7 jaar (dus malik om uit te ploeg).
 
1.3 Witbuffelsgras (Panicum maximum)
Baie smaaklike gras, maar hou nie van onvrugbare grond nie. Onder normale toestande sou dit nie goed op sulke sand (wat geloog is) doen nie, maar jy praat van goeie bemesting, wat dit sal laat werk.
 
1.3 ’n Mengsel van Rhodes en Witbuffel behoort ook goed te werk.
 
1.4 Bloubuffelsgras (Cenchrus ciliaris)
’n Sterk kandidaat! Hierdie gras is aangepas onder ’n wye reeks van omstandighede. Dit is veral geskik vir warm en droë toestande, maar het al bewys dat produksie drasties kan vermeerder met besproeiing.
 
Ek dink tog dat daar ook ’n plek vir eenjariges is, veral as mens net ’n twee jaar rus wil toepas.Sou twee soorte aanbeveel, wat baie hoë produksie lewer en selfs droëland by julle kan doen:
  • Eenjarige voersorghum kultivar Kow Kandy
  • Baster babala kultivar Hypearl millet
 
Vir die winter kan eenjariges soos hawer (kultivar Witteberg) en stoelrog (kultivar LS 35 & LS 62) ook oorweeg word.
 
Jy noem ook dat die mikpunt is om organiese materiaal te verhoog. Die voersorghum en baster babala met hul hoë produksie en uitgebreide wortelsisteme kan goed hiervoor werk.
 
Daar word ook twee eenjarige peulgewasse hiervoor aangewend: Sonhemp en Serradela. Laasgenoemde is veral geskik vir sandgrond, maar beide is nie baie geskik vir weiding nie – hoofsaaklik groenbemesting.
Kow Kandy + Sonhemp word in Zamia in mengsel geplant om kuilvoer te maak
 
2. Opbrengste met besproeiing en goeie bemesting
 
3. Drakrag per ha per jaar, gewigstoenames en moontlike kostes betrokke by aangeplante weidings
 
4. Aanbeveling oor tegniese aspekte van bewerking, bemesting en bestuur
 
Bogenoemde 3 punte word aangespreek in die opsommings wat volg:
 
BORSELTJIEGRAS (Anthephora pubescens)
Kultivars: Gewone
                Kompeterende kultivars: Wollie
 
Reënval behoefte: 400 mm +
 
Eeienskappe:
·         Baie smaaklike blaarryke weiding en uitstekende winterweiding as staande hooi.
·         Plant Oktober tot Februarie in koue areas en tot Februarie/Maart in warm areas asook lande met baie onkruid.
·         Ideale gras vir baie droë gebiede met lae reënval. kan roes kry as reënval te hoog is.
·         Verkies ligte sanderige gronde, doen nie goed op kleigronde nie.
 
Saaidigtheid: onverpil: 4-6 kg/ha
                      verpil: 5-8 kg/ha
 
Hooi/hay: Nie geskik
 
Weikapasiteit:
  2 – 5 ha / GVE. (GVE=Grootvee eenheid)
 
RHODESGAS: (Chloris gayana)
 
Kultivars: Katambora (soms is Boma ook beskikbaar)
 
Reënval behoefte: 550 mm +
 
Eienskappe:
 
·         Smaaklike weiding en maak baie goeie hooi.
·         Ontkiem vinnig en vestig maklik – is die ideale gras om met ander grasse wat stadig vestig, te meng. Ideale dekgewas vir oorlê lande en erosiebekamping.
·         Plant in piek reëntye byvoorbeeld Oktober/November en Januarie/ Februarie.
·         As Rhodesgras te hard gewei word, is sy leeftyd net 3-7 jaar. Indien slegs vir hooi gesny word, is leeftye van tot 20 jaar al verkry.
·         Doen goed op meeste gronde – selfs brak en versuipgrond.
 
Saaidigtheid: onverpil: 4-7 kg/ha
                        verpil: 6-9 kg/ha
 
Hooi: 6 – 12 t/ha
Weikapasiteit:
 1 – 2 GVE / ha
 
WITBUFFELSGRAS: (Panicum maximum)
 
 Kultivars: Gatton (soms is Green Panic beskikbaar)
           Kompeterende kultivars: PUK 8
 
Reënval behoefte: 550 mm +
 
Eienskappe:
 
·         Smaaklike hoë kwaliteit weiding. Baie goeie staandehooi en kan selfs groen bly in die winter, in ryp-vrye areas. Maak moeilik hooi (te veel materiaal, maar kan goeie kwaliteit hooi lewer).
·         Plant in piek reëntye byvoorbeeld Oktober/November en Januarie/ Februarie.
·         In lae reënvalgebiede plant in wye rye (2 m rye).
·         Gee besondere hoë produksies onder besproeiing.
·         Medium tot hoë jaarlikse kunsmistoediening is noodsaaklik om hoë produksies en oorlewing te verseker (veral in sandgrond).
·         Rooigronde (Hutton tipes) is die beste, redelik op swaar gronde, maar vermy sandgrond.
 
Saaidigtheid: onverpil: 3-7 kg/ha   
                      verpil: 5-9 kg/ha
 
Hooi: 6 – 14 t/ha
 
Weikapasiteit:
 1 – 2 GVE / ha
 
BLOUBUFFEL (Cencrus ciliaris)
 
Kultivars: Molopo
                  (blou-grys-groen, baie gehard, maar word minder smaaklik as volwasse)
                Gayndah
                  (liggroen, verkies rotasiebeweiding, blaarryk en smaaklik)
 
Reënval behoefte: 450 mm +
 
Eienskappe:
·         Goeie weiding en hooigewas en behou sy kwaliteit selfs in winter.
·         Plant vanaf Oktober tot Februarie, in koue areas, tot April in warm areas.
·         Droogtebestand – sal in lae reënval gebiede groei (300 – 400 mm).
·         Lewer hoë produksies onder besproeiing.
·         Bewei of sny wanneer 60-90 cm hoogte bereik. Die gras kan stokkerig word as dit lank uitgroei en nie kort gehou word nie. N- en P-bemesting is noodsaaklik om smaaklikheid te behou (mis werk ook).
·         Alle grond tipes behalwe sand (wit of ligte sand) gronde.
 
Saaidigtheid: onverpil: 4-6 kg/ha
                      verpil:5-8 kg/ha
            
Hooi: 4 – 12 t/ha
 
Weikapasiteit:
 0,8 –  1,6 GVE / ha
 
VOERSORGHUM (Sorghum spp.)
 
      Standaard kultivar: Kow Kandy
 
            Kompeterende kultivars: Sentop, Supergraze, PAN 888, Multicut, ens.
      Verbeterde tipes: Hygro graze BMR en Kow Kandy BMR
 
            Kompeterende kultivars: Sugargraze, sweetfeed en ander BMR tipes.
 
Reënval behoefte: 500 mm +
 
Eienskappe:
·         Uitstekende weigewas (beeste begin wei op 70-10 cm, skape op 50cm).
·         Goeie hooigewas. Sny voor dik stingels vorm (50-70cm hoogte).
·         Uitstekende kuilvoergewas (Kow Kandy en BMR tipes) en goeie staande hooi (BMR tipes).
·         Plant na 15 Oktober tot Desember in koue gebiede en Januarie/Februarie in warm gebiede. Met later aanplantings in die noorde, vermy lig sensitiewe kultivars – ander sal meer massa gee, maar sal ook gou saad produseer.
·         3 tot 4 snysels of weisiklusse is moontlik. BMR kultivars kan 1 of 2 keer gewei word en dan uitgegroei word vir staandehooi in Junie/Julie.
·         Voersorghum doen goed op sand tot klei grond, maar vermy versuipgrond.
 
Saaidigtheid: droëland (baie droog) – Kow Kandy BMR 12.5kg/ha en Hygro graze BMR 6 tot 8 kg/ha, gemiddelde reënval – Kow Kandy 25 kg/ha en Hygro graze BMR 12,5kg/ha.
Besproeiing – 25kg en meer / ha.
 
Kultivar
Beeste
Produksie
Voor-
Laag
Hoog
 
keur
kg/ha
kg/ha
Hygro graze BMR
1
4320
7450
K Kandy BMR Imp
2
3570
10020
K Kandy BMR
3
8010
10100
Sugergraze
6730
10980
 
 
BASTER BABALA (Pennisetum hibried)
 
Standaard kultivar: Hypearl millet
     Kompeterende kultivars: Speedfeed, Milkstar, Nutrifeed
 
Reënval behoefte: 500 mm +
 
Eienskappe:
·         ‘n Puik, vinnige weiding met hergroei vermoë, een van die beste groen weidings as dit vroeg geplant word. Geen blousuur nie – ‘n ideale weiding vir  bees, skaap, bok en perd.
·         Plant na 15 Oktober tot Desember in koue areas en Januarie in warm areas.
·         Indien te laat plant – stoot dit gou blomstele. Ignoreer dit of sny af. Hergroei is stadiger na Februarie, plant dus vroeg. Kan na 4 -5 weke begin wei (30 – 50cm hoogte) en kan hergroei na 3 tot 4 weke weer wei.
·         Doen goed op sand tot kleigrond, maar vermy versuipgronde.
 
Saaidigtheid: droë land 3-5 kg/ha 
                      besproeiing 5-8 kg/ha 
          
Hooi: 3 – 12 t/ha
 
Weikapasiteit/Grazing capacity:
 1.0 –  1,5 GVE / ha
 
HAWER: (Avena sativa) 
 
Twee tipes hawer is in die handel beskikbaar: – lentegroeiers en  wintergroeiers.  Kortliks:  Lentehawer is vinnig na vestiging gereed vir beweiding, maar kom ook vroeg (mid-winter) in saad (2 weidings en dan saad produksie). Winterhawer vestig stadiger, maar gee meer wei-siklusse (3 en meer siklusse) en produseer saad eers laat in die winter of herfs.
 
Kultivars :
        Lentehawer:  Overberg
                         Kompeterende kultivars: Heros / Pallinip / Perdeberg ens.
        Winterhawer:  Witteberg
                         Kompeterende kultivars: Maluti / Drakensberg / SSH 423
 
Reënvalbehoefte: 650 mm + (Goeie herfs rn)
 
Eienskappe:
·         Baie smaaklike groen weiding vir die winter of lentemaande.  Maak ‘n goeie hooi en kan ingekuil word.
·         Hoof plantseisoen is Januarie tot April.  In koue areas kan in September / Oktober ook geplant word.
·         Onder droëland-toestande moet goeie vogbewaring voor plant toegepas word.  Reageer goed op besproeiing.  Rotasieweiding is noodsaaklik.
·         Doen goed op meeste grondtipes.
 
Plantdigtheid: Droëland:  50kg/ha
                       Besproeiing:  50 – 75 kg/ha
 
ROG OF STOELROG: (Secale cereale)
 
Die rogtipes word in 3 groepe verdeel (kort-, medium- en langgroeiers), maar ons konsentreer net op kort- en langgroeiers.
 
Reënvalbehoefte: 650 mm + (Goeie herfsrn)
 
Eienskappe
·         Smaaklike weiding met meer volume en ‘n hoër produksie as hawer.  Lewer ‘n goeie hooi en kuilvoer en die saad kan gestroop word as ‘n konsentraatvoer.
·         Hoofplanttyd vir kortgroeiers April/Mei en die langgroeiers Februarie tot April, in koue areas, en Maart tot Mei in warm areas.  Beide kan ook September/Oktober in koel areas geplant word. Sou kortgroeier na die winter geplant word, gaan dit vinnig oor na saadproduksie. 
·         Kortgroeiers groei meer regop as die langgroeiers. Rotasieweiding (kampe) is die beste.
·         Doen goed op meeste grondsoorte, maar verkies ligte sanderige grond, met goeie voghouvermoë.
Plantdigtheid: 25 – 50 kg/ha
 
 
 PIENK SERRADELLA: (Ornithopus sativus)
 
Kultivar: Emena
 
Reënval behoefte: 850 mm + (Verkieslik besproeiing)
 
Eienskappe:
 
  • Word meestal vir groenbemesting op sandgrond gebruik
  • Kan ook redelike versuiptoestande oorleef
  • Dit verskaf relatief goeie weiding
  • Lewer ‘n goeie, hoë kwaliteit weiding as dit in ‘n mengsel met hawer, stoelrog of raaigras geplant word.
 
Plantdigtheid:
Alleen 25 – 35 kg/ha
In ‘n mengsel 15 – 25 kg/ha
 
Geskryf deur: prof. Chris Dannhauser, weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za)
 
14 November 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X