Vra vir Faffa

Aansteeklikheid van bakterieë wat absesse vir mens en dier veroorsaak

Vraag

Hoe aansteeklik is die bakterieë, wat absesse in diere veroorsaak, vir mens en dier?

Antwoord

Onlangs het daar briefwisseling t.o.v. absesse in bokke en wild plaasgevind. Ek plaas dit hieronder.

Brief  van ‘n wildboer

Ek wil graag my ondervinding met die boerbokbedryf met u deel.

Ek het my beesboerdery omgeskakel na ‘n wildsboerdery.

Die wild kon egter nie die gras vinnig genoeg opeet nie en ek het besluit dat boerbokke die antwoord is.

Baie versigtig het ek die bokboerdery benader en begin deur vir my ‘n paar goedkoper stoetbokke te koop want ek wou seker maak dat ek nie siektes en probleme in my wild inbring nie.

Ek het verder gegaan en by ‘n stoetboer vir my ‘n klomp kommersiële  ooie gekoop en dit aan hom genoem dat ek die bokke by hom koop omrede ek wil seker maak dat ek nie probleme inkoop nie.

Gevolglik het ek ‘n premie betaal.

Groot was my skok toe ek na 2 weke uitvind dat die knoppe op die diere “Coryne-bakterie” genoem word en dat dit hoogs oordraagbaar was.

In my onkunde het ek geglo dit is maar dorings wat in die vel afgebreek het en nou uitsweer.

Inteendeel ek het dit ook so  aan die stoetboer genoem.

Hy het my egter nie probeer reghelp nie.

Ek het 3 veeartse genader in die hoop dat ek ‘n oplossing kon kry.

Antwoord was kort en kragtig: “Wil jy met wild of bokke boer”

Ek het die stoetboer genader en hy was nie bewus dat die knoppe “coryna-bakterie” was en so oordraagbaar is nie.

Nou hoop ek maar my wild het nie aangesteek nie.

Miskien kan julle, julle lede beter oplei.

My plaaslike veearts deel my mee dat hy al vir 4 jaar sukkel om dit uit ‘n boer se beeskudde te kry nadat dié aangesteek het.

Ek het my bokke tydelik geskuif en ek gaan seker slagwaarde kry vir hulle as ek hulle verkoop.

Dit is hoe mens vinnig geld verloor.

My doel met die skrywe is om so veel as moontlik boere in te lig oor die gevaar wat die bakterieë  vir mens en dier inhou.

Antwoord :

Goeie dag, ek wil jou bedank vir jou skrywe en besorgheid oor ons bedryf.

Eerstens wil ek dit onder jou aandag bring dat dit boerbokbeleid is dat geen dier met ‘n abses, groen of ryp , op enige veiling onder beskerming van die Boerbokvereniging, aangebied mag word nie .

Tweedens  is daar baie min plase in S.A. wat nie besmet is met coryne nie en moet ek erken dat ek van geen gevalle weet waar mense aangesteek is nie . Ek self boer al 26 jaar met bokke en wild en my familie al sedert 1850 op dieselfde grond. Ek het vele absesse oopgemaak en dreineer en nog geen simptome of newe-effekte getoon nie. Ek het al hier en daar ’n wildsbok gekry met ’n abses, maar dit was by ‘n besering wat die dier opgedoen het en nog geen gevalle by my beeste nie, wat my die hoogs aansteekbaarheid daarvan laat bevraagteken .

Ek hoop dat ek jou tot ‘n mate kon gerus stel en daarmee wil ek jou ook die versekering gee dat ons as boerbokraad erns met die saak maak.

Antwoord:

Skape en bokke kry beide Corynebacterium pseudotuberculosis en Trueperella [Arcanobacterium, Actinomyces, Corynebacterium] pyogenes.

Die oorlewingstydperk vir Corynebacterium pseudotuberculosis is  vasgestel op meer as ‘n jaar [sien boek oor Infeksiesiektes deur Koos Coetzer], en T. pyogenes sal soortgelyk wees. Volgens my ondervinding het dit vir maande oorlewe.

Beide bakterieë moet deur die vel dring [beserings veroorsaak deur dorings, bosluise, bytende vlieë, doringdraad, snywonde tydens skeer, inspuitings, ens.], of d.m.v. slymvliese die liggaam binnedring. Naelstringinfeksie kom baie algemeen voor in besmette beeskuddes. Die longslymvlies is ook ‘n bron – besmette skape wat snags of tydens skeertyd gekraal word, hoes en die ander asem die bakterieë in en word daardeur besmet. Die bakterieë kan ook in die dermkanaal lewe en dring die liggaam binne deur die letsels van knoppieswurm en ander wurms.

Long- en naelstringinfeksies word veroorsaak deur direkte kontak en die ander is indirek. Die bakterieë kan bv. vir maande op ‘n doring bly lewe.

Mense is relatief bestand teen beide infeksies en word selde aangesteek.

Ek werk nou al 44 jaar in veeartsdiagnostiek [Onderstepoort en nou Idexx], en diagnoseer jaarliks al hoe meer gevalle van beide infeksies in ons plaasdiere en wild.

C. pseudotuberculosis kan, na omtrent 4 jaar van deeglike inenting, behandeling van alle absesse, uitskot van besmette diere en streng higiëne die voorkoms op ‘n plaas verlaag. Sulke intensiewe behandeling is nie moontlik met wild nie.

Die T. pyogenes entstof is minder effektief en selfs as al die bg. riglyne gevolg word, is dit baie moeiliker om van so ‘n infeksie op ‘n plaas ontslae te raak.

Geskryf deur; dr. Marijke Henton,  BVSc, MMedVet(Bakt), Idexx laboratoriums (maryke@idexxsa.co.za)

Besoek ook:

hulp.landbou.com

Klik op Indeks van antwoorde

Rol af na Beeste asook na Skape en bokke

Klik op Siektes

Klik op Absesse

https://hulp.landbou.com/vra-vir-faffa-indeks/

27 Februarie 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X