Vra vir Faffa

Aangeplante weiding vir wild in Messina-omgewing

Vraag

Ons besit 'n wildsplaas in Messina nader aan Tshipise en soos u weet is dit 'n baie warm area en water is maar skaars as jy weg van die groot damme en riviere is. Ons het 'n paar boorgate , maar nie baie sterk nie. Die plaas is so 500 ha groot , met 'n verskeidenheid van veld: van rantjieveld , na grasvlakte , na digte mopanieveld. Ons wildsgetalle is besig om op te tel ( verskeie spesies o.a elande , blouwildebeeste , koedoe , waterbokke , njala , rooibokke , bos- en vlakvarke , gemsbokke en rooihartbeeste) , en intussen probeer ons ook 'n gemengde boerdery aan die gang te kry. Daar is so 35 Dorper skape , 3 perde en ons wil nou ook 'n paar beeste aankoop. Elke rand moet maar twee keer gedraai word voor hy gespandeer kan word. My vraag is dit: ons het weiding of voer nodig , wat sal die geskikte aangeplante voer wees vir die warm , waterskaars area? Ek het 'n baie interessante artikel gelees oor Sericea lespedeza - "Armmanslusern" Wat my die meeste getref het was " Lespediza is 'n droogtebestande , nie-opblaas , selfsaaiende, meerjarige peulplant wat met sy diep penwortelstelsel aanpas by 'n wye reeks van grondtipes." Is dit die regte plant vir ons area? Eet wild grasvreters hom ook of is dit net vir skape en perde en beeste? Hoeveel water benodig die plant? Hoeveel saad gaan 'n mens benodig vir 'n ha of twee? Waar koop 'n mens die saad aan? By ons is die beste tyd om maar aan te plant - Maart / April. Wanneer moet jy hom sny? Kan jy hom baal soos lusern? Wat is sy leeftyd? Groete Pieter van Zyl

Antwoord

Armmanslusern is teoreties ‘n goeie keuse. Die een problem met die peulgewas is dat hy sy blare afgooi met enige stres (koue of droogte). Byvoorbeeld in koue gebiede het dit geen blaar in die winter nie (dit lyk soms of die plante totaal verdwyn het), maar herstel weer in die somer.  Dieselde sal gebeur tydens droogtes.  

Ek wil dus liewers ‘n grasgewas soos Bloubuffelsgras, onder besproeiing, aanbeveel. Dit sal in julle wêreld besproei  moet word. Ek het vir jare lank op Messina proefplaas probeer om Bloubuffel en Borseltjiegras te vestig (onder droëland) met min sukses. ‘n Ander alternatief, wat dalk duurder gaan wees, is om Bloubuffelhooi aan te koop. Daar is boere langs die Limpopo (Alldays) wat goeie hooi onder besproeiing produseer.
 
Ek wil ook aanbeveel dat daar gekyk word na die belading op jul plaas. Ons weet daar is in die somer genoeg vir die blaarvreters, maar dat hul soms in die winter gevoer moet word. Die grasvreters moet altyd in die winter gevoer word. Daar is ‘n goeie Meestersgraadstudie deur Braam Dekker in die gebied gedoen.
Laat weet gerus as ons verder kan help.
 
Geskryf deur: prof. Chris Dannhauser (chriswei@vodamail.co.za)
 
19 September 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X