Vra vir Faffa

Aangeplante weiding vir bokke op Noordoewer

Vraag

Ek wil met bokke boer langs die Oranjerivier. Ek het 6 ha binnegrond wat ek kan vloedbesproei en 12 ha klipperige buitegronde wat ek ook kan besproei, indien ek water sou pomp. Ek beplan om die verste 4 ha met oumansoutbos te beplant, wat onder drupbesproeiing in klipgrond staan. Die vloedgronde het ek met lusern beplant, maar die vloed van die jaar het dit laat versuip. Ek is bang om weer 'n meerjarige gewas te plant omdat die rivier weer so hoog mag styg. Wat stel u voor kan ek daar plant om deur die jaar kos vir die diere te gee. Ek wil graag elke stukkie grond benut om tussen 250 en 300 bokke te voed. Dankie vir die raad. Japie

Antwoord

 

 
  1. Die Oumans Soutbos onder drup is ‘n goeie plan.
  2. Lusern hou nie van “nat voete” nie. Binne watter vloedlyn (10, 50 of 100 jaar) lê die land? ‘n Gras wat wel lang versuiptoestande kan oorleef, is Langswenkgras. Dit is ‘n koelseisoengras en ek hoop dit sal jul hitte in die somer kan verdra. Gereelde besproeiing sal help. Ek heg ‘n beskrywing aan.
  3. Vir die somer kan Bloubuffelgras verseker gebruik word. Dit kan versuiptoestande vir kort tye hanteer, maar nie so goed soos Langswenkgras nie.  
 LANGSWENKGRAS: (Festuca arundinaceae)
Kultivars:
     Amelie (hele SA) en Emmeraude (Oos-Kaap)
 Kompeterende kultivars:
          Ferugo, Dovey, AU Triumph ens.
Reënvalbehoefte: 850 mm + (verkieslik besproeiing)
·         Baie goeie weiding, maak ‘n uitstekende staande hooi en hooi. Dit kan ook ingekuil word. Op sy smaaklikste voor saadstadium.
·         Plant April/Mei (Maart in koue areas), asook in September/Oktober indien daar geen onkruide teenwoordig is nie. Die gras is baie gevoelig vir onkruidkompetisie.
·         Vermy te kort beweiding gedurende die warmste maande, vir die res van die jaar puik weiding. Kan droëland, in vleie en in hoë reënval (800mm) areas geplant word, maar doen baie goed onder besproeiing.
·         Doen goed in leem tot swaar kleigrond en kan versuip toestande vir redelike tye oorleef.
 
Plantdigtheid: 20kg/ha.
             Hooi: 8 – 16 t/ha
             Weikapasiteit: 3.5 GVE/ha
Geskryf deur: prof. Chris Dannhauser, weidingskundige. (chriswei@vodamail.co.za)
14 Maart 2011
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X