Vra vir Faffa

Aangeplante weiding op sandgrond in Waterberge, Limpopo

Vraag

Ons boer teen die Sandrivier aan die voet van die Waterberge in die Limpopo-provinsie. Ons boer met 'n kommersiële beeskudde. Ons beoog om vertikaal uit te brei en wil permanente aangeplante weiding onder spilpunt besproeiing vestig. Ons het huidiglik raaigras geplant as groenvoer en winterweiding. Die grond is baie sanderig. Die natuurlike weiveld is goeie suurveld met hoë drakrag. Op 'n diepte van so min of meer 1m is daar ouklipbanke. Die banke is redelik ondeurdringbaar vir grondwater. Die gevolg is dat ons redelik baie water moet spuit om die gras aan die lewe te hou, maar omrede dit sandgrond is, wat nie kleipartikels bevat om die water terug te hou nie, loop die water vinnig verby die graswortels en bou dan op bo-op die ouklip so 1m diep. Die profiel is dus nat tot so op 100-200mm, dan is dit redelik droog en dieper bo-op die klipbanke is dit sopwaternat. Ons wil eerder permanente weiding hier vestig. Ons is egter onseker oor watter tipe gras ons moet plant wat bestand gaan wees teen moontlike versuiptoestande as dit weer normaal reën. Die plan is om die gras vir die eerste jaar of wat maar te laat bewei en dan daarna oor te skakel na sny en baal. Ek hoor graag van kundige mense met goeie voorstelle.

Antwoord

Dit is werklike moeilike grond wat jul het, maar ek sou drie grasse voorstel:

Kweekgras (Cynodon dactylon) word deur baie as ‘n onkuid beskou, spesifiek in die Waterberge, omdat dit in snaakse omstandighede aangepas is.

Dit sal selfs onder droëland toestande by julle groei as dit reg bemes word. Dit is nie ‘n tipiese hooigewas nie omdat dit nie hoog groei nie.

Rhodesgras (Chloris gayana) is smaaklike gras wat in die Waterberge groei. Dit is goed aangepas op verskillende gronde. Dit groei in vleigronde en selfs braktoestande. Dit maak  uitstekende hooi en is ook ‘n goeie weigewas. Een baie pertinente aanbeveling is dat dit nie korter as 10 cm gewei moet word nie. Die groeipunte van die gras is bo grondvlak wat dit dan gevoelig vir oorbeweidimg maak. Het al ‘n stand gesien wat 17 jaar oud was, wat nooit korter as 10 cm gewei was nie.

Vir die winter kan Langswenkgras (Festuca arundinacea) aangeplant word, dit word koel in die winter by julle en dit sal goed oorleef daar. Dit groei ook in Thabazimbi en Louis Trichardt in Limpopo. Dit is ‘n gras wat “nat voete” vir so lank as 10 – 14 dae kan oorleef, maar moet besproei  word vir die beste produksie as jou watertafel daal. Dit groei ongeveer van Maart tot November aktief. Dit bly groen in die somer, maar produksie is laag want dit is ‘n koelseisoen gewas.

Geskryf deur: Prof. Chris Dannhauser, Weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za)

21 Augustus 2016

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X