Vra vir Faffa

Aangeplante weiding in Oos-Vrystaat

Vraag

Ek boer op 290ha in die Oos-Vrystaat, distrik Reitz, met vleisbeeste. Daar is ongeveer 40 ha ou lande wat meer as 6 jaar gelede bewerk was. Dit is nou begroei met slangbos en ‘n mengsel van grassoorte wat klaarbyklik nie goeie voedingswaarde het nie. Ek oorweeg om droëland weiding daarop te vestig. Wat sal die beste kultivar (of mengsel van gras en bv. peulgewasse) wees om aan te plant om vir my vroeë lenteweiding te gee en ook goeie hooi (verkieslik maar nie noodwendig staande hooi nie) vir die winter?

Antwoord

Ek aanvaar dat daar ‘n goeie saadbed voorbereiding beplan word, om ontlsae te raak van die bestaande plantegroei. Die teenwoordigheid van slangbos wek kommer, want bewerking kan dit vermeerder. Maar daar is ook positiewe opmerkings te maak rondom die bewerking:

  1. Direkte sonlig (soos op ‘n goed bewerkte land) benadeel die ontkieming van slangbossaad.
  2. Jong slangbosplante (kleiner as 400 mm) kan met beessout gedood word teen 100 kg/ha of 1 teelepel sout per bos.
  3. Groter slangbosse kan met Molopo onkruiddoder bestry word teen 2 tot 4 ml per bos, afhangende van die grootte.
  4. Hierdie aanbevelings is van prof. Hennie Snyman van die Universiteit van die Vrystaat, wat een van die beste kenners van slangbos is.  (snymanha@ufs.ac.z)a

Die keuse van die grasse om te vestig, lê tussen ‘n Oulandsgras/tefmengsel of ‘n Smutsvinger/Rhodesgrasmengsel.  

Die Oulandsgras/tef vestig gewoonlik baie vinnig en is ook daarvoor bekend dat dit vroeg in die lente beskikbaar is vir benutting. Dit is ook ‘n uitstekende kombinasie vir hooimaak. Die tef is eenjarig en verdwyn natuurlik vanaf die tweede jaar.

Saaidigtheid: Reënval 650-850 mm: breedwerpig: 2-4 kg Oulands + 4-6 kg teff/ha

 

Smutsvinger/Rhodes is ‘n smaaklike kombinasie. Die Rhodes vestig vining en kan verdwyn na 5 tot 7 jaar, waarna Smutsvinger oorbly. Dit is goeie weiding, hooi en staandehooi gewasse.

 

 Saaidigtheid: Reënval 650-850 mm: rye: 4 kg Smutsvinger + 4 kg Rhodes/ha

 

Geskryf deur: prof. Chris Dannhauser, weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za)

 

17 Desember 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X