Vra vir Faffa

Aangeplante weiding in die Vaaldriehoek

Vraag

Ek het ‘n 8.5 hektaar plot in die Vaaldriehoek wat ek pas gekoop het. Die eerste fase van ontwikkeling soos boorgat en huis en krale en drade is byna verby. My plan is om 1 hektaar kampe te maak met aangeplante weiding sodat die skape elke week in ‘n ander kamp kan loop. Ek het Dorpers. Ek het nodig om ‘n balans te kry tussen voervloei en gehalte ruvoer vir die skape gemik op prestasie d.w.s. vinnige groei vir bemarkingsdoeleindes. Ek is steeds van plan soos ek nou doen om ekstra voer en lekke te verskaf. Watter mengsel van gras stel u voor? My plan is om twee hektaar vir weiding te los in die winter, Wat aard in daardie area wat ek kan plant vir die winterseisoen?. Waar kan ek sulke mengsels of aanbevole mengsels bekom? U hulp sal waardeer word. Groete, Gideon Raath

Antwoord

Ek help graag, gee asb vir my die volgende inligting:

  1. Watter oppervlakte kan u besproei?
  2. Wil u ‘n aanteelkudde hou en slaglammers verkoop?
  3. Is daar enige vorm van weiding op die oomblik?
  4. Het u ondervinding van gras plant?
  5. Wil u net laat bewei of dalk hooi en/of kuilvoer maak?
 
Groete
Prof Chris
 
Inligting deur Gideon Raath
 
Antwoord vraag 1:
Ek sal aanvanklik vloedbesproeiing moet toepas omdat ek nog nie die nodige toerusting het nie. Ek moet nog ‘n dammetjie opsit .
Ek knoop huidig gesprekke aan om aangrensende grond te huur vir winterweiding vir volgende jaar om radyse in Jan- Feb 2011 te plant.
 
Antwoord vraag 2:
Ja
 
Antwoord vraag 3 :
Ek voer tans bale lusern en bale Smutsvinger en het nog twee ronde grondboonbale. Die weiding is ou smutsvinger lande wat deur dekgras oorgeneem is. Vaalbossie steek nou kop uit.
 
My plan is om met ‘n skeurploeg die ou harde lande se kors te breek so vannaf middel Augustus om sodoende kalk te strooi.
 
Antwoord vraag 4:  
Nee, maar behalwe die roller het ek al die toerusting in my fase een gekoop. En kundigheid kan bekom word van ‘n landboukundige vriend van my.
 
Antwoord vraag 5:
Wei op omtrent 6 hektaar en twee hektaar vir hooi en kuilvoer, mits ek nou die ander grond vir winterweiding kry.
 
Antwoord deur prof. Chris:
 
Die bestaande ou Smutsvingerweiding wat deur dekgras en die “vaalbossie” ingeneem is, sal volledig hernu moet word.
Die rip en kalkstrooi klink na die regte begin. (Het ‘n grondontleding aangedui dat die pH van die grond laag is?)
Daarna sal goeie saadbedvoorbereiding moet geskied.
Na die rip sal ‘n ploeg moet volg en daarna fyner bewerkings met ‘n dis of tandimplement.
“n Ferm, fyn saadbed is noodsaaklik. Fosfaat sal ook met hierdie laaste bewerking ingewerk moet word volgens grondontledingsresultate.
Vir somerweiding sal ek ‘n mengsel van Smutsvinger-, Rhodes- en Witbuffel aanbeveel.
Hierdie mengsel kan met beperkte besproeiing goed produseer en kan selfs droëland toestande oorleef. Besproeiing vir ontkieming sal goed wees, indien moontlik.
Onder besproeiing kan van die Kweekkultivars ook goed vir skape wees.
Kikoejoe is ‘n derde alternatief… maar net met genoeg besproeiing, kraalmis of kompos en die regte bemesting.
Vir die lente en herfs sal Langswenkgras (onder besproeiing) goeie produksie lewer. Dit is meerjarig en het goed op Potch gedoen, so sal by julle ook.
Vir die winter kan Eenjarige Raaigras (onder besproeiing) of van die wintergrane soos stoelrog of hawer (minder bespoeiing) geplant word.
Ek voorsien dat daar altyd hooi vir ‘n voerbank moet wees. Dit kan dalk weens die beperkte oppervlakte aangekoop word.
Laat weet asb. indien nog inligting verlang word.
 
Geskryf deur: prof. Chris Dannhauser (chriswei@vodamail.co.za)
 
21 Augustus 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X