Vra vir Faffa

Kriptosporidiose – ‘n protosoїese siekte in mense, diere, reptiele en visse

Vraag

Daar kom al hoe meer gevalle van diarree in lammers en kalwers voor waar kriptosporidiose as bydraende infeksie gediagnoseer word. Vertel my meer van die besmetting.

Antwoord

Kriptosporidiose word veroorsaak deur ‘n protosoa van die genus Cryptosporidium en is gewoonlik ‘n onopsigtelike infeksie in ‘n groot verskeidenheid van diere, visse, reptiele en mense.

Daar mag ook kliniese gevalle voorkom deurdat letsels, veroorsaak deur die organisme, in die dermkanaal kan voorkom met gevolglike diarree. Hierdie besmetting kom veral voor in pasgebore diere en waar diere se immuunstelsel onderdruk is. Die besmetting is ook ‘n soönose wat beteken dat die besmetting van diere na mense oorgedra kan word.

Cryptosporidium spp. is kleiner as koksidia en voltooi hulle lewensiklus in die dermkanaal se epiteelselle. In jong diere word die lewensiklus in 3 tot 4 dae voltooi en is korter as die van koksidia. https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/koksidiose-in-bokke-skape-en-beeste/

Epidemiologie In diere kom die infeksie die algemeenste in kalwers voor, maar word ook gevind in varke, lammers, bokkies en immuunonderdrukte vulletjies. Uitbreke van kliniese siekte kom meestal voor gedurende die een tot 4 weke ouderdom. Kalwers met diarree skei so veel as 10 miljoen oösiste (lyk soos baie klein eiertjies) per gram mis uit, wat die omgewing besmet. Hierdie oösiste word ook in die mis van diere wat subklinies (diere wys nie siektetekens nie) besmet is, gevind. Oösiste is baie weerstandig teen omgewingsfaktore, maar die oorlewingsperiode van die oösiste buite die gasheer is onbekend. Gechloriniseerde water het weinig effek op die organisme en  kriptosporidiose is dan ook ‘n groot publieke gesondheidsprobleem deurdat die parasiete wateroordraagbaar is. Onder eksperimentele toestande is die besmetlikheid verloor nadat water gestoor is vir 6 maande by 4 grade Celcius.

Oordraging Oordraging geskied deur die inname van oösiste in besmette kos of water terwyl aërosoloordraging ook kan plaasvind. Lg. is bevestig deurdat lugweginfeksies ook gevind is. Diere wat genoegsame gamma globulien bevattende kolostrum ingeneem het, behoort minder vatbaar vir infeksie te wees. Herstel van diere met kriptosporidiose vind gewoonlik binne 30 dae plaas. Daar is gevalle gerapporteer waar Cryptosporidium die enigste oorsaak was waar diere ‘n diarree gehad het, maar gewoonlik kom die parasiet saam met ander dermpatogene soos rotavrus, coronavirus, Salmonella serovars en E. coli voor. Hierdie gesamentlike infeksies verhoog die mortaliteitsyfer. Erge stresfaktore soos bv. koue mag die vrektesyfer verhoog. Waar die immuniteit van diere onderdruk word, is die kliniese tekens, wat deur Cryptosporidium veroorsaak word, ook hoër. Erge infeksies is gerapporteer in Arabierperdvullens wat gely het aan die immuniteittekortsindroom binne die eerste maand na geboorte. Mense kan die siekte opdoen deur kontak te maak met besmette mense en diere en is ‘n algemene oorsaak van diarree wanneer gereis word. Dit is nog nie duidelik of besmette mense diere kan aansteek nie.

Siekteverloop Cryptosporidium spesies het ‘n aansienlike uitwerking op die membraangebonde verteringsensiemes wat veroorsaak dat daar swak vertering van voedsel plaasvind. Swak opname van voedingstowwe vind plaas omdat die villi van die derm se grootte afneem. Behalwe in baie jong diere is die infeksie gewoonlik onopsigtelik of mild. Die inkubasieperiode na aanvanklike besmetting varieer gewoonlik twee tot sewe dae. Diarree kom voor tussen een en 4 weke oudedom en duur gewoonlik een tot 4 weke lank. Aantastingsyfer is gewoonlik hoog, maar vrektesyfer laag. Die aanvang van kliniese siekte is gewoonlik skielik en tekens is min of meer dieselfde in al die spesies. Diere is depressief en wil nie vreet nie waarna  daar ’n erge geel waterige diarree voorkom met ontwatering van die dier. Parsing mag voorkom. Na ‘n paar dae wat die siekte verloop het, kom diarree  met tussenposes voor.  Die konsistens van die mis is nog papperig vir tot 10 dae. Gewigsverlies  is opmerklik. Terugslag mag ook na aanvanklike herstel voorkom.  Varke mag opgooi. Meeste diere herstel spontaan behalwe waar komplikasies met ander besmettings soos reeds hierbo genoem gesamentlik voorkom. Erge kroniese besmetting kan in immuunonderdrukte diere voorkom.

Diagnose en onderskeiding van ander siektes (differensiële diagnose) Diagnose word gemaak wanneer daar baie oösiste in die mis van jong diere met kliniese tekens  gevind word. Smere van die mis word gemaak, gefikseer in metanol en gekleur met die gemodifiseerde Ziehl-Neelsen of safranienmetode. Monsters word van die dermkanaal geneem en na ‘n laboratorium gestuur vir histologiese ondersoek. Dit is belangrik dat daar ook vir ander siekteveroorsakende oorsake gesoek word (E. coli, rotavirus, coronavirus, salmonellose en koksidiose) wat saam met Cryptosporidium kan voorkom. https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/e-coli-in-diere/

Voorkoming en Beheer In meeste gevalle is die siekte selfbeperkend. Dit is belangrik om die besmetting simptomaties te behandel veral vir dehidrasie en elektrolietvervanging waar erge diarree voorkom. Probleme geskied veral waar infeksies soos bv. E. coli en Salmonella Tipes gelyktydig met Cryptosporidium voorkom. Daar is ’n publikasie waar decoquinate (Deccox 6%, Zoetis, G3282) vir die vermindering van oösiste in die mis van kalwers en lammers in die voer gebruik is teen ‘n dosis van 2,5 mg/kg vir 3 weke. Voorkom en verminder die inname van oösiste deur jong diere in ‘n skoon droë omgewing groot te maak. Mis moet gereeld verwyder word en diere met ‘n diarree moet geїsoleer word. Oösiste is weerstandig teen baie ontsmettingsmiddels maar kan vernietig word deur blootstelling aan 5% ammoniakoplossing of 10% formalien. Geen geregistreerde entstof is tans beskikbaar nie.

Vir foto’s van Cryptosporidium in herkouers besoek: https://www.google.co.za/search?hl=af&biw=1036&bih=527&site=imghp&tbm=isch&sa=1&q=Cryptosporidium+in+ruminants&oq=Cryptosporidium+in+ruminants&gs_l=img.12…11531.18018.0.19754.0.0.0.0.0.0.0.0..0.0….0…1c.1.64.img..0.0.0.TPJS5bmIY7w Lees ook: https://en.wikipedia.org/wiki/Cryptosporidium

Bronne: J.A.W. Coetzer and R.C. Tustin. 2004. Infectious Diseases of Livestock. Oxford Universitiy Press. ISBN 0 19 576171 5 Bremner, B and Richard, A. Practical uses of decoquinate to control cryptosporidiosis infection in sucked calves by medicating the cow diets pre and post calving in Scotland. Proceedings XXVI World Buiatrics Congress Chile: p 312

Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

26 November 2016

Lees ook:

https://hulp.landbou.com/wp-admin/post.php?post=93618&action=edit


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X