Regskenner

Wat doen ek om ‘n serwituut te verhoed?

Vraag

My buurman kry op 'n Nie gereelde basis drinkwater by my uit 'n bestaande pyplyn wat water op my eiendom uit 'n bergstroom keer en tot langs sy eiendom strek.Tot 12 jaar gelede het my pa en sy pa 'n ooreenkoms gehad en is die water aan hulle verkoop teen 'n vagestelde bedrag per jaar.My en sy pa is albei oorlede en die betrokke buurman het op 'n tyd finansieel swaar gekry en kon nie die bedrag betaal nie daarna het die betaling vir die afgelope 12 jaar agterwee gebly. Nou my vraag,hoe kan ek verhoed dat hierdie guns wat ek aan my buurman bied, deur aan hom water ,ongeveer 2 keer per maand, en in tyd van oorvloed om sy dam te vul,'n serwituut word? Moet ek hom laat betaal?Moet ek 'n geskrewe ooreenkoms met hom aangaan wat my vrywaar van 'n verpligting.Moet ek met hom die ooreenkoms aangaan of met die eienaar van die eiendom.Hy het 'n seun wat waarskynlik die eiendom sal erf.Sal so 'n ooreenkoms verval indien die huidige eienaar te sterwe kom of bly dit bindend op die eiendom.Die buurman vra 90% van die kere of hy kan water kry,maar daar is gevalle waar hy net die kraan oopdraai en dan die water gebruik om sy drinkwater tenke vol te maak.Groete

Antwoord

Indien die reg deur die bure om water vanuit die pyplyn te bekom, vir ‘n periode van 30 jaar of langer in gebruik is, behoort die buurman hom op die vestiging van ‘n serwituut te kan beroep, wat in die Aktekantoor geregistreer kan word.

Indien sy eiendom nie self toegang tot die bergstroom vir die onttrekking van water het nie, en hy dit slegs via u eiendom kan bekom, sal hy moet aanvaar dat hy daarvoor moet betaal en die terme daarvan sal tussen die eienaars gereël word indien dit nie reeds in plek is nie.

In ‘n geval soos hierdie is die registrasie van ‘n serwituut met al die voorwaardes en terme van gebruik en betaling ensovoorts, in die Aktekantoor wenslik. Omdat hy die gebruiker van die water is, sal die eienaars waarskynlik besluit dat hy die koste ten opsigte van registrasie van die serwituut moet dra. Omdat hier twee eiendomme ter sprake is; naamlik die een wat water voorsien en die ander wat dit gebruik, sal die hele aangeleentheid tussen die twee eienaars van die eiendomme gereël moet word.

Indien ‘n serwituut reeds ná 30 jaar gevestig het, is dit die aangrensende eiendom wat daarop geregtig is, en nie die pa of die seun nie, en bly dit, soos u dit stel, “bindend” op u eiendom. Dit verval dus nie na die pa of seun se dood nie.

Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur van Bill Tolken Hendrikse ingelyf, in Bellville. butch@billtolken.co.za

9 Februarie 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X