Regskenner

Regte by ‘n serwituut-pad

Vraag

Ek wil graag weet wat is die regte van 'n serwituut pad?. Ek besit 'n hoewe al vir agt jaar die grond pad wat ons gebruik voorsien 4 verskillende eienaars toegang tot hul eiendom. Die persoon wat oorkant my bly wat nie eers die pad gebruik vir toegang tot sy perseel nie, keer alle ontwikkeling af wat na ons gedeeltes toe kom. Hy reken die pad is in sy grondgebied en hy het die serwituutt daarvan. Bv. word daar altyd gesê hy het die sê op die pad en hy sal besluit wat en wie die pad gebruik en daar mag ook nie vore gegrawe word vir water en riool aansluiting nie. Maar ons moet die pad nog instand hou ook, wat ek elke keer alleen erf. En as een van die hoewes op die pad wil ontwikkel keur hy dit summier af. Ek sal dit hoog op prys stel as u my in die verband kan advies gee.

Antwoord

Waar grond onderverdeel word en kleinhoewes geskep word, is dit duidelik dat dit nie kan geskied sonder dat daar toegang in die vorm van ‘n pad, of reg van weg, ook ‘n serwituutpad genoem, ten gunste van die kleinhoewes geregistreer word nie.

Die owerheid (Minisipaliteit) stem toe tot die skepping van kleinhoewes, maar as een van sy onderverdelingsvoorwaardes vereis hy dat daar ‘n serwituutpad geregistreer moet word wat toegang vir die kleinhoewes tot die grootpad gee. Hierdie reg van weg, of serwituutpad, word dan meestal in die kleinhoewe se kaart- en transportakte opgeneem en geregistreer.

Ná die eienaar van die kleinhoewe nou registrasie daarvan by die Aktekantoor in sy naam verkry en eienaar word, kan hy te enige tyd in sy kaart en transportakte gaan lees en hy sal die verwysing na sy serwituut/reg van weg daar sien. Dan word sy kleinhoewe die HEERSENDE eiendom genoem, en die grond waaroor die serwituutpad loop, word die DIENENDE eiendom genoem. Die rede vir hierdie beskrywings spreek vanself. Jy kan dan nou vir altyd – ook die eienaars wat na jou eienaars word – die serwituutpad gebruik met volle regte sonder enigiemand se inmenging of toestemming.

Hierdie serwituut kan nie van jou weggeneem word nie en dit is ‘n baie sterk geregistreerde reg. Die eienaar van die dienende eiendom het nou geen beheer meer oor jou gebruik van die serwituutpad nie. Jy moet egter die serwituutpad onderhou en jou gebruik daarvan op ‘n beskaafde manier (civiliter modo) uitoefen, sonder om die grond waarop/waaroor dit loop, te benadeel/beskadig. Hy kan egter nie glad nie “besluit wat en wie die pad mag gebruik nie”.

As die owerheid destyds ook ‘n diensteserwituut (water/riool) se registrasie op dieselfde area vereis het, sal slote daarvoor wel gegrawe mag word. Normaalweg sal die owerheid ‘n diensteserwituut teen die grense van die kleinhoewes vereis en dit sal waarskynlik ook so in jou transportaktes geregistreer wees. Dan sou jy wel geen slote en vore in die pad mag grawe nie. Jou kaart en transportakte sal al hierdie inligting vir jou gee.

Ten opsigte van voorgenome ontwikkelings het alle aangrensende eienaars die reg om besware in te dien, maar op die ou end sal slegs besware aanvaar/gehandhaaf word wat werklik goeie redes aanvoer en aangrensende eienaars wat slegs “difficult” is se besware word normaalweg verwerp. Die aangrensende eienaar besit nie ‘n reg om ontwikkeling “af te keur” nie , want die owerheid beslis daaroor en nie hy wat die dienende grond se eienaar is nie.

Geskryf deur Butch van Blerk, ‘n regsgeleerde van Kaapstad. Sy e-pos is: butch@billtolken.co.za

Lees ook: Wanneer word ‘n pad ‘n serwituut-pad?

21 Mei 2010


Kommentaar

Kommentaar (6) “Regte by ‘n serwituut-pad

  1. Andre van Vuuren
    Andre van Vuuren

    Ek het ‘n geval waar die dienende eienaar klippe aan die kante pak en kamstig tuin maak sodat slegs een voertuig op ‘n slag daar verby kan gaan.
    Hobbels is gemaak wat aanvaarbaar is, maar nou ry die motorfietse op ‘n Sondag middag heen en weer daaroor.
    Die saak draai nou al reeds nege jaar en die geleerdes en die howe luister en doen nie.
    Die kleinhoewes bestaan al reeds 25 jaar. My vraag is net by kla ons dat iets omtrent die onregverdigheid gedoen kan word. Dankie

  2. ina rochat
    ina rochat

    More
    Ek wil net weet op n serwituut pad wat is die max spoed wat jy mag ry
    Dankie

  3. Tienie Fourie
    Tienie Fourie

    Ek wil ook n vraag vra asb. N serwituut loop deur my grond na nog een persoon toe. Mag ek die serwituut op enige deel van my grond laat deurloop solank hy sy woning kan bereik? Ons is nuwe kopers van die grond en tans ry hul in die middel van my grond deur en dit maak dit vir my moeilik om dinge wat ek wil doen op daai grond te kan doen. Die pad is so 800meter deur my grond.

    • Jan Bezuidenhout

      Mnr. Butch van Blerk antwoord:
      ‘n Serwituut reg van weg, synde ‘n serwituutpad, kan verlê word indien die gebruiker daarvan instem tot die verlegging daarvan. Indien die verlegging geensins die gebruiker benadeel nie, kan u by hom aandring dat die serwituut verlê word na ‘n gebied wat nie die middel van u grond skei nie. Sulke aangeleenthede is die beste om by wyse van onderhandeling en bespreking op te los. U moet nie sy reg van weg versper, byvoorbeeld toespan, indien daar nog nie ‘n ander geskikte roete gebou is nie. U sal dan sy besit versteur en die hof sal u gelas om sy besit terug te gee en sy regskoste te betaal. Die boukoste van ‘n nuwe roete sal vir u rekening wees.

  4. Willie
    Willie

    Hi,ek huur n plaas met opsie om tekoop. My plaas le tussen 3 tot 4 plase my pad loop die naaste na groot grondpad deur 2 plase die een boer geen proebleem nie die een het baie proebleme die huis is in 1890 gebou en wat ek verstaan is die pad daar toe het die boer op die kant plaas 20 to 25 jaar trug sy huis en kraal teen die pad gebou.wil graag weet wat is die spoed wat ek moet ry moet die hekke pal gesluit wees hoe werk dit help asb

    • Jan Bezuidenhout

      Willie,
      Verskeie artikels oor serwitute is al hier gepubliseer:
      https://hulp.landbou.com/regskundiges/
      Besoek die blad asb en vind ook meer uit oor die onderwerp.
      Groete


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X