Regskenner

Mag ek hek sluit?

Vraag

Ek hoop julle het 'n regskenner wat my kan help. Hier is 'n pad wat oor my grond loop vanaf die grondpad na twee plase. Solank ek kan onthou gebruik die eienaars van die twee plase die pad, alhoewel dit slegs as 'n vergunning deur my oupa aan die vorige eienaars gegee is. Intussen het die twee plase van eienaar verwissel. Die probleem is dat die een eienaar oorsee werk en vir ses weke uit die land is waar daar dan geen beheer of toesig op die plaas is nie. Gevolglik gebeur daar allerhande onheilighede in hierdie tyd. Die ergste is dat daar allerhande voertuie na die plaas ry. Die hek wat in my grond ingaan word dan oopgelos. Die gevolg is dat my diere in die pad ingaan. Die hek is agter 'n blinde hoogte geleë. Die werkers wat daar bly het nou al mooi aangegroei tot ongeveer 15 siele vanaf 2. Verder word daar drank en dwelms geskokkel. Nou wil ek weet of ek die hek kan sluit en aan die eienaar 'n sleutel gee. Ek wil nie die toegang stop nie, ek hoop net om hierdeur die toegang te beperk. Ek vermoed die eienaars sal 'n serwituut kan afdwing.

Antwoord

Volgens u inligting hier uiteengesit, blyk dit daar wel  daar wel serwituutregte van weg ten gunste van die betrokke twee aangrensende plase te bestaan.

Die houers van die serwituutregte is verplig om dit civiliter modo uit te oefen, menende met die grootste omsigtigheid teenoor u en die minste moontlike ongerief teenoor u en u plaas. Wyk die houer van die serwituut hiervan af, het u die reg om enige probleme met hom op te neem en gesamentlik ‘n oplossing daarvoor te probeer vind.

U is korrek dat die aangrensende eienaar sy serwituureg sal kan afdwing en dat u nie summier die hek kan sluit nie. Dit sal ‘n konsultasieproses met die betrokke eienaar behels, sodat  hy vooraf kennis van enige veranderings dra.

Die partye mag wel besluit on die die hek te sluit met sleutels vir elke gebruiker, maar ‘n werklike oplossing hang van die omstandighede van elke geval af. In praktyk sou mens sulke probleme tussen die twee eienaars met hulle samewerking probeer oplos. Indien nie sal u van die dienste van u prokureur gebruik moet maak om u behulpsaam te wees om ‘n oplossing te vind.

Geskryf deur: Butch van Blerk (butch@billtolken.co.za)

12 Januarie 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X