Grond Guru

Lusern, brak water en sanderige grond

Vraag

Begin nou met plus minus 2 hektaar lusern in die Klein Karoo tussen Ladismith en Montagu in die Anysberge omgewing, langs die Touwsrivier . Baie nuttige artikel….probleem: Besproeiingswater baie brak… grond (sanderig) reeds ook brak…..reeds nou twee keer misluk….boonste grondlagie word hard en ek vermoed die nuwe lusern sukkel om deur te breek….besproei elke oggend ongeveer 2 ure. Soutbos egter floreer en ons moet gereeld uithaal. Het pas die plaas toegespan met wildsheining en wil lusern plant vir aanvulling. Raad of voorstelle? Nic van Rensburg nic@eikeboom.co.za

Antwoord

As ons praat van verbrakking dan aanvaar ons soute het opgebou en so vermeerder in die grond tot ‘n punt waar plantgroei nadelig beinvloed word. Die element wat primer verantwoordelik is vir grondverbrakking is natrium (Na). In dag tot dag gebruik word natrium ondermeer gevind in gewone tafelsout (natrium-chloried). En dit is maar min of meer wat in die grond ook gebeur. Dis ‘n versouting van die grond. Wanneer dit gebeur, sien ons dikwels dat gronde dispergeer aan die oppervlak of dan blus. Sodoende praat ons hier van grondstruktuur wat drastries agteruitgaan en sodoende gebeur dit dat grond toeslaan. Wanneer dit gebeur is die implikasie hoofsaaklik vertraagde water infiltrasie en verswakte gaswisseling. Dus is die besproeiing oneffektief en wortelontwikkeling word ondermyn. Dit is dan ook die rede vir verharding wat jy ervaar.

Dis basies dan wat gebeur vanuit ‘n grondchemiese en -fisies aspek. Vanuit ‘n plantvoedings oogpunt is die nuus nie beter nie. Dink aan wat gebeur wanneer sout op ‘n vel bv beesvel gegooi word. Die vel droog basies uit. Min of meer dieselfde gebeur in die plant se wortelomgewing. Die oormatige soute skep ‘n osmotiese potensiaal en plante se wortels droog asteware uit. Die ironie is, dat dit dikwles lyk soos droogte simptome en dan reageer ons deur te besproei en sodoende moedig ons moontlike versuiping ook nog aan. Die kanse dat die water baie hoog is in soute is goed, wat impliseer hoe meer ons besproei, hoe meer soute voeg ons toe tot ‘n reeds sout omgewing. So wat staan jou te doen?

Eerstens, laat grondmonsters by ‘n geakkriditeerde laboratorium ontleed. Dit is belangrik sodat jy kan sien wat is die omvang van die situasie in die grond. Dit gaan die basis vorm vir die herstel van die grond en die aanbevelings rondom die suksesvolle vestiging van lusern. Laat ook die besproeiingsbron se water ontleed. Sodoende gaan jy vir die toekoms weet wat se voortdurende remidiërende optrede nodig gaan wees.

Sodra jy daardie ontledings het, sal dit raadsaam wees om ‘n grondkundige of agronoom te kontak vir raad en aanbevelings. Tradisioneel word verbrakking met die toediening van gips en opvolgende korrekte bewerkings gedoen. Dit resultate en welslae is gewoonlik wisselvallig omdat daar heelwat invloedryke faktore is wat ‘n verskil maak in die effektiwiteit bv eksterne dreinering, oplosbaarheid van die toediengs ensovoorts. Daar is egter nou toedienings produkte op die mark wat uiters effektief is om sulke scenarios aan te spreek. Tipies een genaamd Dekompakt. Dit word baie suksesvol aangewend om enersyds sulke scenarios te korregeer of alternatiewelik so te bestuur dat gewasse suksesvol verbou kan word. Met die vestiging van lusern in sulke omstandighede is daar nog ‘n paar stappe in benadering wat gevolg kan word om sukses te behaal, maar, sorteer eers die groeimedium (grond) uit.

  • Deon van Zyl

Kommentaar

Een kommentaar op “Lusern, brak water en sanderige grond

  1. JP Nell
    JP Nell

    Die boere term “verbrakking” kan tot heelwat verwaring aanleiding gee, veral as dit nie saam gaan met ‘n grondontledings om te bepaal of dit natruimgrond (sodic soil) of soutgrond (saline soil) is nie. Om bloot net aan te neem dat sout wat op die grond uitslaan noodwendig natriumsoute is kan verkeerd wees en kan tot onodige koste aanleiding gee. As dit soutgronde is en nie natruimgronde nie, kan dit meestal bloot net deur loging (bereken van die soutdrumpelwaarde van die gewas) reggestel word. Mens moet in aanmerking neem dat grondkorse ook deur ‘n verskeidenheid ander chemiese, fisiese en biologiese faktore kan ontwikkel en nie net deur natrium nie.

    My raaiskoot (sonder grond- en waterontledings) op sanderige grond wat vir 2-ure besproei word sonder dat af loop voorkom is dat die soutinhoud van die water bokant dit soutdrumpelwaarde van 130 mS/m vir lusern is (soutbos se soutdrumpelwaarde is omtrent dubbel soveel daarom groei dit en nie lusern nie).


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X