Grond Guru

Kalk en gips om turf te breek?

Vraag

Ons bly in Dealesville en het so 1 ha se erwe aanmekaar, met genoeg water uit boorgate. Ek is nie ’n boer nie maar wil graag die grond benut. Ek wil graag die grond voorberei en iets plant wat vir my ’n inkomste kan gee, soos waartlemoene, of enigiets anders wat sal werk. Volgens die uitslag van monsters wat op die grond gedoen is, dit is swart turf. Die aanbeveling sê 4,5 ton kalk en 2,2 ton gips. Soos ek verstaan moet die gips help om die turf bietjie te breek. My vraag is waar kry ek die produk en kom dit in sakke voor of moet dit los gelaai word? Gooi ek dit op die bogrond en ploeg dit dan in? Baie dankie vir u tyd, Louis Saaiman, Dealesville, Vrystaat

Antwoord

Die persoon (kunsmismaatskappy) wat die aanbeveling gedoen het, het waarskynlik ’n “Albrecht-kursus” bygewoon. Die pH moet verlaag word en nie verhoog word nie! Deur 4,5 ton/ha kalk toe te dien, gaan die pH beslis verhoog word.

Dit is vir my skokkend dat kunsmismaatskappye sulke aanbevelings kan maak. Om etiese redes sluit ek nie die vrasteller se ontledings verslag in nie, ek sal net die kunsmismaatskappy se naam diskrediteer. Volgens die Albrecht-sisteem en dus ook die aanbeveling, sal die hoë Mg die opname van P onderdruk, wat absolute onsin is. Ca onderdruk die opname van P deurdat dit onoplosbare Ca-P komplekse vorm. Dan word daar nog addisionele kalk aanbeveel. Dit sal net die hele situasie vererger.

Dié foutiewe aanbeveling gaan ná ’n jaar of meer ernstige gevolge vir die arme produsent inhou indien hy dié aanbeveling sou gevolg het. Di Ca:Mg-verhouding is voldoende vir weidings.

Die grond is nie brak nie en benodig daarom nie gips nie. Die gips gaan ook nie verhoed dat die swaar kleigrond kompakteer nie en gaan dit beslis nie opbreek nie. Indien kalk aan die grond met die reeds hoë pH (pH 7,4 in water) toegedien word, sal die gewasse ernstige mikro-elemente tekorte ondervind.

Die P-inhoud van die grond is voldoende en die aanbeveling van beenmeel as P voedingsbron gaan nie werk nie. Gebruik liewer ’n kunsmismengsel van 2:3:2 wat MAP bevat. Die hoeveelheid N wat toegedien kan word, gaan afhang van die grond se opbrengspotensiaal en die beskikbaarheid van water. Dit gaan ook van die gewas afhang.

Oor gewasse kan ek ongelukkig nie voorskryf sonder baie meer detail-inligting van u kant af nie. Die aanbevole N lyk in orde. Vra die kunsmisagent om vir u die P-aanbeveling na Superfosfaat te verander. Lekker boer.

* Geskryf deur dr. Eduard Hoffman van die departement grondkunde aan die Univeristeit van Stellenbosch.


Kommentaar

Kommentaar (2) “Kalk en gips om turf te breek?

  1. Jesaja Strumpfer
    Jesaja Strumpfer

    Ek het op suikerriet, op ‘n hoë pH grond 7.0 (KCL) 3 ton kalk en 1 ton gips toegesien, 2 jaar na mekaar volgens aanbeveling en nie enige mikro-elemente tekorte waargeneem nie. Die oes op die hierdie spesifieke land was beter as vorige jare en die grond is brosser as voorheen. Na nog ‘n jaar sal ek weer ‘n grondmonster trek om te sien wat die laaste toediening se effek is.

    • Jan Bezuidenhout

      Jesaja, Jou navraag is aangestuur na ‘n kundige. Groete


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X