Grond Guru

Boorgatwater begin sleg ruik

Vraag

Goeie dag dr. Hoffman, Graag wil ek verneem hoe om water te beheer wat besoedel raak. Om die agtergrond te skets: Ons boerdery maak gebruik van boorgatwater om hokke ens. skoon te was en te hervul met die boorgatwater. Dié praktyk doen ons al vir baie jare sonder enige probleme maar die afgelope paar maande vind ons dat ons boorgatwater begin sleg ruik en smaak, dit is nou só erg dat ons dit nie meer in die huis kan drink nie. Ons maak gebruik van ʼn gronddam waarin die water gestoor word na die skoonmaak proses. Die gronddam is omtrent 60 meter van ons boorgat gelê en ons pomp 5000 litter per uur en die diepte is +- 70 meter. Graag wil ek weet of ʼn ander nuwe gronddam die probleem sal oplos, want ons vermoed dat die ou gronddam nou al grondversadig is. Of het u vir ons ander raad? Ons het u inligting in die Landbouweekblad gekry en met vrymoedigheid u gekontak. Groete

Antwoord

Dit is ʼn bietjie gewaagd om ʼn aanbeveling te maak bloot op ʼn waarneming. My voorstel is om die boorgat en dam se water te laat toets vir watter elemente/chemiese verbindings in oplossing is. Dit mag wees dat daar weens die droogte nie ʼn verdunning van die afvalwater in die dam plaasvind nie. Die skoonmaa- chemikalieë wat u gebruik, bevat of ʼn kalium of fosfaat gebaseerde basis wat tot allerhande  reaksies kan aanleiding gee. U moet asseblief vir my ook die samestelling van die skoonmaakmiddel stuur.

Die oorsprong van die reuk/smaak kan chemies of organies van oorsprong wees. Die middels kan deur die ondergrond van die gronddam beweeg en gaan dan weer in die boorgat beland. Afhangende van die geologie kan water van ʼn nuwe dam uiteindelik maar ook weer in die boorgat beland. Navorsing het bewys dat water vir verskeie kilometer in ondergrondse gesteentes kan beweeg.

My aanbevelings is dus:
1) Neem watermonsters van die boorgatwater (neem monster by kraan in huis of stal) en laat so volledig moontlik ontleed. Moet nie die koste ontsien om dit volledig chemies (nie bakteriese toetse) te laat toets nie.
2) Neem ook ʼn oppervlak-watermonster en ook ʼn watermonster net naby die bodem van die dam. Laat ook so volledig moontlik ontleed. Bakteriese ontleding kan hier aangevra word.
3) Stuur vir my die samestelling van die skoonmaakmiddels saam met die watermonster se ontledingsresultate.
4) Probeer vasstel wat se reuk of smaak die water het. ʼn Vroteierreuk is ʼn aanduiding van swawel in die water.

Daar is verskeie maatreëls wat getref kan word, maar dan moet ons eers die probleem identifiseer. Die dam se bodem sal behandel moet word om waterinfiltrasie na die ondergrond te beperk, indien dit moontlik is. Die afvalwater sal ook op pad na die dam behandel moet word, verskeie opsies is moontlik. Later meer oor die maatreëls.

Ek wil graag ʼn baie ernstige waarskuwing rig om nie al die toerusting, preparate, doepas, en ander slangolies wat bemarkers by u gaan aanbring, te glo nie. Ons ontvang gereeld klagtes van mense wat om die bos gelei is deur een van die “Wondermiddels” te koop en geprobeer het sonder enige sukses. Die wondermiddels is gewoonlik uiters duur en dan glo produsente dat dit moet werk. Oor die onderwerp kan ek regtig al ʼn dik boek skryf. Die mense is uiters bedrewe in bemarking en die stories het ʼn vreeslike goeie aanloop, soos byvoorbeeld dat dit in Einstein se laboratorium ontwikkel is en dat dit ná sy dood deur een van sy assistente vervolmaak is, ensovoorts. ʼn Hoop snert!!

Sterkte met die monsterneming en ek wag op meer inligting, dan spreek ons die probleem aan.

Groetnis, dr. Eduard Hoffman, voorsitter: Grondkunde, Universiteit Stellenbosch.

18 April 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X