Finansies

Hoe duur is plaashuur?

Vraag

Kan iemand dalk vir my 'n idee gee van hoe 'n mens plaashuur in Suid-Afrika bereken?

Antwoord

Vraag:
Kan iemand dalk vir my ‘n idee gee van hoe ‘n mens plaashuur in Suid-Afrika bereken? Ek kyk na die Sandveld in die Wes-Kaap. In Zimbabwe het ons deur die ZTA gewerk op persentasies tussen 7 % en 14 % – afhangend van wat die huur alles ingesluit het. Ek probeer vasstel waarop ek moet werk sodat ek my finansies kan uitwerk en besluit of dit vir my die moeite werd sal wees. – Chris Watson (cwatson@earth.co.zw)

Antwoord:

Die vasstelling van ‘n huurbedrag in Suid-Afrika is ongelukkig nie eenvormig nie. Dit kan twee vorme aanneem, naamlik ‘n vaste bedrag, waarby daar gewoonlik ‘n eskalasieklousule oor die huurtermyn gekoppel is, of ‘n deel van die oes. ‘n Vaste bedrag is redelik eenvormig in ‘n streek en dit is vir die huurder én verhuurder maklik om hulle berekenings te kan doen.

Vaste bedrae word gewoonlik vooruit betaal. Die werklike tarief sal uiteindelik deur vraag en aanbod bepaal word. As die produk wat op die huurgrond geproduseer kan word redelik winsgewend is, sal die grond in aanvraag wees en boere sal teen mekaar meeding om die grond te huur. Die verhuurder kan dan die situasie tot sy voordeel aanwend en ‘n hoër huurtarief vra. In die Oos-Vrystaat word huurgrond selfs op veilings geplaas waar boere moet bie vir die huurtarief. Die hoogste bod kry dan uiteraard die huurgrond. Daarteenoor sal huurgrond in tye van lae landboupryse minder in aanvraag wees omdat die verhuurder gaan sukkel om sy grond verhuur te kry. In sulke tye sal die huurtarief weer daal.

By deel-oeste word die huur gewoonlik ná afloop van ‘n oes bereken en is dan eers betaalbaar. Die voordeel is dat die huurder slegs huur betaal as daar ‘n oes is. As daar nie ‘n oes is nie is daar nie ‘n deel-oes nie. Die nadeel is dat die uiteindelike huurbedrag ten tye van goeie opbrengste en pryse buitensporig hoog kan wees.

Die goue reël vir ‘n huurder is om nie meer huur te betaal as wat die rente sou wees as hy die grond gekoop het nie. Gestel dus die grond se aankoopwaarde is R2 000 per hektaar, dan sal die jaarlikse rente teen 11 % wat hy op ‘n lening sou betaal, R220 beloop het. As die huur dus meer as R220 per hektaar beloop, is dit beter om die grond te koop. Uit die verhuurder se oogpunt moet hy weer nie minder huur ontvang as wat hy rente sou verdien as hy die geld by ‘n bank sou belê het nie. Teen 7 % sou die verhuurder dus R140 per jaar op ‘n belegging van R2 000 kon verdien het. Iewers tussen hierdie twee bedrae moet die huurder en verhuurder mekaar dus vind.

Onthou net dat die produk wat op die grond geproduseer word, self die huur moet kan betaal. Dit dien geen doel om huurgrond uit ander inkomste te subsidieer nie.

18 Julie 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X