Dierevoeding

Weidings wat lampersentasie kan benadeel

Vraag

Ek lees dat sekere plante jou lampersentasie kan benadeel as ooie dektyd daarop wei. Kan armmanslusern ook nadelig wees tydens dektyd? Wikus Pretorius

Antwoord

Dit is bekend dat onder sekere omstandighede medic- en lusernweiding wat deur insekte beskadig, met virus of swamme besmet is, hoë vlakke plantestrogene produseer wat reproduksie nadelig kan beïnvloed. Hierdie hormone het ‘n afname in ovulasietempo tot gevolg asook ‘n vertraging in estrus (m.a.w. ooie kom stadiger op hitte). Vermy dus onder hierdie omstandighede hierdie tipe weidings en paar ooie liewers op ander weidings (bv. gespaarde veld of oesreste). Na paring kan hulle weer sonder enige nadelige gevolge hierdie weiding bewei. In Australië is dit ‘n algemene praktyk waar ooie gespons word om hulle 21 dae voor spons na droë weiding oor te skakel. Vanaf hierdie stadium kry ooie nie toegang tot groenweiding of lusern nie, maar slegs goeie kwaliteit droë weiding tot na paring.

 
Dit is egter onbekend of armmanslusern ooie se lampersentasie nadelig kan beïnvloed omdat geen navorsing nog in die verband gerapporteer is nie. Die beste manier om te bepaal of armmanslusern werklik ‘n negatiewe effek op lampersentasie het, is om ooie ewekansig volgens ouderdom en hulle vorige lamstatus (enkeling of tweeling gelam gedurende vorige lamseisoen) in twee groepe in te deel. Die een groep moet dan vanaf ses weke voor paring tot na paring op armmanslusern aangehou word en die tweede groep vir dieselfde tyd op natuurlike veld. Ramme moet ook ewekansig volgens ouderdom en hulle moeder se lamgrootmaakvermoë (aantal lammers gespeen per lamseisoene) by die onderskeie groepe ingedeel word. Indien die ooie dan op die armmanslusern ‘n laer lampersentasie het, kan met redelike sekerheid aanvaar word dat dit nadelig vir ooivrugbaarheid is. Daar moet onthou word dat die voorkoms van "hormone" in weidings van jaar tot jaar kan verskil op grond van sekere omgewingstoestande.
 
Sommige peulplante soos rooiklawer, onderaardse-klawer en lusern bevat, veral onder sekere toestande, verbindings bekend as fito-estrogene, wat natuurlike estrogeen naboots. Dit kan vrugbaarheid en fekunditeit (meerlinggeboortes) verlaag. Vir meer inligting oor die onderwerp lees die aangehegte artikel oor die "Invloed van plantestrogene op ooivrugbaarheid."
 
Meer en meer navorsingsinligting dui daarop dat ‘n reeks Fusarium fungi (swamme) in gemufde gras en hooi ‘n toksien bekend as zearalenoon produseer. Hierdie swamme kan ook op die dooie gedeeltes van die weiding voorkom of waar die weidings baie dig is. Zearalenoon se effek is dieselfde as estrogene en gevolglik verlaag dit ooivrugbaarheid en fekunditeit.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
28 Maart 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X