Dierevoeding

Voedingswaarde van druiwedoppe

Vraag

Wat is die voedingswaarde van druiwedoppe? Ek wil dit graag in my pilmasjien gebruik vir die maak van voerpille vir my skape.

Antwoord

Druiwedoppe het nie ‘n hoë voedingstofinhoud nie en word as ‘n laegraadse voer geklassifiseer. Druiwedoppe sluit gewoonlik die doppe, pitte en stingels in. Volgens Ensminger & Olentine (1978) is die voedingswaarde van druiwedoppe selfs laer as dié van strooi. Oor die algemeen is in studies bevind dat hoewel druiwedoppe teen bevredigende peile ingeneem word, die verteerbaarheid daarvan laag is. Verder word die groeitempo en voeromsettingsdoeltreffendheid van diere op rantsoene met druiwedoppe benadeel. Die verteerbaarheid van voer neem af namate dit meer druiwedoppe bevat as gevolg van die aanwesigheid van tanniene in die druiwedoppe. Tanniene vorm komplekse met proteïen wat sodoende die verteerbaarheid van proteïene verlaag. Verder word die werking van sekere verteringsensieme onderdruk terwyl groei en produksie ook weens die aanwesigheid van die tanniene benadeel word (Deshpande et al., 1986).

 
Innames van tot 1.3 kg droë witdruiwedoppe per dag deur hamels is deur Cloete en De Villiers (1978) gevind, hoewel die verteerbaarheid slegs ongeveer 34 % was. Met ‘n toename van die insluiting van druiwedoppe (10; 20; 30 en 40 %) in rantsoene was die ooreenstemmende verteerbaarheid van die rantsoene onderskeidelik 90; 67; 61 en 57 % terwyl die ruproteïenverteerbaarheid 75; 41; 30 en 23% was (Fegeros & Kalaissakis (1987). Ander navorsers het bereken dat druiwedoppe se voedingswaarde ongeveer die helfte van dié van gars is (Hadjipanayiotou & Louca, 1976).
 
Die voedingstofinhoud van druiwedoppe is afhanklik van hoeveel sap onttrek is. ‘n Tipiese voedingstofinhoud van druiwedoppe (op ‘n 100 % droë materiaalbasis) waar al die sap onttrek is, is:
            60.8 % vog
            10.3 % proteïen
            31.7 % ruvesel
            17.1 % TVV
            2.24 % tanniene
            0.32 % kalsium
            0.19 % fosfor
            0.10 % magnesium
            16 mg/kg koper
            14 mg/kg sink
            32 mg/kg mangaan
            2310 mg/kg yster
 
Die proteïeninhoud van druiwedoppe is laag en waarskynlik ook swak benutbaar weens die aanwesigheid van tanniene. Die tannieninhoud is ongeveer tweemaal hoër as dié van voëlbestaande graansorghum (1.24 %: Brand et al., 1989). Die energie-inhoud kan baie varieer, afhangend hoeveel sap uitgedruk is. Hoe meer sap uit die doppe onttrek word, hoe laer is die energie-inhoud (TVV). Die koperinhoud, maar veral die ysterinhoud is baie hoog.
 
Volgens die literatuur verlaag die produksie van diere met toenemende vlakke van druiwedoppe insluiting in rantsoene hoofsaaklik weens die hoë vlakke van tanniene in die druiwedoppe. Druiwedoppe se voedingswaarde is baie laag en is ook vergelykbaar met dié van koringstrooi. Die verpilling kan nie die voedingswaarde van druiwedoppe noemenswaardig verhoog nie. Weens sy lae voedingswaarde kan druiwedoppe dus net teen ‘n beperkte peil (5 tot 10 %) in ‘n volledige rantsoen van produserende diere ingesluit word. Waar druiwedoppe in rantsoene ingesluit word, moet hierdie rantsoen behoorlik geformuleer word om al die noodsaaklike voedingstowwe in die regte verhouding aan diere te voorsien om optimale diereproduksie te verseker. Daar moet daarop gelet word dat indien die doppe verpil word, dit relatief droog moet wees anders gaan dit die verpillingsproses bemoeilik.
 
Dit is waarskynlik nie kostedoeltreffend om druiwedoppe as ‘n komponent van ‘n volledige rantsoen vir hoogs produserende diere soos groeiende lammers, laatdragtige en lakterende ooie te verpil nie. Dit kan dalk deel van ‘n onderhoudsrantsoen uitmaak vir oorlewings- en droogtevoeding. Die mees ekonomiese praktyk is waarskynlik om druiwedoppe as ‘n addisionele byvoeding eenkant aan skape te voer. Daar moet egter seker gemaak word dat daar nie muf op die doppe voorkom nie, want die swamme op die muf kan maagwerk, aborsies en selfs vrektes veroorsaak.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Bestuurder, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
18 Maart 2012

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X