Dierevoeding

Vleismerino’s op sojalande

Vraag

Ek soek raad vir ooie en lammers wat swak presteer op sojalande. Ooie gooi lammers weg (vermoed min melk). Kan tripsienvergiftiging die oorsaak wees? Kan lekke dalk probleem oplos? Gebruik tans Voermollandelek met swak resultate. Lande is onkruidvry.

Antwoord

Die rou sojaboon is hoog in proteïen (ongeveer 36 %),  maar dit het sekere beperkinge in die vorm van anti-voedingsfaktore soos bv. tripsien- en chemotripsien inhibeerders en ‘n laag verteerbare aminosuurprofiel.  Dit veroorsaak dat lammerooie op sojareste dik en taai biesmelk het, min melk produseer en gevolglik groei lammers swak.  Prosessering van sojabone hef die anti-voedingsfaktore op en ontsluit die voedingspotensiaal, maar resteweiding  kan nie geprosesseer word nie en daarom moet die regte lekaanvulling gegee word om die beperkinge te oorkom.  Ureum moet nie in lekke en rantsoene ingesluit word waar rou sojabone gebruik word nie. Die urease aktiwiteit in die rou sojabone veroorsaak dat ureum vinnig na ammoniak omgeskakel word en dit kan aanleiding gee tot ureumvergiftiging.

 

Volwasse skape benut sojareste baie goed omdat hul behoefte aan deurvloeiproteïen baie laer is as dié van lakterende ooie en lammers.  Sojaresteweiding is ‘n uitstekende prikkelvoer vir ooie en in prikkelvoedingsproewe is gevind dat sojabone lampersentasie met 14.3 % verbeter het in vergelyking met ‘n negatiewe kontrole (Van Pletzen & De Villiers, 1991).  Skape benut die reste (plantmateriaal) baie beter as bv. mieliereste en die drakragriglyn van sojareste is 5 tot 7 kleinvee-eenhede vir ‘n weiperiode van 80 tot 100 dae.  Selfs die growwer plantmateriaal en stingels word baie goed benut.

Die tipiese voervloeibeplanning van skape in die somersaaigebiede bestaan uit herfsveld tot in April, sojareste vanaf April tot Mei/Junie, mieliereste in Junie tot September/Oktober en dan somerveld.  Die geweldige groot variasie in voedingwaarde van die verskillende weidings gee aanleiding tot tenger wol en lammers groei nie volgens hul potensiaal nie, dus direkte produksieverliese.  In baie skeersels word ‘n groot persentasie tenger wol geproduseer en dit benadeel die wolprys.  Wat tipies gebeur is dat die proteïenwaarde van herfsveld daal tot onder 6 %, die ooi is nog in vroeë- of midlaktasie en veselproduksie kom feitlik tot stilstand en wol raak al hoe fyner.  Sodra sojabone gestroop is, beweeg die lammerooie van die swak herfsveld na sojareste en ewe skielik vreet die ooi sojapitte wat tot 36 % proteïen bevat.  Die hele verteringsproses verander drasties oornag met gepaardgaande aanpassingsprobleme en spysverteringsteurnisse.  Na ‘n maand of twee raak die sojabone uitgevreet en dan verander die weiding weer na mieliereste wat ‘n hoë energiewaarde het en gevolglik is daar weer aanpassingsprobleme.  Hierdie drastiese verandering in weidingkwaliteit (swak veld na hoë proteïen na hoë energie) druk die laktasiekurwe af, verlaag melkproduksie en benadeel lamgroei en wolproduksie.   Om die probleem aan te spreek, is ‘n praktykproef op die plaas Hartebeesfontein van mnre. Jan en Gerrit Venter in die Volksrustdistrik gedoen.  Die proef is in samewerking met BKB en Voermol Voere gedoen.  Ooie met herfslammers is gestrativiseerd ewekansig in twee groepe verdeel en die proefgroep is gelykmatig oor 14 dae op die verskillende weidings aangepas (tabel 1) en het spesiaal geformuleerde lekke ontvang (tabel 2).  Die kontrolegroep is normaalweg volgens bestaande praktyke bestuur, geen aanpassing met wisseling van weidings is gedoen nie en ‘n standaard winterlek is voorsien.

 

Tabel 1.  Aanpassingsprosedure van die proefgroep.

Dag

 

Aanpassing op sojareste. Beperkte   weityd/dag

Aanpassing voor mieliereste.  Heel mielies gevoer op sojareste   (g/skaap/dag)

 1-2

15 min

200

3-4

30 min

300

5-6

45 min

400

7-8

60 min

500

9-10

1h 15 min

600

11-12

1h 30 min

700

13-14

1h 45 min

800

15

Voltyds op land

Skuif na mielieland

 

Tabel 2.  Samestelling van die proeflekke.

Bestanddeel

Sojarestelek (kg)

Mielierestelek (kg)

Voermol Molovite (V7266)

500

Voermol Procon 33 (V12701)

300

300

Mieliemeel

200

200

Voermol Landelek (V15414)

500

Voerkalk

10

TOTAAL

1010

1000

Inname per ooi met lam per dag (g)

300-400

300-400

 

Volgens die resultate het lammers in die proefgroep 38 % beter gegroei (13.37 kg vs. 9.67 kg) en treksterkte van die wol van ooie is met 29 % verbeter (27 Newton/kilotex vs. 21).  Simptome van suurpens het by die kontrole voorgekom, maar nie by die proefgroep nie weens verskillende buffers in die proeflekke.  Die fisiese voorkoms van wol op die ooie het verskil met duidelik meer gesonde wolgroei by die proefgroep en tenger wol by die kontrole.  Die veseldikte van ooie varieer geweldig baie oor die lengte van die stapel a.g.v. groot verskille in voeding en die effek van laktasie.  ‘n Ooi in die kontrolegroep met ‘n gemiddelde veseldikte van 18.2 mikron, het bv. van 15 tot 21 mikron gevarieer.  Minder variasie in veseldikte het by die proefgroep voorgekom.

Aanbeveling

Waar baie sojapitte op ‘n land lê, oorvreet skape hul maklik en vrek aan nitraatvergiftiging.  ‘n Gelykmatige aanpassing oor ten minste 14 dae is noodsaaklik om hierdie risiko te beperk.  Voermol Molovite bevat medikamente wat proteïenopblaas verhoed, maar aangesien enkele skape in ‘n trop min of selfs geen lek vreet nie, is dit nie moontlik om te waarborg dat geen vrektes sal voorkom nie. Molovite bevat goeie gehalte natuurlike proteïen (geen ureum nie) en is die standaard aanbeveling op sojareste.  Vir lammerooie kan een sak Voermol Procon by 3 sakke Molovite gemeng word om die deurvloeiproteïen te verhoog en vir hoog produseerders soos tweelingooie, gebruik ons die sojarestelek (tabel 2).  Lammers vreet ook hierdie lek goed met goeie groeiresultate tot gevolg en dit kan selfs as ‘n kruipvoer gebruik word.

Geskryf deur: Hendrik van Pletzen, Tegniese Bestuurder, Voermol Voere (hendrikvp@mweb.co.za)

12 April 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X