Dierevoeding

Vitamien B1 (tiamien) tekort in skape , bokke en beeste

Vraag

Ek boer in die Ottosdaldistrik. Van my skape het begin vrek en hulle het dieselfde simptome as hartwater gehad, nek wat agteroor trek en lê en skop voor hul vrek. Die diagnose wat gemaak is, is dat dit weens 'n Vitamien B1-tekort is. Die skape loop op groenweiding. Wat kan ek doen om dit te voorkom en as gevolg waarvan kry hulle 'n Vitamien B1-tekort?

Antwoord

Vitamien B1-tekort kan by beide weidende skape, bokke en beeste, van enige ouderdom, asook by intensiefgevoerde voerkraaldiere voorkom. Sogende lammers word selde geaffekteer (Scott, 2007).  Vitamien B1-tekort gee aanleiding tot ‘n toestand bekend as PEM (Polio?nsefalomalasie, “Polioencephalomalacia (PEM) – Engels”) of CCN (Serebrokortikale nekrose, "Cerebrocortical necrosis- Engels") ook bekend as helderoogblindheid). Dit is ‘n metaboliese siekte wat sporadies voorkom en gewoonlik fataal is indien diere nie vroegtydig gediagnoseer en behandel word nie. Dit is selde dat meer as 10 % van die diere geaffekteer word. Diere word gewoonlik geaffekteer ongeveer twee weke nadat hulle na ‘n ander weiding geskuif is of na ‘n drastiese voedingsverandering (bv. van veld na ‘n voerkraal). ‘n Kort oorsig gaan vervolgens oor Vitamien B1-tekort gegee word.

 
Bronne van Vitamien B1
 
Vitamien B1, ook bekend as tiamien, is ‘n wateroplosbare vitamien en kom veral in brouersgis; kiemgedeelte van grane; semels; bone; ertjies en groen blaarryke plante voor en word ook in die grootpens van herkouers deur sekere bakterieë vervaardig. Vitamien B1 word ook sinteties vervaardig en bemark as tiamienhidrochloried.
 
Oorsake van Vitamien B1-tekort
 
Die volgende toestande kan tot ‘n Vitamien B1-tekort en dus PEM aanleiding gee:
·       Enige toestande wat die pH van die grootpens tot laer as 6.0 laat daal en tot kliniese of subkliniese suurpens aanleiding gee, het tot gevolg dat die bakterieë wat Vitamien B1 sintetiseer (vervaardig), afsterf. In sulke toestande vermeerder die bakterieë wat die ensiem tiaminase sintetiseer wat dan die tiamien in die grootpens vernietig (Scott, 2007). Sulke toestande kom voor waar geen of ondoeltreffende aanpassing van lammers en kalwers met inname in ‘n voerkraal plaasvind; voerkraalrantsoene wat swak gebuffer is of nie ‘n ionofoor bevat nie; ‘n skielike hoë inname van grane en peulplantsade op oesreste deur onaangepaste diere en ‘n oormaat inname van maklik verteerbare suikers (bv. melassestroop; melassemeel; rosyntjies), ensovoorts.
·       Beweiding van jong, aktief-groeiende sappige weidings kan ook subkliniese suurpens veroorsaak weens die vinnige fermentasie van die koolhidrate in hierdie weiding wat dan tot ‘n Vitamien B1-tekort aanleiding kan gee.
·       Oorbehandeling van lammers met amprolium (tiaminase analoog) om koksidiose te beheer, kan ook aanleiding gee tot ‘n Vitamien B1-tekort. Daar word beweer dat amprolium die bakterieë, wat Vitamien B1 vervaardig, vernietig.
·       Vitamien B1 kan in die grootpens gehidroliseer (vernietig) word deur ‘n ensiem tiaminase, ‘n tiamienvernietigende ensiem, wat in sekere plant voorkom soos varings, kiesieblaar, turksnaald, ramnas, gousblom, kanariegras, litjiesgras, ensovoorts. Sekere bakterieë (bv. Bacillus thianolyticus) wat in die grond voorkom asook swamme (bv. Aerospeira macrosporroides) op gemufde plante, hooi en strooi veroorsaak ook ‘n Vitamien B1-tekort.
·       Waar herkouers te veel swawel gedoseer word (bv. vir behandeling van geilsiekte) of swawel uit lekke en rantsoene inneem, sterf die bakterieë wat Vitamien B1 vervaardig ook af. PEM-gevalle het by 21 uit 71 gespeende lammers van vier tot ses maande ouderdom voorkom. Die PEM-gevalle het na 15 tot 32 dae voorgekom nadat hulle ‘n rantsoen, wat 0.43 % swawel bevat het, ad lib. ontvang het (Low et al., 1996). Voerkraalrantsoene wat meer as 0.4 % swawel op ‘n droë materiaalbasis bevat, kan tot PEM-gevalle aanleiding gee (Hale & Olson, 2005). Grondstowwe wat hoog in swawel is, is melassestroop; DDGS (Dry Distillers Grain Solubles); suikerbeetpulp, Prime Gluten asook sekere onderaardse waterbronne.
 
Vitamien B1-tekortsimptome
 
Die oksidasie (verbranding) van glukose in die sitroensuursiklus in die liggaam van die herkouer benodig op twee plekke Vitamien B1. ‘n Tekort aan Vitamien B1 laat pirodruiwesuur in die bloed en weefsels ophoop wat tot PEM aanleiding gee. Vroeë tekortsimptome van PEM, weens ‘n tekort aan Vitamien B1, is gewoonlik ‘n verlies aan aptyt, vermaering, spierverswakking en wanfunksie van die senuweesisteem. Ander simptome sluit in skape wat doelloos rondstap (dwaal) en van die trop geïsoleer word; disoriëntasie; sirkel somtyds; kop word of op ("star gazing") of af gehou; kom dom voor; gebrek aan koördinasie; tel voorpote hoog op; druk kop teen heining of ander voorwerpe; lê op een sy; bene uitgestrek; kop agteroor gebuig; oogbal beweeg rukkerig van kant tot kant; spiersametrekkings; oorreageer op geraas of aanraking; blindheid en koma. Hierdie simptome is waarskynlik as gevolg van ‘n aansameling van vloeistof in die brein wat tot toenemende druk op die breinselle aanleiding gee asook ‘n afname in bloedvoorsiening aan die brein (Chick, 1983).
 
Tipiese simptome van PEM sluit ondermeer in:
·       Opistotonus — ‘n vorm van spasma waar die kop agteroor trek.
·       Amaurose — blindheid sonder die beskadiging van die oog.
·       Nistagmus — onwillekeurige vinnige sywaartse (van kant tot kant) beweging van die oog.
·       Trismus — sametrekkings van die kakebeenspiere, kners van die tande en moeite om mond oop te maak.
·       Soms lê skape, toon spiersametrekkings, senuweesimptome, skuim op mond, kan nie staan of loop nie.
·       Toestand duur ‘n paar uur; 3 tot 5 dae of twee tot drie weke voordat hulle vrek.
 
Behandeling van Vitamien B1-tekort
 
Behandeling is slegs suksesvol indien ‘n vroeë diagnose gemaak word en die diere dan onmiddellik behandel word voordat die breinskade onomkeerbaar raak. Die stadige binneaarse inspuiting van tiamienhidrochloried gee die vinnigste reaksie. Aanvanklik word skape 200 mg tiamienhidrochloried binneaars ingespuit gevolg deur 100 mg onderhuids tweemaal per dag vir ongeveer drie dae. Indien geen respons binne die eerste ses tot agt uur na behandeling waargeneem word nie, het die behandeling heel waarskynlik te laat ‘n aanvang geneem en sal verdere behandeling waarskynlik geen voordele inhou nie (Chick, 1983). Scott (2007) rapporteer dat in die geval van vroeë stadiums van kliniese gevalle word goeie respons verkry met ‘n hoë dosis tiamien (10 mg/kg tweemaal per dag) wat die eerste keer binneaars toegedien word. Skape wat suksesvol behandel is, is in staat om na 24 uur te begin eet hoewel normale sig eers na vyf tot sewe dae terugkeer. Behandeling moet vir drie opeenvolgende dae geskied.
 
Die volgende behandelingsprosedure het plaaslik ook goeie resultate gelewer. Spuit die aangetaste skape tiamienhidrochloried as volg:
            Dag 1: 10 ml intra-veneus (binneaars)
            Dag 2:  10 ml intra-veneus
            Dag 3:  10 ml intra-veneus
            Dag 4: 10 ml binnespiers
 
Voorkoming van Vitamien B1-tekort
 
Vermy die veroorsakende faktore waar moontlik of voer skape 10 mg Vitamien B1 (tiamien) per skaap per dag via ‘n lek of ‘n rantsoen.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
28 April 2011

Kommentaar

Kommentaar (2) “Vitamien B1 (tiamien) tekort in skape , bokke en beeste

  1. Emil
    Emil

    Hello julle,asgevolg van hael in April,verlies aan voer produksie,koop ons voer aan,uit weskaap hawerstrooi, uit waar ookal lusern,ons meng huidiglik,25% hawerstrooi 25mm gemaal,75% lusern 25mm gemaal(ons local veearts se ons kan nie net strooi skoon gee nie(dit kan suurpens veroorsaak)om dit teen te werk gee ons 50kg gemeng mieliemeel met 4kg korn candy en .75kg voerkalk) nou most ek vra watter produk kan ek aankoop,on nodige tiamien aan tevul ,ek voel nog steeds ek kom kort,help ASB.
    Rerig Groot ASB. Emil


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X