Dierevoeding

Verwerking van groenteafval vir dierevoeding

Vraag

Ek wil graag weet wat die waarde van groenteafval in dierevoeding is? Wat is die beperkings en hoe kan groenteafval volhoubaar gebruik word in dierevoeding? Verder wat is die beste wyse van preservering van groenteafval, is dit inkuiling saam met ander kuilvoermateriale, droging en verpilling? Die groentes is: Okra, babaskorsies (baby marrows), aartappels, blomkool en brokkoli, groenbone, botterskorsies, wortels, erte, en soetmielies. Dit is beskikbaar 12 maande hoewel seisoenaal per gewas. Volumes wissel van om en by 200 ton tot 1 000'e per gewas ton. Die massa is die nat gewig teen om en by 65 tot 80 % vog. Vir verwerking/droging/voer aspekte ons kyk na om en by 5 ton per uur, 24/7, 12 maande.

Antwoord

Al word die groente gedroog kan dit nie as die enigste voedselbron in herkouervoeding, veral vir hoogs produserende diere soos jong, vinniggroeiende diere, laatdragtige en lakterende diere gebruik word nie weens ‘n tekort aan deurvloeiproteïen wat op sy beurt sekere essensiële aminosure voorsien. Ingekuilde groente sal dieselfde tekort hê en boonop het dit ‘n baie hoë voginhoud wat voldoende droë materiaalinname beperk weens ‘n beperkte rumenspasie. Die enigste oplossing vir hierdie probleme is om dit altyd as deel van ‘n volledig gebalanseerde rantsoen te gebruik wat vir elke spesifieke diersoort asook fisiologiese stadium geformuleer word om aan hulle voedingsbehoeftes te voorsien. 

Brassica-spesies soos kool, brokkoli, rape, radyse, ensovoorts bevat goitrogeniese verbindings. ‘n Te hoë inname van hierdie groentesoorte kan tot akute jodiumtekorte aanleiding gee. Waar laatdragtige ooie ‘n jodiumtekort ervaar, kan die lammers doodgebore of misvorm gebore word. Sulke lammers word dikwels sonder hare/wol met ‘n vergrote skildklier gebore. Daar is al beweer dat as melkkoeie ‘n te hoë inname van hierdie tipe groentes het dit die goitrogeniese verbindings in die melk afskei wat op sy beurt skildkliervergroting (goiter) by kinders kan veroorsaak indien hulle hierdie melk drink. Hierdie Brassica-spesies kan by meeste diere ‘n vergroting van die skildklier asook anemie (bloedarmoede) kan veroorsaak. Daarom word aanbeveel dat die diere se dieet nie meer as een-derde van hierdie groentesoorte bevat nie.
 
Die beste opsie is om monsters van die beskikbare groentesoorte te laat droog en dan ‘n volledige ontleding van hulle voedingswaardes in ‘n geakkrediteerde voedingslaboratorium te laat doen. Wanneer hierdie voedingswaardes bekend is, kan dit vir ‘n ervare voedingskundige gegee word om spesifieke rantsoene vir die verskillende diere te formuleer.
 
Indien oorweeg word om van die groente in te kuil, moet ‘n kuilvoerspesialis soos dr. Robin Meeske (robinm@elsenburg.com) van die Outenikwaproefplaas naby George geraadpleeg word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 

15 Julie 2011


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X