Dierevoeding

Stoekmielies as voer vir skape en beeste

Vraag

Ek het mielies geplant en soek meer inligting. Wat is die beste tyd om mielies te sny en te stoek om die beste voedingswaarde te kry? Wat is die voedingswaarde van stoekmielies en watter opbrengs kan ek per hektaar verwag? Kan jy asb. ‘n voersamestelling wat stoekmielies bevat om bulkalwers en lammers mee te voer?

Antwoord

Die beste tyd om stoekmielies te sny en in tuithope te pak, is in die kuilvoerstadium, d.w.s. in die harde deegstadium wanneer die mielieplante ongeveer 65 % vog bevat.

Stoekmielies bevat 8 – 8.5 % ruproteïen met TVV waardes van 54 – 60 %.  Die totale opbrengs word tot ‘n groot mate deur die graanopbrengs bepaal en die riglyn is dat vir elke een ton graan daar ongeveer een ton plantmateriaal op droëlande is.  Indien die graanopbrengs dus 3 – 4 ton/ha is, is die totale opbrengs 6 – 8 ton/ha.

Vir beeste moet stoekmielies met ‘n 25 – 30 mm sif gemaal word en vir skape met ‘n 15 – 20 mm sif.  Skape vreet baie selektief en sal met grof gemaalde stoekmielies nie die stronke en growwer stamme vreet nie.

Stoekmielies kan net so gevoer word (onderhoud plus) met ‘n byvoeding van Voermol Supermol (V7267) teen 1 – 1.2 kg/GVE/dag en 180 – 200 g/KVE/dag.

Om kalwers mee af te rond (slaggereed te kry), gee die volgende mengsel:

Stoekmielies 250 kg,

Mieliemeel 430 kg,

Voermol SB100 (V4498) 150 kg,

Voermol Melassemeel (V 1995) 40 kg en

Voermol Procon33 (V12701) 50 kg.

Vir swaarder kalwers (meer as 250 kg) vervang 50 kg Procon met 50 kg mieliemeel.

Om lammers mee af te rond, gee die volgende mengsel:

Stoekmielies 300 kg,

Mieliemeel 410 kg,

Voermol SS200 (V8592) 200 kg,

Voermol Melassemeel 40 kg en

Procon 50 kg.

Geskryf deur” Hendrik van Pletzen (hendrikvp@mweb.co.za),  Tegniese Bestuurder, Voermol Voere (www.voermol.co.za)

15 Desember 2016


Kommentaar

Kommentaar (2) “Stoekmielies as voer vir skape en beeste

  1. Paul
    Paul

    Jammer vir dom die dom vraag. Wat is stoekmielies? Ek kry nie so n woord in die woordeboek nie.

    • Jan Bezuidenhout

      Paul,
      Stoekmielies is heel mielieplante wat afgesny en in gerwe op die land gepak word om droog te word en later gemaal te word.
      Groete


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X