Dierevoeding

Soutvergiftiging

Vraag

Ons boer in die Noordelike deel van Namibië. Ons buurman het vir my 'n baie interessante ding vertel en ek kry nêrens op die internet inligting om dit te bevestig nie. Hy vertel my dat sy Jerseykoei aan soutvergifting dood is. Sy't te veel sout ingekry en gevrek. Kry 'n mens so iets? Wanneer eet 'n dier te veel sout, ek meen, 'n dier behoort te weet wanneer hy te veel sout ingeneem het en self ophou.

Antwoord

 

Soutvergiftiging kom wel voor en diere kan vrek indien hulle te veel sout inneem.  Soutvergiftiging kom gewoonlik by diere voor wat vir lank nie sout gekry het nie of nie toegang tot soutbevattende lekke gehad het nie.  Sulke diere ontwikkel ‘n southonger en as hulle dan skielik toegang tot sout kry, is hulle soms geneig om soveel te vreet dat hulle vergiftig raak, veral as daar nie vars drinkwater of nie genoeg drinkwater is nie.  Soutvergiftiging kan ook voorkom deur die drink van water wat te hoë soutvlakke bevat of die vreet van plante wat op gronde met ‘n baie hoë soutinhoud groei (Suttle, 2010).

Sout word dikwels as ‘n vrye keuse lek aan veral weidende diere in ‘n losformaat of in ‘n blokformaat (klipsout) voorsien om self hulle inname te reguleer.  Sout word ook in lekke en voermengsels ingesluit om die inname daarvan te beheer (sogenaamde inname-inhibeerder).  Herkouers met vrye toegang tot sout vreet egter dikwels baie meer sout as wat hulle nodig het vir die bevrediging van hulle voedingsbehoeftes.  Probleme met die oormatige inname van sout kom veral in sommige van die lae reënvalgebiede voor waar die plantegroei en veral die drinkwater voldoende of selfs meer as voldoende sout bevat om aan die diere se behoeftes te voldoen.  Onder sulke omstandighede kan die voorsiening van soutbevattende lekke tot die inname van toksiese peile van sout lei.  Die simptome van soutvergiftiging in hierdie gebiede is van so ‘n aard dat dit maklik met fosfaattekortsimptome verwar kan word (Van Niekerk, 1996).  Diere wat ‘n fosfaat- en/of spoorelementtekort het, het dikwels ‘n abnormale “craving” na sout en gevolglik sal hulle te veel sout inneem indien hulle vrye toegang tot sout het.

Waar ureumbevattende lekke gevoer word, moet spesiale voorsorgmaatreëls getref word om vrektes as gevolg van ureumvergiftiging te voorkom.  Voordat ureumlekke uitgesit word, moet daar seker gemaak word dat die diere nie aan ‘n southonger ly nie.  Southongerdiere kan hulle maklik aan ureumbevattende lekke oorvreet wat dan tot ureumvergiftiging aanleiding kan gee.  Die sout moet ook fyn genoeg wees om skeiding van lekbestanddele te voorkom.  Lekke moet baie deeglik en streng volgens voorskrif vermeng word (Van Niekerk, 1996).

Toksisiteitsimptome

‘n Dier wat baie sout gevreet het, kwyl erg; steier rond en vrek na ‘n paar uur.  Diere wat langer leef, kwyl; lakseer (maagwerk met slymerige mis); is baie dors; begin dan swak word; slinger rond en vrek na ‘n dag of ‘n paar dae.  Sulke diere urineer ook besonders baie om van die oortollige sout te probeer ontslae raak.  Ander simptome wat waargeneem word, is die senuweestelsel wat aangetas word wat tot blindheid, spiersametrekkings en stuiptrekkings aanleiding gee (Puls, 1988).  ‘n Veearts moet so gou moontlik ingekry word om die aangetasde diere te behandel.  ‘n Ontsteking van die maag- en dermslymvlies is gewoonlik die enigste nadoodse letsel.

‘n Oormaat soutinname is nadelig vir diere se gesondheid veral as dit met ‘n proteïen- en/of ‘n energietekort saamgaan.  By vroulike diere gee ‘n oormaat soutinname aanleiding tot uierswelsel (uier-edema) in laatdragtigheid en vroeë laktasie.  ‘n Oormaat soutinname gee ook aanleiding tot ‘n verlies aan aptyt; voortdurende dors; vertraagde groei en agteruitgang in kondisie asook verlaagde produksie en vrugbaarheid.

Waar herkouers egter aan ‘n souttekort ly, word die volgende simptome waargeneem, naamlik ‘n ernstige verlies aan aptyt (swak eetlus); lusteloos; swakker groei; laer produksie; laer vrugbaarheid weens swak en ongereelde hittes of geen tekens daarvan nie en vassit van nageboortes; toon ‘n uiterse drang na sout (southonger) wat weerspieël word in ‘n abnormale eetlus (afwykende aptyt) of pika wat die vreet of lek van grond, klippe, pale, urinekolle of vreemde voorwerpe mag insluit; diere lek mekaar en het ‘n droë, kroes en regopstaande haarkleed (Puls, 1988; Van Niekerk, 1996).

Soutbehoefte van herkouers

Die soutbehoefte (uitgedruk as ‘n persentasie van die totale rantsoen op ‘n droë materiaalbasis) is 0.13 – 0.20 % vir vleisbeeste; 0.40 – 0.50 % vir melkkoeie en 0.23 – 0.46 % vir skape.  Die dienooreenkomstige maksimum verdraagsaamheidsvlakke vir sout is onderskeidelik 9.0 %; 3.4 % en 8.0 %.  Die algemene praktiese aanbevole soutvlakke in volledige rantsoene vir vleisbeeste is 0.2 – 0.5 %; 0.3 – 1.0 % vir melkbeeste en 0.3 – 0.6 % vir skape, maar dit moet aangepas word afhangend van die soutvlakke in die drinkwater en weiding.

Herkouers het ‘n baie hoë verdraagsaamheid vir sout en kan water benut wat vir ander diersoorte te brak is.  Eweneens het herkouers ‘n doeltreffende besparingsmeganisme as hulle te min sout inneem deurdat hulle dan min sout in die urine uitskei.  Sout is meer toksies wanneer dit in drinkwater voorkom (NRC, 1996).  Die aanbeveling is dat drinkwater minder as 0.5 % totale sout vir lewendehawe moet bevat.  Meer as 10 000 dpm sout (natriumchloried) in drinkwater kan vergiftiging veroorsaak terwyl meer as 7 000 dpm die kuddegesondheid en -prestasie negatief kan beïnvloed.  In die geval van skape kom toksisiteit voor indien ‘n volledige rantsoen meer as 3 (Puls, 1988) tot 4 % sout op ‘n droë materiaalbasis bevat (NRC, 2005).  Hierdie waarde is heelwat laer as die 9 % vlak wat vroeër dae as die toksisiteitsvlak vir skape aanvaar is.  In Australië word aanvaar dat die soutvlak in drinkwater vir skape minder as 1 % moet wees om nadelige gevolge te voorkom terwyl 1.5 % sout in drinkwater toksies vir skape kan wees.

Wanneer ‘n dier sout inneem, neem sy waterinname en urine-uitskeiding toe om die oormaat sout wat ingeneem is, uit te skei.  Wanneer die dier se fisiologiese kapasiteit bereik word om waterinname en urine-uitskeiding verder te verhoog, sal die dier sy soutinname verminder (NRC, 2007).  Soutinname is hoër wanneer sout in ‘n losmaat voorsien word as wanneer ‘n soutblok (klipsout) voorsien word (Smith et al., 1953).

Voorkoming van soutvergiftiging

Proteïenaanvulling verlaag die nadelige effekte van oormatige soutinname (Suttle, 2010).  Hoewel herkouers kan aanpas om drinkwater te verbruik wat ‘n relatief hoë soutkonsentrasie bevat (Suttle, 2010), moet die soutinhoud van lekke en voere aangepas word wanneer die drinkwater meer as 0.5 % sout bevat.  Wanneer lekke en voere dus geformuleer word, moet die totale soutinname, ook dié vanaf drinkwater en weiding, in ag geneem word.

Veeprodusente word gewaarsku om altyd hulle veesout-, ureum- en kunsmissakke duidelik te merk en nie alles deurmekaar te stoor nie.  Gevalle van ureum- en nitraatvergiftiging het al voorgekom waar dit in voere en lekke ingemeng is in plaas van gewone veesout omdat veesout en baie van die kunsmisstowwe baie eenders lyk.

Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee, Professionele Veekundige (400328/83), Kleinveevoeding- en Bestuurspesialis (jasperco@iafrica.com)

Lees ook:

Soutinname, afronding en dro? lusernlande en opblaas
Onbeperkte soutinname
Soutgebruik in byvoeding
Soutlekke en artrose


Kommentaar

Een kommentaar op “Soutvergiftiging

  1. Klaas
    Klaas

    in google tik in: “sodium chloride poisoning cattle”, daar verskyn so 1.7 miljoen “hits”, een van hulle (van PubMed) lyk so: Sodium chloride poisoning in cattle.

    Trueman KF, Clague DC.

    Abstract

    Consumption of a sodium chloride based supplement followed by food and water restriction in yards for over 30 hours, resulted in nervous disorders in 5 of 60 three-year-old steers within hours of being released into a paddock. Clinical signs were associated with polioencephalomalacia which was confirmed in 2 of 3 affected steers by microscopic examination of brains. Oedema of the corpus striatum, thalamus and midbrain was observed in 2 animals, and vascular necrosis with neutrophil invasion into the vessel walls was seen in the cerebrum of one steer. Consideration of the history, clinical signs and necropsy findings resulted in a diagnosis of indirect salt poisoning. The affected animals had the lower body weights in the group.

    Hoop die wil help

    Groete en sterkte


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X