Dierevoeding

Sorghumkuilvoer aan lakterende ooie sonder byvoeding

Vraag

Kan sorghumkuilvoer aan lakterende ooie gevoer word sonder enige byvoeding? Die ooie word snags gekraal en loop bedags op baie goeie natuurlike weiding.

Antwoord

Sorghumkuilvoer kan nie alleen aan weidende lakterende ooie gevoer word nie omdat saam met die natuurlike weiding dit ‘n ongebalanseerde voedingstofinname vir optimale melkproduksie tot gevolg het. Die ooi se totale voedingstofinname van alle bronne moet in ag geneem word met die balansering van die ooi se rantsoen. 

Sorghumkuilvoer, is net soos alle kuilvoerbronne, baie hoog in vog, wat lae droë materiaalinname tot gevolg het. Sorghumkuilvoer bevat ongeveer 70 % vog wat beteken dat vir elke 1 kg nat kuilvoer wat die ooi inneem, neem sy 700 g vog (water) en 300 g droë materiaal in. Sorghumkuilvoer is verder baie laag in deurvloeiproteïen en ruproteïen met ‘n medium energiekonsentrasie, met ander woorde dit sal nie aan die lakterende ooi se basiese behoeftes vir optimale melkproduksie voldoen nie.
 
Hoë melkproduksie deur lakterende ooie is van kardinale belang vir doeltreffende en winsgewende lamproduksie (Geenty, 2010). Om ‘n hoë lamgroeitempo te verseker, moet ooie daagliks tussen twee en drie liter melk produseer. Indien ‘n lakterende ooi se voedingstofinname onvoldoende is, sal sy begin om haar eie liggaamsreserwes (bv. vet) af te breek. Indien ooie gedurende die eerste twee maande van laktasie meer as 10 % van hulle liggaamsmassa verloor, gaan hulle ‘n laer lampersentasie met die daaropvolgende lamseisoen hê. Afhangend van die hoeveelheid massaverlies, kan die daaropvolgende lampersentasie drasties verlaag Gevalle is aangeteken waar ernstige massaverliese die daaropvolgende lampersentasie met tot 50 persentasie-eenhede verlaag het.
 
Om sorghumkuilvoer dus die beste aan te wend, is om dit deel van ‘n volledige lammerooirantsoen te maak. Afhangend van die hoeveelheid en gehalte van die beskikbare weiding; kondisie en massa van die ooie asook die aantal lammers wat per ooi soog, kan die onderstaande volledige lammerooirantsoen teen 3 tot 5 % van liggaamsmassa aan die ooie gevoer word. Voer die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag en sorg dat voldoende vreetspasie beskikbaar is sodat al die ooie gelyktydig kan vreet. Die sogende lammers moet kruipvoeding ontvang.
 
            150 kg gemaalde lusern
            350 kg gemaalde mielies
            250 kg sorghumkuilvoer
            100 kg Voermol Maxiwolkonsentraat
            150 kg Voermol Procon
             10 kg voerkalk
          1 010 kg TOTAAL
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
1 November 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X