Dierevoeding

Sojavergiftiging

Vraag

my ooie met lammers (6weke oud) loop op soya reste. Van die skaap lyk of hulle malkop is. Daar is 2 al dood. Kan daar vergiftiging met soya boontjies plaasvind? Moet n mens n lek saam gee op die reste?

Antwoord

Heel soja bevat ongeveer 18 tot 20 % vet m/m (massa per massa). Die dieet van ‘n herkouer behoort nie meer as ongeveer 5% vet te bevat nie. Twee persent van die vet mag kom van oliesade, indien meer vet ingesluit word, moet dit kom van rumen-inerte vet.

http://www.milkproduction.com/Library/Scientific-articles/Nutrition/Fats/

Skape sal die boontjies in sojabale of strooi uitsoek en vreet en van die strooi vermy.

Vet onderdruk die rumen mikrobe-funksie en hierdie mikrobes kan nie die vet op sigself benut nie. Daar is ‘n toets, die meteleenblou reduksietoets wat gedoen kan word om die status van die rumenmikrobes te bepaal.

Vir die produksie van proteїen deur mikrobes word daar altyd koolstof, waterstof en suurstof  (-CHO) saam met stikstof benodig (dus beide ‘n stikstof- en koolhidraatkomponent). As die rumenmikrobe biomassa afneem, kan daar nie genoeg proteїen vir die dier geproduseer word nie en die skape bly “dun”.

Die vlugtige vetsuurproduksie (VFA), wat nodig is vir glukose vervaardiging in die lewer, neem af met nadelige gevolge vir die metaboliese siklus.

Wat verder kan gebeur, is dat die skape honger word a.g.v. lae vlakke van glukose. Indien daar nog lekblokke wat hoë soutpersentasie (20% m/m) bevat, beskikbaar is, kan ‘n oorname van sout ingeneem word en soutvergiftiging kan plaasvind as daar nie genoeg water deur die skape ingeneem word nie.

So ‘n geval het in 1983 in Marikana voorgekom. Die stropingsproses van sojas het te laat plaasgevind en gevolglik het baie van die sade oopgespring en baie vermorsing van boontjies het plaasgevind. Skape het op die afgeoeste lande gewei en te veel boontjies gevreet.

Die diagnose van soutvergiftiging is bevestig op histopatologie – eosinofiliese meningo-ensefalitis.

Geskryf deur: dr. Willem Shultheiss, Ceva Dieregesondheid,

Na my mening is daar 2  sindrome wat gesien word.

Eerstens is die sojaboonreste nie goeie kos nie.

Ons sien gereeld as diere oorvreet aan sojabone dat hulle vrek. Het eenkeer  5 dooie beeste gehad wat in ’n stoor ingekom het en skoon sojabone gevreet het.

Sojas het ‘n hoë vet inhoud en ek dink dat al die rumenorganismes vernietig word as hulle oorvreet. Die hoë vet konsentrasie in ‘n rantsoen is bakteriedodend en verder bedek die vet die vesel in die rantsoen wat dit dan ontoeganklik maak vir bakteriële vertering.

Die rumenorganismes vervaardig vitamien B 1 (tiamien) en as die mikrobes vernietig word, ontstaan daar ‘n toestand wat ons CCN noem.

Die volgende definisie van CCN word gegee in: Saunders Comprehensive Veterinary Dictionary, 3 ed. © 2007 Elsevier, Inc. All rights reserved

Polioencephalomalacia

Softening of the cerebrocortical gray matter distributed in a laminar pattern. Called also laminar corticalnecrosis (CCN), cortical necrosis.

Ruminant polioencephalomalacia

A sporadic disease of unknown etiolgy occurring in cattle and sheep. The lesion is accociated with thiamine deficiency or a disturbance in thiamine metabolism.

It is characterized by a sudden onset of blindness, nystagmus, opisthotonos and tonic  convulsions. Mild cases may remainstanding, walk aimlessly and head press. At autopsy  there is cerebral edema and laminar necrosis of the gray matter of the brain. Called also cerebrocortical necrosis (CCN).

Saunders Comprehensive Veterinary Dictionary, 3 ed. © 2007 Elsevier, Inc. All rights reserved

Dieselfde het gebeur toe beeste ‘n oormaat sonneblomolie ingeneem het nadat ‘n tenker omgeslaan het en die olie in ‘n kamp ingeloop het.

Geskryf deur:dr. Neil Fourie (neil@nfourie.co.za)

Sojareste is baie swak voeding en hoogs onverteerbaar. Moenie gebluf word deur die paar bone wat jy in die hooi kry nie. Die rumen is altyd vol omdat die sojahooi nie verteer kan word nie. Kyk eerder na die liggaamskondisietelling eerder as na die rumenvulling. Diere vrek van proteїen- en energietekorte. Melkkoeie verstik soms aan onverteerbare herkoutjies of spoeg dit uit. Rumen impaksie verlaag DMI (droë materiaal inname).

Geskryf deur: Anonieme veearts

Rou sojabone is nie giftig nie, maar soos in die geval van grane, kan ‘n oormaat aanleiding gee tot spysverteringsteurnisse.  ‘n Oormaat sojabone kan aanleiding gee tot nitraatvergiftiging.

Die rou sojaboon is hoog in ruproteïen (ongeveer 36 %),  maar dit het sekere beperkinge in die vorm van anti-voedingsfaktore soos bv. tripsien- en chemotripsieninhibeerders en ‘n laag verteerbare aminosuurprofiel.  Dit veroorsaak dat lammerooie op sojareste dik en taai biesmelk het, min melk produseer en gevolglik groei lammers swak.

Hitteprosessering van sojabone hef die anti-voedingsfaktore (ook urease) op en ontsluit die voedingspotensiaal, maar resteweiding  kan nie geprosesseer word nie en daarom moet die regte lekaanvulling gegee word om die beperkinge te oorkom.

Die maal van reste is nie koste-effektief nie  aangesien die voedingswaarde nie veel verhoog word nie. Na my mening is die vetinhoud die mees beperkende faktor. Hoë vet mag ook minerale soos magnesium se biologiese beskikbaarheid nadelig beїnvloed (vorm sepe in die rumen). Beperk/vermy ander oliesade (bv. grondbone, katoen) as sojsaad vrylik beskikbaar is. Geofagie (eet van grond) mag ook n rol speel by nie-selektiewe vreters.

(Dr. Gerhard Harmse, persoonlike mededeling)

Ureum moet nie in lekke en rantsoene ingesluit word waar rou sojabone gebruik word nie.  Die urease aktiwiteit in die rou sojabone veroorsaak dat ureum vinnig na ammoniak omskakel en dit kan aanleiding tot ureumvergiftiging gee.

Geskryf deur: Hendrik van Pletzen, Tegniese Bestuurder, Voermol Voere (hendrikvp@mweb.co.za)

Saamgestel deur: Dr. Faffa Malan

28 Junie 2016


Aanhangsels

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X