Dierevoeding

Skeer van skape in ‘n voerkraal

Vraag

Ek het êrens gehoor dat as mens Merinolammers in ‘n voerkraal wil sit, jy hulle voor inname moet skeer omdat hulle dan vinniger sal groei. Ek wil 6 maande oue Merinolammers vir ± 8 weke in ‘n voerkraal sit en wil graag uitvind, indien ek besluit om die lammers by uitname na die 8 weke eers te skeer en dan te laat slag of die 8 weke se ekstra wolgroei nie sal opmaak vir die verlies aan gewig omdat die lammers nie voor inname geskeer was nie?

Antwoord

Daar is nie net een antwoord op u vraag nie.  By verre die meeste voerkrale skeer lammers met inname en dit is deel van hul prosesseringsprosedure en prakties die gerieflikste opsie.  Australiese navorsing wys dat geskeerde skape se voerinname hoër is as ongeskeerde skape met beter groei , maar die voeromset is swakker en dus nie noodwendig meer winsgewend nie.  Onder hoë vlak voedingsomstandighede kan goeie gehalte Merinolammers tot 10g skoonwol per dag produseer en oor ‘n 8 weke voerperiode is dit ongeveer R50 werd (Des. 2014).  Ongeskeerde lammers se energiebehoefte vir onderhoud is laer as geskeerde lammers en het ‘n wyer termies neutrale sone, d.w.s. die temperatuurreeks waaronder hulle gemaklik voel en optimum produseer is wyer a.g.v. wol se goeie isolasie-eienskappe.

Verder hang dit af of die voerkraalomstandighede en bestuur bevorderlik is vir skoonwolproduksie al dan nie.  Nat omstandighede en lammers met lang wol wat lakseer gee aanleiding tot brommeraanvalle en al die negatiewe wat daarmee gepaardgaan.  Oormatige stof, voer wat in die wol beland of enige ander faktor wat skoonopbrengs en wolkwaliteit verlaag, verlaag wolinkomste en dan is dit beter om met inname te skeer. Net so geld die teenoorgestelde en indien u voerkraalomstandighede bevorderlik vir skoonwolproduksie is, sal dit beslis die moeite werd wees om aan die einde van die voerperiode te skeer.  Laat ongeveer 14 dae toe vir skeerwonde om te herstel.

Geskryf deur: Hendrik van Pletzen, Tegniese Bestuurder, Voermol Voere, hendrikvp@mweb.co.za

www.voermol.co.za

9 Desember 2014


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X