Dierevoeding

Skape met lang onderbekke

Vraag

Van tyd tot tyd kry ek dit dat van my ramme wat ek in die stal het en lank voer vir skoue en veilings begin om oor te byt (lang onderbek). Ramme kry volvoer met tef ad lib. 1.Wat veroorsaak dit? 2.Hoe kan dit voorkom word? 3.Kan dit herstel as ram op weiding loop? 4.Is die probleem oorerflik?

Antwoord

Ons het dikwels gesien dat hamels wat vir lang tye vir proefdoeleindes in skure in diep "halwe sirkelvormige" bakke gevoer word ‘n lang onderbek of -kaak ontwikkel. Hierdie verskynsel kom van tyd tot tyd voor waar skape vir ‘n lang tyd voer uit die bakke vreet. Die onderkaak "skep" letterlik die voer op om dit beter te kan vreet en as gevolg daarvan oorontwikkel die spiere van die onderkaak waardeur die onderkaak dan vorentoe "skuif" wat dan tot hierdie toestand aanleiding gee. Wanneer hierdie diere weer op weiding geplaas word, keer die onderkaak se lengte mettertyd na normaal terug. Aangesien die toestand na ‘n tyd weer na normaal terugkeer indien hulle op weiding geplaas word, is dit ‘n bewys dat dit nie geneties of permanent van aard nie. Die probleem van ‘n lang onderbek kan dalk voorkom word deur die voerbak vlakker te maak. 

‘n Kort onderkaak of -bek kom meer dikwels voor en vroeër dae is geglo dat dit net geneties van aard is en al sulke diere is dan noodwendig uitgeskot omdat hulle baie moeilik gevreet het. Sulke diere word met ‘n kort onderbek gebore. Nuutste oorsese navorsing toon dat hierdie toestand van ‘n kort onderkaak nie altyd net geneties van aard is nie, maar dat ‘n mangaantekort dit ook kan veroorsaak. Bewyse is gevind dat hierdie toestand by lammers beperk en in sekere gevalle voorkom kan word indien ooie driemaal per jaar (vier weke voor paring; in middragtigheid en weer vier weke voor lam) Multimin gespuit word om hulle mangaantekort te oorbrug. Hierdie ooie se lammers moet die eerste jaar van hulle leeftyd ook driemaal Multimin gespuit word met die eerste inspuiting met speen en dan nog tweemaal voor 12 maande ouderdom. Mangaantekort kom veral voor waar diere ‘n hoë kalk (kalsium), fosfor, yster en swawelinname het.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Bestuurder, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
30 Augustus 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X