Dierevoeding

Prosopispeule

Vraag

Wat is die TVV van Prosopispeule?

Antwoord

Prosopis is ook bekend as die Suidwesdoring (Van Wyk et al., 2011). Prosopis is vir die eerste maal in die vroeë 1900’s in Namibië bekendgestel. Die toetrede van Prosopis tot die Namibiese planteryk was dramaties, in tyd en ruimte, en vandag is die plante Namibië se mees wydverspreide en aggressiewe indringerspesie. Vandag is die indringings langs riviere, droë lope en laagtes, veral in die suide en weste van Namibië, kommerwekkend en is menige grondeienaar in die geweste raad-op met die probleem. Prosopis het ook ‘n lastige indringer in die Noord-Kaap van Suid-Afrika geword en op baie plekke vorm dit nou ondeurdringbare ruigtes en is ‘n verklaarde indringerplant (Van Wyk et al., 2011). 

Prosopis-indringings het ‘n baie nadelige ekologiese impak op die omgewing deurdat dit ander plante verplaas of heeltemal oorrompel en sodoende verhinder dit toegang tot weiding. Daar is egter heelwat prosopis-eters wat van die geleentheid gebruik maak om in die boskasies te skuil en sodoende na nuwe omgewings te migreer. So kry ons vandag koedoes, vlakvarke, bobbejane en dassies op plase naby die Kgadikgadi-oorgrenspark, meer as 200 km weg van hulle natuurlike voorkomsstreek.
 
Prosopis is opportunistiese watergebruikers. Waar oppervlakwater volop is, floreer dit en kan hulle selfs standhoudende poele drooglê. In droër dele is die plante egter beskeie, maar baie doeltreffende watergebruikers, tevrede met tot so min as 75 mm reën per jaar. Prosopis onttrek vermoedelik groot hoeveelhede water in transito (met ander woorde water tussen die oppervlak en die watertafel) omdat 40 % van die wortelmassa in die eerste 30 cm voorkom, meer as 80 % in die eerste 100 cm en net 4 % dieper as 2 m. Kompetisie met ander vlak-gewortelde plante is gevolglik hewig. Dit en die gebrek aan sonlig onder die plantkroon verklaar die afwesigheid van laaggroeiende plante soos gras en kruie in tipiese Prosopis-indringings.
 
Vloeiende water is ‘n voorvereiste vir Prosopis-indringings om sade te vervoer en nie soseer vir benatting nie. ‘n Nat tydperk van slegs agt dae is nodig vir die plantjie om na ontkieming te vestig. Gedurende dié agt dae verleng die wortel byna sewevoudig vergeleke met die bogrondse deel. Hierna is die worteltjie diep genoeg om die plantjie te laat oorleef, selfs ten spyte van ‘n totale afwesigheid van oppervlakwater.
 
Prosopis produseer geweldig baie saad. ‘n Enkele peul kan tot 30 saadjies bevat en ‘n getal van 25 000 tot 30 000 saadjies per kilogram peule is nie onmoontlik nie. Miljoene van die saadjies word jaarliks afgegooi waarvan ‘n groot persentasie in die grond beland en dan dormant bly tot die regte ontkiemingsomstandighede aanbreek. Om hierdie probleem aan te spreek, is twee tipes kewertjies in die tagtigerjare in Namibië losgelaat. Die kewertjies lewe uitsluitlik van die saadjies en sal vir die doel ‘n reeks gaatjies in elke peul boor om by die saadjies uit te kom. In die proses vernietig die kewertjies die saadjie se ontkiemingsvermoë.  Die kewertjies val net die droë peule aan, met ander woorde nadat die peule afgeval het. Dit is presies dieselfde tyd wanneer alle Prosopis-eters op die bome toesak. Die doeltreffendheid van die kewertjies word dus erg gekortwiek wanneer onbeheerde toegang van ander diere in die stande tydens oestyd toegelaat word. In alle beskeidenheid, selfs met ‘n doeltreffendheid van 99 % van die kewertjies, bly daar nog 250 tot 300 saadjies per kilogram peule beskikbaar vir ontkieming.
 
Aan die positiewe kant moet darem toegegee word dat Prosopis die vreetbare biomassa van landskappe waar hulle voorkom merkwaardig verhoog. Die plante verskaf ook broodnodige skadu en skuiling. Tydens die vroeë somer het Prosopis ‘n voelbare afkoelingseffek op die onmiddellike omgewing wat die grondtemperature draagliker maak. Prosopis-meubelhout is een van die bestes ter wêreld. Houtskool van Prosopis is beter as enige ander soort beskikbaar in Namibië. Daarbenewens lewer die plante ‘n indrukwekkende verskeidenheid neweprodukte soos pale en ander kampmateriaal, splinters (chips) vir produkte soos Weberbraaie en uitstekende vuurmaakhout. ‘n Besonder goeie en geurige heuning kan tydens die bloeiseltydperk geproduseer word. Navorsing toon dat ‘n menigte ander biotegnologiese produkte van die boomsoort ontwikkel kan word.
 
Prosopis het inderdaad merkwaardige kenmerke, so het dit ‘n relatiewe hoë voedingswaarde volgens onderstaande tabel.
 
Item
Verteerbare
proteïen
TVV
Vesel
Kalsium
Fosfor
Prosopispeule
17.0 %
71.6 %
26.3 %
0.5 %
0.08 %
Kameeldoringpeule
8.1 %
60.6 %
30.4 %
0.69 %
0.14 %
 
Die eintlike potensiaal van Prosopis lê in die peule. Groot bome kan tot 100 kg peule per jaar lewer en met net 100 sulke bome per hektaar is ‘n opbrengs van 10 ton moontlik. Die bestaande bome se produksie kan verhoog word deur dit te snoei en meer sonlig toe te laat, maksimum toegang tussen die bome moet verseker word en die beste oesmetodes moet aangewend word. Hiervoor moet die terrein onder die bome skoongehou word. Tydens oestyd mag geen diere in die bome toegelaat word nie en alle peule moet voor die eerste reën opgetel wees.
 
Peule kan vir baie lank geberg word, maar dit is van uiterste belang dat dit nooit ongemaal aan diere gegee word nie. Byna geen diere kry die saadjies van Prosopis verteer nie en die maagsappe van die meeste hoefdiere stimuleer net die ontkieming van die saadjies na ontlasting. Die proteïen is in die saadjie opgesluit en derhalwe moet die peule deeglik gemaal word voordat dit as ‘n voer aangewend word. ‘n Gewone hamermeul is nie 100 % doeltreffend vir die breek van die saadjies nie. Daar bestaan wel twee alternatiewe, naamlik ‘n hoë rotasie, hoë kapasiteit hamermeul met fyn siwwe of ‘n rolmeul. Dit help om strooi of kaf met die peule te meng omdat dit kompaksie in die meul verhinder. Die meel kan hierna verwerk word as ‘n volledige rantsoen met ander grondstowwe. Normaalweg kan al die mieliemeel in ‘n onderhoudslek met Prosopismeel; die helfte van die mieliemeel in ‘n produksielek en tot 50 % van die mieliemeel in ‘n volledige rantsoen met Prosopismeel vervang word.
 
Die meeste van voorafgaande inligting is gegrond op ‘n studie wat deur dr. Pierré Smit gedoen is en hy kan by psmit@unam.na gekontak word vir meer inligting.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
16 Januarie 2012
 
Lees ook:
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X