Dierevoeding

Mielie- en koringsemels as deel van ‘n voerkraalrantsoen vir kalwers

Vraag

Ek kan mielie- en koringsemels teen 'n baie goeie prys bekom. Is daar 'n voer wat semels bevat wat ek kan meng vir my kalwers in 'n voerkraal en nog dieselfde groei sal gee as mielies?

Antwoord

Daar moet seker gemaak word of dit wel mieliesemels is en of dit nie hominy chop is nie. Daar is ‘n groot verskil in die voedingswaarde van mieliesemels en hominy chop. Hominy chop, wat meer as 8 % vet bevat, kan mieliemeel totaal op ‘n kilogram vir kilogrambasis vervang word en baie dieselfde groei kan verkry word as wanneer mielies as die enigste graanbron gebruik word. Die beste is altyd om enige nuwe grondstof wat gebruik word eers in ‘n geakkrediteerde voedingslaboratorium te laat ontleed om sy werklike voedingswaarde te bepaal voordat dit gebruik kan word om ‘n rantsoen te formuleer.

 Waar die Voermolstelsel gebruik word om kalwers af te rond, met ander woorde die kragvoer- en ruvoergedeelte word apart in ‘n kafeteriastelsel gevoer (raadpleeg Voermol se Produkhandleiding of www.voermol.co.za vir meer inligting in die verband asook vir voedingsinstruksies) kan die volgende kragvoermengsel gebruik word om die kalwers af te rond:
            750 kg hominy chop of gemaalde mielies
             50 kg Voermol Procon
            200 kg Voermol SB 100
         1 000 kg TOTAAL
 
Die kalwers moet stadig en geleidelik oor ‘n 10 dae periode aangepas word om suurpens, laminitis, opblaas en vrektes te voorkom. Sorg dat daar voldoende vreetspasie is sodat al die kalwers gelyktydig kan vreet. Voer elke dag se voer in minstens twee tot drie porsies (bv. oggend, middag en laatmiddag). Ruvoer moet vir die volle duur van die afrondingsperiode ad lib. eenkant bygevoer word.
 
Mielie- en koringsemels se energiewaarde is baie laer as dié van mielies en daarom kan slegs 100 kg van die mielies in bogenoemde kragvoermengsel met semels vervang word. As ‘n duimreël moet semels minstens 15 % goedkoper as hominy chop wees voordat dit koste-doeltreffend sal wees om 10 % semels in die kragvoermengsel in te sluit.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
9 April 2012

Kommentaar

Een kommentaar op “Mielie- en koringsemels as deel van ‘n voerkraalrantsoen vir kalwers

  1. Kirstein Kok
    Kirstein Kok

    Wat is die mees ekonomieste om kalwers te “backround” tot hulle reg is vir voerkraal, en dan om hulle te voer tot slagryp?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X