Dierevoeding

Melkproduksie van ooie en melk wat ‘n Dorperlam per dag benodig

Vraag

Ek wil graag weet wat is die presiese hoeveelheid melk wat 'n Dorperlam per dag benodig, vanaf geboorte totdat hy gespeen is.

Antwoord

Die vraag dui nie aan of dit die hoeveelheid melk is wat ‘n lam wat aan ‘n ooi suip benodig nie en of dit ‘n lam is wat kunsmatig (hans) grootgemaak word nie. In die eerste vier tot ses weke van laktasie kan die melkproduksie van die ooi bereken word vanaf die groeitempo van die lam. Na hierdie tydperk begin die lam betekenisvolle hoeveelheid vaste stowwe (weiding en kruipvoer) vreet en is die beraming van die melkproduksie van die ooi vanaf die die lam se groeitempo nie baie akkuraat nie. Die doeltreffendheid waarmee melk op ‘n droë materiaalbasis na liggaamsmassatoename (groei) omgesit word, is ongeveer 1:1. Die droë materiaalinhoud van ‘n ooi se melk is ongeveer 20 %. Deur dus die groeitempo van ‘n enkelinglam, gedurende die eerste vier tot ses weke na geboorte, met 5 te vermenigvuldig, kan die melkproduksie van die ooi met ongeveer 90 % akkuraatheid beraam word. ‘n Enkelinggebore lam wat dus gedurende hierdie periode gemiddeld 300 g per dag groei, sal dus ongeveer 1.5 kg melk per dag inneem of benodig (MLC, 1988).

 
Navorsingsproewe toon die gemiddelde melkproduksie in kilogram per dag van weidende ooie as volg aan (MLC, 1988):
 
Aantal lammers wat soog
Tipe weiding
Maand van laktasie (kg/dag)
1 ste
2 de
3 de
Ooie met tweelinge
Aangeplante
3.00
2.25
1.50
Natuurlik
1.90
1.60
1.10
Ooie met enkelinge
Aangeplant
2.10
1.70
1.05
Natuurlik
1.25
1.05
0.70
 
Die gemiddelde melkproduksie die eerste ses weke van laktasie van Dohnemerino-ooie wat ses verskillende volledige lammerooirantsoene ontvang het, het gevarieer van 1.89 tot 2.74 kg per dag (Carosini, 1993). Melkproduksie is direk afhanklik van die deurvloeiproteïen- en energie-inhoud van die lammerooirantsoen asook die vlak waarteen dit gevoer word.
 
Waar lammers kunsmatig op melkvervanger grootgemaak word, word die vervaardigers se voorskrifte gevolg met die hoeveelheid melk wat daagliks aan lammers gevoer word. Die daaglikse melkinname van die lam is afhanklik van die droë materiaalinhoud van die aangemaakte melkvervanger, sy vaste stofinname vanaf weiding of kruipvoer asook van die lam se groeitempo en sy ouderdom. Uit ‘n ekonomiese oogpunt moet kunsmatig grootgemaakte lammers so gou moontlik gespeen word. Kunsmatig grootgemaakte lammers kan vanaf 42 dae ouderdom gespeen word, mits hulle minstens 5 kg melkvervanger verbruik het, kruipvoeding ad lib. ontvang het en minstens 15 kg weeg. Beter resultate word egter verkry indien die lammers 10 kg melkvervanger verbruik, die lammers dan op 60 dae ouderdom gespeen word en swaarder as 15 kg weeg, verkieslik 20 kg. Om dit te bewerkstellig word ‘n hoë gehalte kruiprantsoen (75 kg fyngemaalde lusern + 500 kg fyngemaalde mielies + 150 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel) vanaf sewe dae ouderdom ad lib. gevoer word. Hierdie lammers word gespeen sodra hulle die minimum teikenmassa van 20 kg bereik het op voorwaarde dat hulle vir minstens drie opeenvolgende dae minstens 250 tot 300 g, maar verkieslik 350 g kruipvoer per lam per dag gevreet het. Na speen moet die kruipvoer nog steeds ad lib. gevoer word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.co.za)
 
9 April 2012

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X