Dierevoeding

Lammers grootmaak vir inkomste

Vraag

Ek is 'n jong sitrusboer van Patensie. Ek het spasie naby my huis wat ek wil benut. Die gedagte om lammers groot te maak het by my opgekom. Maar ek het absoluut geen kennis daarvan nie! Watter ras lam koop ek? Watter massa lam moet ek aankoop? Op watter massa verkoop ek? Watter voeding gee ek hulle? Watter dosering moet hul ontvang met aankoms sowel as in die grootmaakproses? Bertus (bertuss@lantic.net)

Antwoord

1.Watter ras lam koop ek? Dit hang af watter ras beskikbaar is. SA Vleismerino- of Dohnemerinolammers behoort goed te vaar.

2. Voorgestelde gewig? Minimum massa van 25 kg, maar ideaal 28 – 32 kg.
3.Hoe swaar laat ek hulle raak? Ongeveer 42 tot 45 kg, op voorwaarde dat hulle nog ‘n A2 of A3 gradeer.
4. Watter voeding moet ek hul gee, siende dat hul meeste in voerkraal sal wees? Gebruik die volgende voerkraalmengsel:  150 kg gemaalde lusern (25 mm) + 525 kg gemaalde mielies + 200 kg Voermol SS 200 + 80 kg Voermol Melassemeel + 50 kg Voermol Procon.  Die lammers moet as volg op die voerkraalrantsoen aangepas word:
(1)    voer die lammers die eerste dag slegs 100 g/lam van die Voerkraalrantsoen;
(2)    verhoog die voedingspeil van die Voerkraalrantsoen elke dag daarna met 100 g/lam, m.a.w. Dag 2: 200 g/lam; Dag 3: 300 g/lam, ensovoorts totdat ‘n peil (ad lib.) bereik word waar hulle begin om van die voer te los;
(3)    voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag;
(4)    voer ongemaalde lusernhooi eenkant ad lib. by vir die eerste 14 dae waarna dit gestaak word;
(5)    sorg dat daar voldoende vreetspasie is sodat al die lammers gelyk kan vreet, m.a.w. moenie selfvoerders gebruik nie, want dan gaan die lammers hulle aanvanklik oorvreet wat tot laminitis, suurpens en vrektes aanleiding kan gee en
(6)    na die aanpassingsperiode (eerste 10 dae) moet die daaglikse hoeveelheid voer verkieslik drie maal (oggend, middag en laatnamiddag) per dag gevoer word.
Raadpleeg die aangehegte dokument vir meer inligting oor voerkraalafronding.
5. Watter dosering moet hul ontvang met aankoms sowel as in die grootmaakproses?  Raadpleeg die naaste veearts of verteenwoordiger van ‘n farmaseutiese maatskappy.  Die lammers moet met ‘n breë spektrummiddel teen rondewurms, lintwurms en neusvlieglarwes behandel word.  Spuit die lammers ook met ‘n multiklostridiale entstof asook Pasteurella om hulle teen pasteurellose en klostridiale siektes te immuniseer.
VOERKRAALAFRONDING VAN LAMMERS IN PERSPEKTIEF
Diversifisering word algemeen aanvaar as ‘n strategie om die risiko in landbou te beperk. In hierdie verband behoort voerkraalafronding ‘n integrale deel van skaapboerdery uit te maak om die risiko te verlaag. Winsgewende afronding van lammers verg ‘n mate van kundigheid, asook ‘n ho? bestuursvlak.
Die skaapprodusent moet voortdurend uitdagings die hoof bied om sy onderneming winsgewend te bedryf. Ekstensiewe skaapboerdery is van tyd tot tyd onderhewig aan weidingskaarstes weens ramp- of seisoendroogtes, prysskommelings in die vleismark weens die gehalte van die karkasse wat geproduseer word, asook die veranderinge in die aanvraag en/of aanbod (bv. onbeheerde bemarking). Indien ‘n produsent op ‘n hoë vleisprys wil aanspraak maak, sal hy aan verskeie aspekte aandag moet skenk. In hierdie verband noem dr. Johan Willemse dat die beheer oor aanbod al hoe belangriker word en dat die dae verby is dat die produsent enige hoeveelheid, enige gehalte en wanneer hy wil, kan lewer. Dit is hier waar voerkraalafronding ‘n sleutelrol kan vervul. Voerkraalafronding het ten doel om:
·       Lammers markklaar te kry in tye van weidingskaarste.
·       Kapitaalomset te versnel omdat lammers gouer bemark word.
·       Veldagteruitgang en oorbeweiding in droë tye te voorkom omdat dit veebelading verlaag en gevolglik kan veld gouer herstel na reën.
·       Druk op weidings te verlaag en weidings kans te gee om gouer te herstel en reserwes op te bou.
·       Vleisproduksie per hektaar te verhoog omdat meer teelooie aangehou kan word, want lammers word gouer van die veld verwyder.
·       Weiding te spaar en dus byvoeding te verlaag indien dieselfde getal teelooie aangehou word.
·       Waardetoevoeging te verseker deurdat gradering verbeter en swaarder karkasse geproduseer word.
·       Risiko te versprei, want lammers kan verskillende tye bemark word.
·       Lammers vroeër te speen sodat ooie gouer gepaar kan word, byvoorbeeld in stelsels waar ooie elke agt maande lam. Waar lammers vroeër gespeen word, herwin ooie gouer hulle massa. Vir elke 1 kg wat ‘n ooi swaarder is met paring, styg die lampersentasie met ongeveer 1.5 %.
·       Om inkomste te verhoog omdat dit vertikale uitbreiding van skaapboerdery moontlik maak.
·       As ‘n aparte vertakking bedryf te word waar lammers ook ingekoop word.
‘n Skaapvoerkraal vereis baie meer kundigheid asook ‘n baie hoër bestuurspeil as dié van ‘n beesvoerkraal en die vlak daarvan is meer vergelykbaar met dié van ‘n melkery. Voer-omsetting (kg voer ingeneem per kg massatoename) is die heel belangrikste faktor om in ‘n voerkraalonderneming op te konsentreer om winsmarges te verbeter veral in tye van hoë voerpryse en relatief lae vleispryse. Voeromsetting (VOS) verbeter soos die energiekonsentrasie van die rantsoen verhoog deurdat die voerinname daal terwyl die groeitempo (GDT) toeneem. Die tipe en gehalte van die voerkraallam en die -rantsoen asook die vlak van die voerkraalbestuur, veral suksesvolle aanpassing, speel ook ‘n kardinale rol om GDT en VOS en dus wins te verbeter.
‘n Deel van die ingenome voedingstowwe word vir die onderhoud van die dier self gebruik, met ander woorde hierdie voedingstowwe is nie vir groei beskikbaar nie. Hoe langer die dier dus in die voerkraal staan, hoe meer voedingstowwe word dus vermors. Dit is dus logies dat hoe beter die voeromsetting en hoe hoër die groeitempo is, hoe meer kostedoeltreffend is die afronding van die lammers en hoe meer wins word genereer. 
Tipe en gehalte voerkraallam
Die gehalte van die lammers wat afgerond word, het ‘n groot invloed op die voeromsetting en groeitempo van die lammers en gevolglik die winsgewendheid daarvan. Die gesegde: “You cannot feed the wrong lamb right” is in hierdie geval baie waar. Swak en boepenslammers asook enige lammers wat nie ‘n hoë groeitempo in die voerkraal handhaaf nie, moet so gou moontlik verkoop word omdat hulle die winsgewendheid van hierdie onderneming verlaag.
Die ideale voerkraallam moet aan die volgende vereistes voldoen:
·       ‘n Gesonde lam (‘n swak boepenslam presteer nie). Moenie siek lammers vir ‘n voerkraal aankoop nie.
·       ‘n Jong (3 – 6 maande), goed uitgegroeide lam met ‘n dun vetlaag en ‘n groot karkas (28 – 32 kg).
·       ‘n Vleistipe lam met ‘n hoë groeipotensiaal. Vleis- en vleiswoltipes presteer beter as woltipes en tipes wat geneig is om oormatig vet aan te pak omdat vetaansit meer energie vereis as spiergroei. Vleiswoltipes groei nie net vinnig nie, maar produseer ook wol wat ‘n ekstra inkomste genereer. Soms is Dorpers gewild omdat hulle velle dikwels ‘n hoë premie verdien.
·       ‘n Kruisraslam wat weens basterkrag ‘n baie hoë GDT met ‘n uitstekende VOS het.
·       ‘n Ramlam of kriptorchid (d.i. waar die testes eers in die liggaamsholte ingedruk en die rekkie daarna om die skrotum gesit word) omdat hulle stadiger en minder vet aansit, tot
19 % hoër GDT en tot 9 % beter VOS het. Bemarking moet egter voor geslagsrypheid
(4 – 8 maande ouderdom afhangend van die ras) geskied om te verhoed dat afgradering weens sekondêre manlike eienskappe plaasvind. Ramlammers behoort nie afgekeur te word nie, solank hulle nog net nie gewissel het nie.
·       Gee voorkeur aan lammers wat kruipvoeding ontvang het of wat gewoond is aan byvoeding. In ‘n ondersoek waar lammers kruipvoeding ontvang het, was hulle voer-omsetting 3.51:1 teenoor die 5.18:1 van dié lammers wat ‘n voedingsknou (geen kruipvoeding) ervaar het.
·       Lammers presteer beter in voerkrale as ou ooie omdat hulle ‘n baie beter voeromsetting het. Die fisiologiese vermoë van ‘n lam om voer na vleis om te sit, is afhanklik van sy ouderdom, met ander woorde hoe jonger die lam is, hoe beter is die voeromsetting (VOS). VOS = 2 + 0.025X, waar X = ouderdom met die aanvang van afronding.
·       Koop voerkraallammers in die nabyheid van die voerkraal om vervoerkoste en spanning te beperk.
Tipe en gehalte voerkraalrantsoen
Om maksimum wins in ‘n voerkraal te realiseer, is dit van kritieke belang om die voerkoste per kg massatoename te verlaag, hoofsaaklik deur die verbetering van die voeromsetting. Dit kan egter nie geskied deur die voerkraalrantsoen goedkoper te maak deur goedkoper grondstowwe (bv. newe- en/of afvalprodukte) met ‘n lae energiedigtheid en voedingswaarde te gebruik nie omdat dit tot ‘n drastiese verlaging van die voeromsetting sal lei. Uitstekende voeromsetting en gevolglike hoë winsmarges is slegs moontlik indien ‘n energieryke, hoë gehalte gebalanseerde rantsoen wat al die kritieke voedingstowwe (bv. oplosbare, degradeerbare en deurvloeiproteïen) asook minerale, spoorelemente en vitamienes in die regte hoeveelhede en verhoudinge bevat, gebruik word. Verder moet die rantsoen ‘n optimum hoeveelheid ruvoer bevat om maksimum kragvoerinname te verseker, maar terseldertyd suurpens te voorkom
‘n Voerkraalrantsoen moet aan die volgende vereistes voldoen:
·       ‘n Hoë insluitingsvlak van energiebronne om ‘n hoë GDT en ‘n uitstekende VOS te verseker. Mielies is die heel beste energiebron omdat dit baie hoog in energie en ook baie smaaklik is. Heel garspitte lewer ook uitstekende resultate. Graanneweprodukte soos “hominy chop“ en semels is baie lywig en nie so smaaklik nie en het ‘n laer voerinname en swakker VOS tot gevolg. Gevalle is gerapporteer waar die GDT met tot 100 g/lam/dag verhoog is toe chop en semels met mielies vervang is. Die nadele van “hominy chop“ en semels kan in ‘n mate oorkom word as hulle saam met die ander bestanddele verpil word. Daarbenewens is semels baie hoog in fosfor wat tot blaassteenvorming aanleiding gee.
·       ‘n Lae insluiting van ‘n hoogs verteerbare en smaaklike ruvoer met ‘n hoë voedingstof-inhoud. Lusern is feitlik die enigste ruvoerbron wat aan hierdie vereistes voldoen en dien ook as ‘n uitstekende natuurlike buffer weens sy hoë kalsiuminhoud. Die kwaliteit van die ruvoer speel ‘n belangrike rol by voerinname en GDT van lammers. Brand et al. (1991) vind ‘n reglynige afname in voerinname en GDT met die stapsgewyse vervanging van lusernhooi met laegraadse ruvoer soos strooi. Hoë ruvoerinsluiting asook die gebruik van ‘n swak kwaliteit ruvoer met die doel om die rantsoen goedkoper te maak, verlaag die biologiese prestasie (i.t.v. GDT en VOS) en verhoog gevolglik die voerkoste per kg vleis geproduseer.
·       ‘n Hoë spoorelement- en vitamienvlakke is noodsaaklik om ‘n hoë GDT en uitstekende VOS te verseker asook vir ‘n sterk immuunstelsel om hoë weerstand teen siektes te verseker. Beide Voermol SS 200 en Procon bevat hoë vlakke van noodsaaklike spoorelemente en vitamienes in die regte verhoudinge.
·       Hoogs smaaklik en nie stowwerig nie om hoë innames te verseker. In hierdie verband is die gebruik van melassegebaseerde produkte (bv. Voermol SS 200, Voermol Procon 33 en Voermol Melassemeel) hoogs aan te beveel.
·       Moet ‘n hoë gehalte proteïenkonsentraat bevat wat deurvloeiproteïen voorsien (bv. Voermol SS 200 en Procon 33) om spiergroei te bevorder; GDT te verhoog en VOS te verbeter. Deurvloeiproteïeninsluiting in die vorm van Voermol Procon 33 en SS 200 verhoog uitslagpersentasie omdat dit spiergroei bevorder en oormatige vetaansit voorkom, ‘n aspek wat al hoe belangriker word soos die verbruiker skraler vleis (A1) verkies.
·       Moet sekere medikamente bevat om optimale diereprestasie te verseker. Groeitempo van lammers is baie nou verwant aan voeromsetting en dus sal enige middel wat die voeromsetting verhoog ook die groeitempo verhoog. Dit is belangrik om daarop te let dat hoe duurder hoë gehalte grondstowwe word, hoe belangriker en kritieker raak die gebruik van groeibevorderaars en groeistimulante om die voeromsetting te verbeter en dus wins te maksimeer. Waar hierdie middels in kombinasie gebruik word, kan dit voeromsetting met tot 20 – 25 % en selfs meer verbeter. Voermol SS 200 bevat ‘n ionofoor, ‘n sogenaamde groeibevorderaar, wat die vlugtige vetsuurverhouding in die rumen verander waardeur groei en voeromsetting met tot 10 tot 15 % verbeter word en terselfdertyd help dit om koksidiose en suurpens te beheer. Voermol SS 200 bevat verder ook sekere spesifieke teikenmedikasies soos sinkbasitrasien, ammoniumsoute en buffers. Hoë energieryke rantsoene is geneig om lewerabsesse te veroorsaak wat diereprestasie onderdruk. Sink-basitrasien voorkom die vorming van sodanige lewerabsesse en verbeter VOS met 2 tot
3 %. Verder bevat dit ook ammoniumsoute om blaasstene te voorkom asook buffers om suurpens (asidose) te beperk.
·       Die ideale volledige voerkraalrantsoen in ‘n gemaalde vorm vir lammers is: 150 kg gemaalde lusern (20 – 25 mm partikellengte) + 200 kg Voermol SS 200 (V8592) + 50 kg Voermol Procon 33 (V12701)+ 80 kg Voermol melassemeel (V1995) + 525 kg gemaalde mielies of heel gars. Hierdie rantsoen gee uitstekende VOS en uitslagpersentasies van so hoog as 50 % is al gerapporteer. Indien uitslagpersentasie laer is as 45 % moet ondersoek onverwyld ingestel word, want dit is een plek waar ‘n voerkraal groot finansiële verliese kan lei. In hierdie verband is dit hoogs aan te beveel om lammers direk oor die skaal te verkoop.
·       Hoewel gemaalde voerkraalrantsoene uitstekende resultate lewer, word beter diereprestasies met verkorrelde rantsoene (bv. 150 kg lusern + 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 600 kg mielies) verkry weens ‘n hoër inname en omdat vermorsing aansienlik beperk word.
Suksesvolle en doeltreffende aanpassing in die voerkraal
Uitstekende diereprestasies in ‘n voerkraal is grootliks afhanklik van doeltreffende en suksesvolle aanpassing en gevolglik moet lammers stadig en geleidelik op die voerkraal-rantsoen aangepas word. Suksesvolle aanpassing kan as volg geskied:
·       Gebruik lynkrippe met voldoende vreetspasie (250 tot 300 mm/lam ? moet verkieslik almal gelyktydig kan vreet). Selfvoerders moenie in voerkrale gebruik word nie omdat stadige en geleidelik aanpassing daarmee nie moontlik is nie.
·       Voer vir die eerste 10 tot 14 dae addisioneel eenkant ‘n goeie gehalte ruvoer (bv. ongemaalde lusernhooi) ad lib. om suksesvolle aanpassing te verseker. Die addisionele lusernhooibyvoeding kan na ongeveer 10 tot 14 dae gestaak word. Die fisiese voorkoms van die mis moet as aanduiding dien of lusernhooibyvoeding gestaak kan word. As die mis pap is, moet langer met addisionele lusernhooibyvoeding voortgegaan word. 
·       Begin die eerste dag met slegs 200 g van die volledige voerkraalrantsoen per lam en verhoog dit daarna elke dag met 100 g/lam tot ad lib.-peil (3.5 – 4.5 % van liggaamsmassa), dit is gewoonlik wanneer hulle begin om voer in die krippe te begin los. Die daaglikse voerkraalrantsoen moet in twee gelyke porsies (een helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag) gevoer word. Na aanpassing moet die diere minstens twee tot drie keer per dag gevoer word en die voedingspeil moet so wees dat daar voor elke voeding nog ‘n klein bietjie voer in die krippe is. Dit sal verseker dat hulle maksimum voer inneem, wat maksimum groei tot gevolg sal hê.
·       Hoe meer dikwels vars voer gevoer word, hoë hoër is die dier se voerinname en hoe vinniger gaan hy groei. Tot 1 kg voer per kg massatoename word met hoë frekwensie-voeding gespaar waardeur die voeromsetting verbeter en die wins verhoog word. Vars voer moet minstens twee keer per dag gevoer word. Gedurende die warm maande is dit veral wenslik om vroegoggend ongeveer 30 % en laatnamiddag ongeveer 70 % van die voerkraalrantsoen te voer. Die diere neem min of geen voer op die warmste deel van die dag in. Dit is egter belangrik dat die diere hulle totale daaglikse rantsoen binne die verloop van 24 uur inneem.
·       Indien lammers nooit saam met hulle moeders byvoeding ontvang het nie, word dikwels aanvanklik probleme ondervind om hulle te leer om die voerkraalrantsoen te vreet. Hierdie lammers moet vir die eerste drie tot vyf dae slegs ongemaalde lusernhooi in die krippe gevoer word. Die aanpassing op die voerkraalrantsoen behoort dan eers op die vierde of sesde dag te begin. Begin dan op hierdie stadium (vierde of sesde dag) met die aanpassing op die voerkraalrantsoen op dieselfde wyse as hierbo genoem, naamlik met 200 g/lam, wat dan daagliks met 100 g/lam/dag tot ad lib.-voedingspeil verhoog word.
·       ‘n Alternatiewe aanpassingsmetode is om die lammers eers in die weidingskampe geleidelik op die voerkraalrantsoen aan te pas (preconditioning) waardeur die stres ook verminder word.
·       Dorpers moet baie versigtig en stadig aangepas word omdat hulle meer geneid is om suurpens en laminitis in voerkrale te kry. Met spesiale geformuleerde rantsoene en doeltreffende buffers kan dit egter oorkom word.
·       Lammers wat lakseer, moet uit die voerkraal verwyder en behandel word. Hulle moet verkieslik in ‘n “hospitaalkraal” geplaas word en weer van vooraf stadiger en oor ‘n langer periode aangepas word. Indien maagwerk a.g.v. suurpens is, doseer met 20 tot
100 g koeksoda per lam.
·       Skaamvreters, hulle kan uitgeken word aan die hongerholtes agter die ribbes onder die rugstring, moet ook verwyder word en dalk saamgegroepeer word en van vooraf stadig aangepas word.
·       Daar is soms enkele lammers wat feitlik niks van die voerkraalrantsoen vreet nie. Hulle moet ook verwyder word en van vooraf op smaaklike lusernhooi aangepas word en daarna geleidelik op die voerkraalrantsoen. Indien dit nie suksesvol is nie, moet hulle óf op die weiding afgerond word óf hulle moet dadelik verkoop word.
Algemene voerkraalaspekte van kritieke belang
Betekenisvolle verhoging in winsmarges is moontlik as die volgende riglyne gevolg word en die volgende aktiwiteite uitgevoer word:
·       Lammers moet met inname in die voerkraal in homogene (eenderse) groepe volgens massa, kondisie, ras en geslag ingedeel word. Die ideale tropgrootte is 25 tot 50 lammers per kraal met ‘n maksimum van 100 lammers. Dit is raadsaam om nie die groepe gedurende die voerperiode te verander nie. Te groot troppe gee tot groter voorkoms van skaamvreters en voerstakers aanleiding. Laasgenoemdes behoort van die dominante (sterk aggressiewe) vreters geskei te word. Te groot troppe bemoeilik ook die opsporing van diere met siektes en probleme.
·       Lammers moet binne 24 uur na inname in die voerkraal geprosesseer word (beperk stres in die voerkraal omdat dit die voerkraalprestasie nadelig beinvloed deur die hantering van diere asook die uitvoer van alle aktiwiteite in die voerkraal altyd rustig en kalm te laat geskied):
(i)     Indien dit nie moontlik is nie, moet lammers met lang wol met inname geskeer word. Geskeerde lammers het ‘n hoër voerinname en groei dus vinniger (300 vs. 260 g/dag) met ‘n beter voeromsetting (5.1 vs. 6.0:1). Indien dit egter baie koud is, moet hulle nie geskeer word nie, want dit verhoog hulle onderhoudsbehoefte wat weer die voeromsetting verlaag.Ideaal is as lammers ongeveer drie tot vier weke voor inname geskeer word. 
(ii)    Lammers moet met ‘n doeltreffende breëspektrumdoseermiddel gedoseer of gespuit word wat beide interne (insluitend neuswurm) en eksterne parasiete beheer asook met ‘n breëspektrumentstof, wat onder andere bloednier en pasteurella bevat, geïmmuniseer word. Ander entings word slegs gedoen indien siektes voorkom.
(iii)   Die inspuiting van Multimin (sonder koper) en Vitamien A en E is hoogs aanbeveel. In ‘n ondersoek het dit groei met 15 % en voeromsetting met 13 % verbeter (Van Niekerk, 1986).
(iv)   Lammers moet met ‘n geskikte oorinplantaat (bv. Ralgro® of Zeraplix) geïnplanteer word. Hierdie inplantate is groeistimulante wat groei met tot 16 % en voeromsetting met tot 15 % verbeter (Strydom, 2004) deurdat dit spiergroei stimuleer en vet-neerlegging vertraag. Gevolglik kan voerkraaldiere langer gevoer word voordat hulle oorvet word.
(v)    Lammers moet verkieslik met genommerde oorplaatjies geïdentifiseer word sodat hulle individuele groei voortdurend gemonitor kan word deur gereelde wegings (weekliks). Voerinname moet minstens weekliks gemonitor word vir berekening van gemiddelde voeromsetting asook vroeë opsporing van siek diere.
(vi)   Alle voet- en oogprobleme moet ook behandel word om te verhoed dat dit verder versprei.
·         Bekamp stof en modder, want dit verlaag voerkraalprestasie terwyl dit onderskeidelik ook tot oogprobleme en siektetoestande kan veroorsaak. Verder moet prosessering of aktiwiteite tydens buitengewone hoë temperatuur vermy word.
·       Maak voorsiening vir voldoende vloeroppervlakte (minimum 1.5 – 2.5 m2/lam, maar 5 tot 8 m2/lam word as ideaal beskou, veral onder natter toestande). Die vloeroppervlakte oftewel kraalspasie hang van die geaardheid en dreinasievermoë van die grond (bv. sand of klei; vlak of diepgrond); helling; reënval; tipe en getal skape af. 
·         Vir goeie dreinasie om vrotpootjie en siektes te beperk, moet die voerkraal verkieslik ‘n helling van 2 tot 6 % hê. ‘n Helling van minder as 2 % het tot gevolg dat die reënwater nie wegloop nie terwyl ‘n helling van meer as 6 % verspoeling tot gevolg het. Die helling moet weg van die woonhuis wees en die voerkraal moet so geleë wees dat die heersende winde die stank weg van die huis waai. Vir maksimum skaduwee behoort die voerkraal verkieslik in ‘n oos-wesrigting geleë te wees. Die vloeroppervlakte moet vir ‘n gedeelte van die dag in direkte sonlig te wees om krale droog te hou en die opbou van bakteriese besmetting te beperk. Sonlig is die goedkoopste ontsmettingsmiddel. Indien die vloer-oppervlakte as gevolg van urine nat bly, breek die ureum in die urine na ammoniak af. Ammoniak irriteer die asemhalingskanale wat weer die groeiprestasie benadeel weens swak eetlus as gevolg van ‘n voortdurende gehoes en dit kan selfs tot longontsteking aanleiding gee.
·       Voorsien voldoende skaduwee (0.5 – 1.0 m2/lam) gedurende warm weer en skuiling gedurende koue, nat winderige weer. Dit is niks ongewoons nie dat die GDT met 30 tot 50 % gedurende ongure weer kan val nie. As gevolg van hoë voerinnames moet voerkraal-diere van baie hitte ontslae raak wat ontstaan weens die metaboliese prosesse in die liggaam. Skape koel af deur warm vogtige lug uit te asem en koel droë lug in te asem. As die omgewingstemperatuur hoog (> 28 0C) is, asem die dier warm lug in en koel dus nie af nie. Gevolglik drink die dier meer water, vreet minder en groei dus stadiger met ‘n swakker voeromsetting. Skaduwee moet verkieslik aan die teenoorgestelde kant van die voer- en waterkrippe wees om samedromming by die krippe te verhoed wat toegang vir ander diere na die krippe sal verhoed. Verkieslik behoort beide die voer- en waterkrippe ook van skaduwee voorsien te word. Skadunette, dekriet of selfs koeltebome kan vir skaduweevoorsiening gebruik word, want dit is goedkoper as dakplate.
·         Lynkrippe vs. selfvoerders. Plaaslike waarnemings toon dat lammers wat in lynkrippe gevoer is tot 130 g/dag vinniger gegroei het as waar selfvoerders gebruik is. Met selfvoerders word die voer meer besoedel deur onder andere speeksel wat dit onsmaaklik maak en tot lae voerinnames lei. Met selfvoerders is daar ‘n beperkte voerkripspasie wat tot lae voerinnames lei. Voerinname is direk afhanklik van voerkripspasie. Volgens Arnold en Maller (1977) neem die getal nie-vreters en skaamvreters toe as die voerkripspasie kleiner as 120 mm/lam is. Waar diere meer as een keer per dag gevoer word, moet minstens 120 tot 160 mm vreetspasie per lam beskikbaar wees. Om maksimum voerinname te verseker veral waar meer kere per dag gevoer word, is die ideaal 250 tot 300 mm vreetspasie per lam of nog beter, voldoende vreetspasie sodat alle lammers gelyktydig kan vreet. Die voerkrip moet minstens 250 mm diep en 250 mm wyd wees terwyl die agterkant (gedeelte wat die verste van die vretende lam is) toe moet wees sodat die lammers nie die voer uit die krip gooi wanneer hulle vreet nie. Die gedeelte van die voerkrip wat die naaste aan die lam is, moet twee kabels hê wat onderskeidelik
200 mm van die voerbak se boonste rand en 200 mm van mekaar is om te verhoed dat die diere nie daarin kan trap, mis of urineer nie. Voerkrippe moet verkieslik ook teen wind en reën beskerm wees.
·       Hoër voerinname word verkry met voerkrippe wat ± 250 tot 400 mm van die grond-oppervlakte is as waar krippe grondhoogte is. Voerkrippe moet maklik gevul en skoon-gemaak kan word. Verder moet dit so ontwerp word dat daar sementstrook van 1.5 tot
2 m, met ‘n helling, is waar die lammers staan en vreet. Die voerkrippe moet so ver moontlik vanaf die waterbak wees om die besoedeling van die drinkwater te voorkom.
·       ‘n Hoë vlak van voerkripbestuur is van uiterste belang vir ‘n winsgewende voerkraal. Daarom moet voldoende voorsorg getref word dat die voer nie nat reën nie terwyl die voerkrippe gereeld skoon gemaak word om die ontwikkeling van mikotoksiene te bekamp.
·       Voldoende skoon en koel drinkwater moet te alle tye beskikbaar wees. Waterbakke moet minstens twee tot drie keer per dag of elke keer wanneer die diere gevoer word, baie deeglik skoongemaak word. ‘n Skaap drink nie vuilwater nie en ‘n dors skaap vreet sleg met ‘n gevolglike swak voeromsetting. Groot waterbakke word nie aanbeveel nie, want dit is moeilik om skoon te maak terwyl dit die voerkraal oormatig nat maak as dit skoongemaak word. Een balklepvarktipe waterbak (150 – 200 mm deursnee) is voldoende vir 50 en selfs 100 skape mits die waterdruk hoog is. Waterkrip moet binne 3 uur in die skaap se waterbehoeftes voorsien. Waterbakke moet so ver as moontlik van die voerkrip wees en ongeveer 300 – 500 mm bokant ‘n beton platvorm, om misbesoedeling te beperk, geplaas word. Maak voorsiening vir tot 7 liter drinkwater per skaap per dagVoorsiening moet ook gemaak word vir watertenke wat stoorkapasiteit vir minstens drie dae se watervoorraad het. Indien diere nie voldoende water inneem nie, word hulle voerinname en dus groei drasties gestrem. Lekkende waterbakke moet vermy word, want die enigste plekke waar vlieglarwes en koksidiose organismes kan uitbroei, is in die nat mis.
·       Voerkraaldiere moet minstens tweemaal per dag vir probleme en siektes (ooginfeksies, laksering, koksidiose, chlamidia-infeksies wat diere se knie- en hakskeengewrigte laat opswel; sweerklou of vrotpootjie, ensovoorts) geïnspekteer word en dit moet dadelik reggestel of behandel word. Onthou: dit is die voerkraalbestuurder se oë wat die diere vetmaak!!
·       Indien meer as 1 % vrektes in ‘n voerkraal voorkom, moet oorsake gediagnoseer en voorkomende beheermaatreëls ingestel word. Daar moet egter gestrewe word na minder as 0.5 % vrektes in die voerkraal.
·       Soos lammers markklaarheid bereik, moet hulle bemark word, verkieslik eenkeer per week. Om te verhoed dat lammers die wins opvreet, moet daar, afhangend van die innamemassa, op maksimum staandae (bv. Merino’s 55 – 60 dae; vleisras- en kruisraslammers 35 – 42 dae; ou ooie maksimum 30 dae) gewerk word. Lammers wat na hierdie tydperk nog nie markklaar is nie, moet bemark word, anders vreet hulle die wins op.  Waar lammers te lank gevoer word, kan dit tot oormatige vetneerlegging en dus swak gradering lei. Dit is baie duurder om vet as spier aan te sit!!
·       Voerkraalmis moet as kunsmis vir gewasse in saaiboerderye of vir tuine bemark word omdat dit ‘n uitstekende addisionele inkomstebron is.
Samevatting
Die tipe en gehalte lam wat gevoer word asook die tipe en gehalte van die voerkraalrantsoen is sleutelfaktore in die bepaling van winsgewendheid. Die gebruik van sogenaamde “goedkoop” rantsoene wat ‘n hoë persentasie laegraadse ruvoer, graanneweprodukte en afvalprodukte bevat, is dikwels verantwoordelik vir lae groeitempo en swak voeromsetting wat voerkraalwins ernstig knou. Om steeds wins te maak in tye van hoë graanpryse word aanbeveel dat ‘n hoë kwaliteit gebalanseerde rantsoen gebruik word en dat slegs goeie gehalte lammers, wat in voerkrale presteer, afgerond word. Ondanks die hoë graanpryse kan die afronding van ‘n skraal nie-marklaarlam (A0) om sy graad na ‘n A2 te verbeter, egter steeds geregverdig word deurdat sy vleiswaarde verhoog word. Bestuurspraktyke veral dié wat te doen het met voedingsbestuur, gesondheidsbeheer en toesig asook doeltreffende fasiliteite speel ook ‘n sleutelrol in die welslae van ‘n skaapvoerkraal.
Vir verdere inligting oor die voerkraalafronding van lammers asook bestuurspraktyke en afrondingsrantsoene vir die produksie van natuurlik geproduseerde ISO 9002-gesertifiseerde vleis (Natural Lamb) skryf aan dr. Jasper Coetzee, Voermol Voere, Posbus 13, Maidstone 4380 of skakel Voermolse Hoofkantoor (032 – 439 5599) of stuur ‘n e-pos aan info@voermol.co.za
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasprco@iafrica.com)
8 Januarie 2010
Lees ook die volgende anttwoorde:    
     Afronding van speenlammers                                                                                               Afronding van boklammers                                                                                                 
     Afronding van lammers in voerkraal
     Kuilvoer vir afronding van lammers in voerkraal
     Groeistimulante en inplantate
     Vrae oor zeranol (Ralgro) inplatate in skape
     Gebruik van groeibevorderaars in lammers
Lees ook artikels oor wurmbeheer en wurmweerstand

Kommentaar

Kommentaar (2) “Lammers grootmaak vir inkomste

  1. Francois Beselaar
    Francois Beselaar

    Interresante brokkie nuud. Veral as n mense dit van die been af begin brinf.
    Dankie

  2. premargo swartz
    premargo swartz

    is vleis merino dhonmerino die beste skaap vir n voerkraal?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X