Dierevoeding

Lamhokke en hanslammers

Vraag

In jou antwoord oor die hoë voorkoms van hanslammers, noem jy geensins dat dit juis lamhokkies is wat vir jou 'n hoë persentasie van hanslammers kan gee nie en dat seleksie ook 'n baie belangrike rol speel? Wat is u kommentaar hierop?

Antwoord

Aangesien daar slegs ‘n beperkte ruimte vir die publikasie in die Wolboer beskikbaar was, is hierdie aspek nie behandel nie en was die idee om dit met ‘n volgende publikasie te doen. 

Produsente is dikwels bekommerd dat die gebruik van lamhokke tot gevolg sal hê dat ooie mettertyd swak moedereienskappe sal ontwikkel. Indien seleksie in lamhokke reg toegepas word, kan dit moedereienskappe eerder verbeter as versleg. Swak moedereienskappe kan voorkom word deur reeds te begin selekteer teen ooie (en hulle lammers) wat swak moedereienskappe toon vandat die ooie en die lammers in die lamhokke geplaas word. Nuutste Australiese navorsing (Murphy et al., 1994) toon dat daar twee tipe ooie (kalm & senuweeagtige) is. Laasgenoemde ooie openbaar swak moedereienskappe veral in onnatuurlike en stresvolle situasies soos lamhokke wat dit gevolglik maklik maak om hulle te identifiseer en dus teen swak moedereienskappe te selekteer. Die volgende ooie en hulle lammers (al haar lammers in die geval meerlinge) in lamhokke moet in die volgende gevalle uitgeskot word en nie vir verdere teling gebruik nie:
·       Ooie wat swak moedereienskappe openbaar.
·       Ooie wat een of beide lammers nie wil aanvaar nie.
·       Ooie wat geen of nie voldoende melk het nie.
·       Ooie wat aggressief is teenoor hulle lammers.
·       Ooie wat met geboorte gehelp is.
·       Ooie met speenprobleme (bv. taai melkers, ensovoorts).
·       Swak lewensvatbare lammers.
·       Ooie wat geboorte skenk aan dooie lammers.
·       Ooie en veral ramme wat lammers met aangebore genetiese defekte (bv. gebreklikheid, kriptorkidisme, tweeslagtigheid, ensovoorts) gee, moet geïdentifiseer en nie vir verdere teling gebruik word nie.
 
Moederlike gedrag, oftewel moedereienskappe, wissel tussen skaaprasse onder beide ekstensiewe (Alexander et al., 1983) en intensiewe toestande (Poindron et al., 1984). Lamoorlewing kan deur seleksie vir grootmaakvermoë verbeter word omdat grootmaakprestasie herhaalbaar (Piper et al., 1982; Haughey, 1984) en oorerflik is. Ooie wat by Trangie in Australië vir meer as 30 jaar geselekteer is vir die aantal lammers wat hulle grootgemaak (d.i. ‘n saamgestelde eienskap wat vrugbaarheid, meerlinggeboortes en grootmaakvermoë insluit) het, het langer op die geboorteplek gebly en ‘n kleiner persentasie van hulle het tydelik of permanent van hulle lammers as die kontrolegroep geskei (Atkins, 1980). Laasgenoemde ooie is tevrede indien slegs een lam van ‘n tweeling hulle volg. Die nuutste is waar ooie eksperimenteel vir temperament (kalm vs. senuweeagtig) geselekteer word. Aanduidings is gevind dat kalm ooie ‘n hoër besetting het, beter moeders is en laer lamvrektes het as senuweeagtige ooie (Murphy et al., 1994). Kalm ooie spandeer meer tyd met hulle lammers, het ‘n korter vlugafstand wanneer versteur word en keer vinniger terug na hulle lammers as senuweeagtige ooie. Gevolglik was die lamvrektes van kalm ooie vanaf geboorte tot speen ongeveer die helfte minder (ooie met enkelinge: 7 vs. 16 % en ooie met tweelinge: 16 vs. 26 %) as dié van die senuweeagtige ooie. Die swak moederlike gedrag van senuweeagtige ooie was die belangrikste faktor wat vir lamvrektes verantwoordelik was (Martin et al., 2004). Seleksie van ooie met ‘n kalm en rustige temperament kan die produktiwiteit van ooie verbeter omdat dit (1) estrussiklus verleng (Braden & Moule, 1964; Przekop et al., 1984); (2) ovulasietempo verhoog (Doney et al., 1976); (3) besetting verhoog (McMillan & Knight, 1982); embrio-oorlewing verhoog (Van Niekerk et al., 1968) en seksuele gedrag verbeter (Gelez et al., 2003). In ander spesies het temperament ook die produksie verbeter deurdat dit (1) groeitempo verhoog het (Voisinet et al., 1997; Burrow, 1998; Fell et al., 1999); (2) immuniteit verbeter het (Fell et al., 1999); melkproduksie verhoog (Lawstuen et al., 1988); en vleiskwaliteit verbeter (Jones & Hocking, 1999; Reverter et al., 2003).
 
Lamhokke word alreeds sedert die vyftiger jare vir die Vrugbaar Merinostoetooie van Ben Brynard gebruik en daar word baie streng teen swak moedereienskappe geselekteer. Sy een ooikudde wat vir die teel van kruislammers gebruik word, se vervangingsooie se moeders was almal in lamhokke en hierdie kruiskudde speen 150 % plus op die veld sonder lamhokke wat getuig van hulle uitstekende moedereienskappe en dat met die regte seleksiestrategie lamhokke moedereienskappe verbeter en nie verswak nie. Verskeie produsente (Dirk Uys sr. Van Bredasdorp; John Morris van Stellenbosch en Giepie Caldo van Trompsburg) kan getuig dat deur die regte seleksiepraktyke te volg lamhokke nie swak moedereienskappe en dus hanslammers tot gevolg het nie.
 
Swak moedereienskappe as gevolg van lamhokke kan ontstaan waar onverantwoordelike stoettelers nie teen swak moedereienskappe diskrimineer nie en ook omdat hulle nie beide die ooi en haar lammers uitskot nie. Sulke lammers (ram- en ooilammers) word dan grootgemaak en as teeldiere verkoop en openbaar dan swak moedereienskappe wanneer hulle nageslag begin reproduseer. Indien ‘n stoetteler nie daardie verantwoordelik self kan neem om beide sulke ooie en lammers uit te skot nie, hoort hy nie in die bedryf nie. Sulke onverantwoordelike stoettelers se naam behoort eintlik deur hulle genootskap op ‘n "swartlys" geplaas te word.
 
Die rede hoekom ons lamhokke aanbeveel, is omdat indien die regte voedings-, bestuurs-, seleksie- en entingsprogram gevolg word lamvrektes tot minder as 5 % beperk kan word. Daar is produsente soos Piet Meyer van Vredefort wie se lamvrektes met lamhokke slegs 2 % is. Die hoofdoel met lamhokke is om meer wins uit skaapboerdery te genereer. Johan du Plessis van Frankfort het lamhokke ter waarde van R60 000 gebou. Deur die gebruik van die regte prikkellek en lamhokke het sy ooie se speenpersentasie in die eerste jaar van 82 % na 132 % verhoog, dus 1528 meer lammers van 3057 ooie wat ‘n ekstra bruto inkomste van R1 252 960 was. Al meer en meer kommersiële skaapboere besef die ekonomiese waarde van lamhokke en daarom is daar al skaapboere wat 800 (Andrew Jordaan, Cradock) tot 1000 lamhokke (DB Lubbe, Prieska) het. Ander (Dolf Bam, Amersfoort en Gilly Scheepers, Fouriesburg) rig skure op wat 350 tot 450 lamhokke onder dak het. 
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
26 April 2011
 
Lees ook:
   

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X