Dierevoeding

Kruiphokke vir kalwers

Vraag

Ek wil my kalwers in die veld afsonderlik kruipvoeding gee. Ek het reeds 'n kamp gespan, maar wil nou hekke maak sodat slegs die kalwers van dagoud tot 300 kg toegang tot kruipvoeding het. Ek wil graag weet wat die grootte van die spasies van die hek moet wees, sodat koeie nie kan in gaan nie.

Antwoord

Die belangrikste van ‘n kruiphok is dat slegs die kalwers tot die kruipvoer toegang moet hê en die voer moenie vermors word nie. Beide die kruiphok en voerbak moet dus ‘n stewige konstruksie wees. Die kruipvoer is in ‘n meelvorm en daarom moet die kruipbak ‘n horisontale skofreling of vertikale afskortings hê om voervermorsing te beperk. ‘n Vreetspasie van 150 tot 200 mm per kalf behoort voldoende te wees. Die kruiphek waardeur kalwers kruip se openinge moet ongeveer 400 – 500 mm wees terwyl die diepte van die kruiphok ongeveer 1.5 m en die hoogte van die hek ongeveer 1 – 1.4m moet wees. By kleinraamkoeie kan die hoogte van die hek 1 m wees. Dit kan gebeur dat die 400 mm kruiphekopening te nou is vir kalwers wat meer as 220 kg weeg. Volgens Hendrik van Pletzen, Tegniese Bestuurder van Voermol Voere, is bogenoemde mates riglyne en kan dit by die raamgrootte van die beesras aangepas word. 

Hoewel kruipvoeding alreeds van ‘n vroeë ouderdom aan kalwers gevoer kan word, begin die meeste produsente dit eers van ongeveer 2½ of 3 maande ouderdom voer. Kruipvoer moet ad lib. aan kalwers voorsien word. Die kruipvoer self moet smaaklik, goed gebalanseerd en nie stowwerig nie wees om die gewenste resultate te lewer. Goeie gehalte proteïen (deurvloeiproteïen) is ‘n voorvereiste om die kalwers in raam te laat groei (met ander woorde om spiergroei te bevorder) en nie vet te maak nie. Die rantsoen moet ‘n ionofoor bevat met die regte hoeveelhede makro- en spoorelemente. Die volgende kruiprantsoen is in die praktyk geëvalueer en lewer uitstekende resultate:
200 kg Voermol SB 100 (V4498)
100 kg Voermol Procon 33 (V12701)
700 kg mieliemeel of goeie gehalte hominy chop
         1 000 kg TOTAAL
 
Waar lusernmeel beskikbaar is, kan maksimum 100 kg van die mieliemeel met lusernmeel vervang word.
 
Klik op pdf hieronder om foto’s van ‘n kruiphok te sien.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
26 Augustus 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X