Dierevoeding

Koggel meer lammers los

Vraag

Meer lammers oor 'n korter lamseisoen en minder byvoeding is van die voordele wat koggelramme inhou.

Antwoord

Meer lammers oor ‘n korter lamseisoen, minder byvoeding, ‘n korter laminterval en makliker bestuur is van die voordele wat koggelramme inhou as hulle reg benut word.

Ooie word dikwels in die lente en vroeë somermaande gepaar voor die natuurlike paartyd (Januarie tot Julie) begin. Dit word gedoen om te verseker dat daar voldoende groen weiding is wanneer die ooie lammers kry, maar dit het laer lampersentasies tot gevolg.

Koggelramme en prikkelvoeding kan gebruik word om ooie in die nie-seisoenale teelseisoen (Augustus tot Desember), wanneer hulle min geslagsaktiwiteit toon, te stimuleer om bronstig te raak. Daardeur word die paartyd vervroeg en die lamseisoen verkort.

‘n Tweede probleem wat dikwels voorkom wanneer paring buite die natuurlike paartyd geskied, is dat net ‘n klein persentasie (ongeveer 2 %) van die teelooie per dag bronstig is. Dit lei tot ramme wat baklei en ‘n hoër risiko dat ramme só beseer kan word dat hul dekvermoë benadeel word.

Verder kan dit ook tot ‘n dekdominansie lei. Ondergeskikte ramme sal nie ooie in die teenwoordigheid van dominante ramme dek nie. Só kan lampersentasies benadeel word. Om hierdie situasie te voorkom, moet teelooie voor die begin van die paartyd gekoggel word, want dit verseker dat genoeg ooie op hitte is wanneer die teelramme tussen die ooie geplaas word. Dit skakel onnodige bakleiery in ‘n groot mate uit.

Die koggel van ooie vir nege dae voor die begin van die paartyd is ‘n goedkoop en doeltreffende manier om ooie te stimuleer om op hitte te kom. Terselfdertyd word hulle gesinchroniseer om oor ‘n korter tydperk op hitte te kom waardeur die lamseisoen, asook die byvoedingstydperk, aansienlik verkort word.

Die gelyktydige gebruik van koggelramme met ‘n baie hoë geslagsdrang, asook prikkelvoeding, kan ‘n wesenlike bydrae lewer om die reproduksietempo van ooie te verhoog.

Koggelramme is uiters doeltreffend as hulle korrek gebruik word en hulle word beslis onderbenut. Die koggelrameffek gebruik ‘n kragtige natuurlike verskynsel wat dikwels swak verstaan en verkeerdelik toegepas word.

Teelramme en koggelramme (gevasektomiseerde ramme) skei baie kragtige chemikalieë (feromone) deur kliere in hul vel af wat in die wolwas asook was rondom die oë versamel. Die reuk van hierdie stowwe veroorsaak ‘n onmiddellike (binne 10 minute) en diepgaande hormonale respons in ooie wat hulle uit hul seksuele onaktiwiteit (anoestrus) wek.

‘n Voorwaarde is dat die ooie vir minstens vier tot agt weke voor die begin van die koggeltydperk van alle manlike diere geïsoleer word. Binne ‘n halfuur nadat ooie met manlike diere kontak gemaak het, is daar ‘n verhoogde hormoonafskeiding in die bloedstroom van die ooie wat die begin van hul bronstigheid stimuleer.

Die gevolg hiervan is dat feitlik elke ooi in die trop binne twee tot drie dae nadat die ramme bygekom het, begin ovuleer. Die enigste uitsondering is ‘n klein persentasie ooie wat reeds hul bronstigheidsiklusse begin het. Hierdie eerste ovulasie gaan gepaard met ‘n stilhitte omdat die ooie geen gedragtekens toon of reuke afskei om aan te toon dat hulle bronstig is nie. Gevolglik sal die ramme nie met hulle paar nie.

Die meeste ooie in die trop sal ongeveer 16 tot 17 dae ná die eerste ovulasie en stilhitte (ongeveer 18 tot 20 dae ná die eerste kontak met ramme) weer op hitte kom en ovuleer met waarneembare bronstigheidstekens.

Die res (tot 25 %) van die ooie sal ‘n kort bronstigheidsiklus van sowat vier tot agt dae hê, ‘n tweede keer ‘n stilhitte met ovulasie toon en sal dus weer nie met die ramme paar nie. Hierdie ooie sal ná ongeveer 16 tot 17 dae weer ovuleer (ongeveer 22 tot 24 dae ná die eerste kontak met die ramme) met waarneembare hittetekens waartydens hulle met die ramme sal paar.

Die koggelrameffek het dus twee hoogtepunte in die hittetydperke tot gevolg, onderskeidelik sowat 19 en 23 dae nadat die koggelramme by die ooie gesit is. As gevolg hiervan sal die meeste ooie (tot 80 %) binne ‘n tydperk van 7 tot 8 dae (dag 17 tot 25 ná die begin van die koggeltydperk) deur teelramme gedek word.

Weens hierdie tipiese patroon waarvolgens ooie ná sinchronisasie met koggelramme op hitte kom, kan die aantal ooie wat per dag gedurende die hoogtepunttye op hitte kom, verminder word om die druk op die ramme te verlaag. Dit skep die geleentheid dat ‘n ooi wat op hitte is moontlik meer kere gedek word om sodoende die meerlingpersentasie te verhoog.

Die aantal ooie wat per dag lammers kry, kan ook gemanipuleer word om by die infrastruktuur aan te pas, byvoorbeeld waar te min lamhokke of arbeid beskikbaar is. Dit kan gedoen word deur die ooitrop in drie groepe te verdeel en die eerste groep op die eerste dag, die tweede groep op die derde dag en die derde groep op die vyfde dag te begin koggel (steiermetode). Dit verseker dat die ooie meer gelykmatig op hitte kom. Die groep(e) wat nie gekoggel word nie, moet minstens 1 km weg van alle manlike diere gehou word.

Die steiermetode is veral ‘n goeie praktyk waar baie ooie aan ‘n teelram toegeken of onervare ramme gebruik word. Dit behoort te verseker dat nie meer ooie per dag op hitte kom as wat die ram kan hanteer nie. Só kan die lampersentasie verhoog word. Dié praktyk het tot gevolg dat minder ooie per dag lam. Dit kan lamvrektes verminder omdat dit bestuur vergemaklik asook lamdiefstal en permanente skeiding tussen die ooi en haar lammers beperk.

  • Dr. Coetzee is die tegniese direkteur van Voermol Voere.

    Beter besetting, korter lamseisoen
    Koggelramme sinchroniseer ooie, veral in die nie-seisoenale teelseisoen, om oor ‘n korter tydperk op hitte te kom. Dit verkort die lamseisoen aansienlik en vergemaklik bestuur. Reeds in 1968 is bevind dat tot 66 % van die ooie wat gekoggel is, met lamtyd hul lammers binne ‘n week kry — met tot 12 % van die ooie wat per dag lammers kry op die hoogtepunt van die lamseisoen.

    Plaaslik word gevind dat tot meer as 90 % van die ooie wat gekoggel word, in die eerste siklus (eerste 17 dae) van die lamseisoen lammers kry. Die lammers se gemiddelde ouderdom verskil dus min. Dit vergemaklik aktiwiteite, soos inenting en speen, wat op ‘n spesifieke ouderdom uitgevoer moet word. Dit verminder ook die persentasie stertkantlammers.

    Met ‘n meer gekonsentreerde en korter lamseisoen kan lammers vroeër gespeen word en is daar meer groen weiding vir speenlammers, wat hul groei bevorder.

    Koggelramme verhoog die lampersentasie omdat hulle die ovulasietempo verhoog. In Australië is bevind dat ongeveer 4 % meer ooie lammers gekry het waar ooie gekoggel en daarna vir ses weke gepaar is.

    Dieselfde lampersentasie is egter verkry waar ooie nie gekoggel is nie en vir agt weke gepaar is, maar dit het die lamseisoen onnodig verleng.

    Waar ooie gekoggel is, was die kumulatiewe besetting van ooie ná die eerste, tweede en derde weke onderskeidelik 38,2 %, 67 % en 81,6 % teenoor 17,9 %, 36,6 % en 62,7 % by ooie wat nie gekoggel was nie.

    In nog ‘n ondersoek was die kumulatiewe lampersentasie van ooie wat in die eerste, tweede, derde en vierde week van die lamtyd lammers gekry het, onderskeidelik 42, 65, 80 en 90 teenoor die 13, 29, 70 en 89 van ooie wat nie gekoggel is nie. Dit illustreer duidelik die hoë persentasie ooie wat as gevolg van koggel die eerste twee tot drie weke van die lamseisoen lammers kry.

    Omdat die ooie oor ‘n korter tydperk lam, word die byvoedingstydperk verkort en die byvoeding doeltreffender benut omdat die meeste ooie dit op die regte tydstip van laat dragtigheid ontvang.

    Koggelramme help om die laminterval te verkort, veral by lakterende ooie, sodat versnelde lamstelsels (soos ‘n agtmaande-lamstelsel) geslaag toegepas kan word.

    Waar ooie deur koggelramme gesinchroniseer is, is heelwat ooie met die aanvang van die paarseisoen op hitte en kan die teelramme se aanvanklik hoë geslagsdrang en vrugbaarheid die beste benut word om ‘n hoë lampersentasie te verseker.

    Die gebruik van koggelramme is belangrik om jong ooie aan ramme ge-woond te maak en sodoende besetting te verhoog. In Australië word dié praktyk dikwels gebruik om jong ooitjies tussen die ouderdom van ses en nege maande vir ongeveer 34 dae te koggel om hulle geslagsrypheid te stimuleer. As hierdie praktyk gevolg word, moet die koggelramme vir ongeveer drie maande voor die eerste paring uitgehaal word en dan weer nege dae voor paring bygesit word.

    Aktiewe jong ramme die beste

    Koggelramme kan op verskeie maniere ontwikkel word. Die doeltreffendste manier is ‘n vasektomie waardeur ongeveer 25 mm van die saadbuisie van elke teelbal verwyder word. Hierdie operasie belemmer nie semenproduksie en die afskeiding van manlike hormone nie, maar die sperme kan nie die uretra bereik nie en gevolglik kan die ooie nie bevrug word nie.

    Hoewel koggelramme steriel is, behou hulle hul manlike eienskappe omdat hulle steeds manlike hormone produseer. Hulle kan dus gebruik word om ooie te stimuleer om op hitte te kom.

    Koggelramme moet verkieslik nie binne ‘n maand ná die operasie gebruik word nie, omdat van die spermselle in die buise oorleef en sodoende ooie kan bevrug. Koggelramme moet voor gebruik getoets word om te verseker dat hulle steriel en vry van geslagsiektes is.

    Aktiewe jong ramme, verkieslik ramme wat al voorheen ooie gedek het, met ‘n baie hoë geslagsdrang en wat vry is van enige geslagsiekte, is die beste om koggelramme van te maak. Ramme met ‘n hoë dekvermoë en geslagsdrang sal ooie tot ‘n hoër ovulasietempo stimuleer.

    Afrikaner-koggelramme, met ‘n natuurlike hoë dekvermoë, geslagsdrang en feromonale eienskappe, kan ooie tot 21 % meer lammers stimuleer.

    Hormoon-behandelde hamels kan ook as koggelramme gebruik word. Deur die grootste en mees aktiewe hamels met die mees manlike eienskappe drie keer met manlike hormone (soos testosteroon) in te spuit, tree hulle net soos ramme op. Die hamels ontvang die eerste hormooninspuiting 14 dae voordat hulle tussen die ooie geplaas word, die tweede inspuiting sewe dae later en met die derde inspuiting nog sewe dae later, word hulle tussen die ooie geplaas.

    Die voordeel van hierdie metode is dat die hamels ná die koggeltydperk nie as ‘n aparte trop aangehou hoef te word nie. Hulle kan, nadat die hormone uitgewerk is, (ongeveer 28 dae ná die laaste inspuiting) bemark word.

    Koggelramme moet duidelik en permanent geïdentifiseer word om seker te maak dat hulle nie per ongeluk as teelramme gebruik word nie. Hulle moet verkieslik in ‘n aparte trop op presies dieselfde wyse as teelramme bestuur word.

    Koggelramme moet top-fiks en in ‘n goeie kondisie wees om maksimum respons te verseker. Dieselfde voedings- en voorbereidingsprogram wat vir teelramme voorgeskryf word, moet ook vir koggelramme gebruik word. Hulle moet dus van twee maande voor paring af geoefen word asook ‘n prikkellek of voerkorrels met hoë deurvloei-proteïen gevoer word. Elke ram moet genoeg vreetspasie hê. As die weiding skaars is, moet hooi van ‘n goeie gehalte vrylik beskikbaar wees.

    Koggelramme word teen min of meer dieselfde verhouding as teelramme gebruik, naamlik drie koggelramme per 100 ooie. Oorsese navorsers vind dat koggelramme van sekere rasse (soos Dorset) ‘n groter respons as ander (soos Romney) kan gee. Dorset-ramme stimuleer ooie doeltreffender om op hitte te kom as Merino-ramme, maar laasgenoemde is weer beter as Romney-ramme.

    Plaaslik het Merino-ooie wat met Ronderib-Afrikaner-ramme oor ‘n tydperk van vyf jaar gepaar is, gemiddeld 19 % meer meerlinggeboortes gehad as Merino-ooie wat met Merino-ramme gepaar is. In opvolgproewe is twee groepe Merino-ooie met Ronderib-Afrikaner- en Merino-koggelramme gekoggel en daarna geïnsemineer. Die ooie wat met Ronderib-Afrikanerramme gekoggel is, 22 % meer lammers gehad (157 % teenoor 135 %).

    Laparoskopiese ondersoeke het getoon dat 48 % van die Merino-ooie wat met Ronderib-Afrikaner-ramme gekoggel is, tweeling-ovulasies gehad het teenoor die 21 % van dié wat met Merinoramme gekoggel is.

    Verdere proewe het getoon dat Ronderib-Afrikanerramme tot bykans twee keer meer pogings (17 teenoor 9 keer per uur) as Merino-ramme aanwend om ooie te dek. Ronderib-Afrikaner-ramme het ooie 42,9 % meer kere suksesvol gedek as Merino-ramme (1,8 teenoor 1,26 keer per uur). Die Ronderib-Afrikaner-ramme was ook deur die nag seksueel aktief, terwyl Merino-ramme vanaf ongeveer 23:00 tot 04:00 heeltemal onaktief was.

    Dit blyk dat die betekenisvolle hoër geslagsaktiwiteit (libido) van die Ronderib-Afrikaner-koggelramme tot verhoogde stimulasie van ooie lei. Dit het ‘n verhoogde ovulasietempo in Merino-ooie tot gevolg, wat in die proewe meerlinggeboortes met tot 19 % en die aantal lammers met tot 22 % verhoog het.

    Waar SA Vleismerino-ooie met Ronderib-Afrikaner-ramme gepaar is, was die lampersentasie 140 vergeleke met die 118,6 waar SA Vleismerino-ooie met SA Vleismerino-ramme gepaar is.

    Hierdie verskynsel dat Ronderib-Afrikaner-ramme ooie tot meerlingovulasies kan stimuleer, kan benut word deur ooie met Afrikaner-koggelramme te koggel. As boere bekommerd is oor die moontlikheid van die besoedeling van hul ooie se wol met die hare van Ronderib-Afrikaner-ramme moet Afrino-koggelramme, wat die Ronderib-Afrikaner as voorouer het, oorweeg word, want hulle het in ‘n groot mate die hoë geslagsdrang oorgeërf.

    Berei ooie só voor
    Die vrugbaarheid van die ooie en die welslae van koggel word grootliks beheer deur die kondisie van die ooie voor paring asook hul voedingstatus tydens die voorafgaande laktasietydperk. Geslaagde koggel vereis dat ooie vir minstens 28 dae, maar verkieslik 35 tot 56 dae, van enige manlike diere (soos ramme, koggelramme, ramlammers, bokramme en takbokke) afgesonder word.

    Die minimum afstand vir doeltreffende afsondering is 1 km. Die afsondering moet volledig wees omdat ooie reageer wanneer hulle die ramme sien, hoor of ruik.

    Die koggelrameffek kan misluk as ooie op een of ander manier kontak met ramme maak, al is dit net vir ‘n kort tydjie. Hierdie kontak kan voorkom waar ooie in aangrensende krale aangehou word, tydens skeer, dip, dosering, enting of waar ooie in kampe aangrensend tot die bure se ramme wei.

    As ooie vir langer as twee tot drie siklusse (35 dae) kontak met manlike diere het, kan tot 20 % van die ooie in teelrus gaan en eers die daaropvolgende paarseisoen op hitte kom, wat lampersentasies drasties kan verlaag.

    Die nuutste inligting dui daarop dat as ooie net vir nege dae pleks van die tradisionele 14 dae gekoggel word, besetting en veral meerlinggeboortes verhoog kan word. Wanneer die koggelramme op die negende dag (verkieslik laatnamiddag) weggeneem word, moet vrugbare, dekbehendige en fikse teelramme onmiddellik by die ooie gejaag word.

    Dit blyk dat ooie beter reageer op die prikkeleffek van die koggelram as die koggelramme vroeg in die oggend (07:30) by die ooie gejaag word as later in die dag (19:30). Hierdie praktyk lei tot beter sinchronisasie asook ‘n hoër ovulasietempo (1,42 teenoor 1,14).

    Ou koggelramme moet gereeld deur jonges vervang word omdat hul geslagsdrang mettertyd afneem weens die degenerasie van die testes as gevolg van die ophoping van die semen.

    Waar hormoonbehandelde hamels gebruik word, moet nuwe hamels elke jaar gebruik word. As dieselfde hamels vir meer as twee jaar agtereenvolgens met hormone gespuit word, is hulle minder doeltreffend.

    ‘n Beter respons word met koggelramme verkry as die ooie tydens die koggeltydperk op ‘n hoë voedingspeil is sodat die ooie in ‘n stygende gewigstoenamefase is.

    22 Oktober 2004


  • Lewer kommentaar

    Slegs in Afrikaans

    Los 'n antwoord

    Alle velde moet ingevul word.

    Teken In

    Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


    Ek het my wagwoord vergeet X

    Registreer

    Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


    X