Dierevoeding

Kleingrane (koring, korog, gars, hawer) se energiewaardes

Vraag

Ek wil graag weet watter wintergewas verskaf die meeste energie? Ons saai jaarliks hawer, maar soek 'n graan wat vir diere soos varke en Dorpers meer energie verskaf. Gehoor van korog en gars. Mielies hier in die Wes-Kaap is grotendeels 'n somergewas wat energie voorsien.

Antwoord

 

Kleingrane (bv. koring, korog en gars) kan in rantsoene van skape en varke gebruik word, mits dit van ‘n hoë gehalte (vet) is. Hawer word nie aanbeveel nie weens sy lae energie-inhoud. Van al die kleingrane is gars waarskynlik die beste een vir skape terwyl koring die beter een vir varke is. Die insluiting van koring in varkrantsoene gee ‘n fermer en witter vetbedekking teenoor ‘n olieriger en sagter vetlaag waar mieliegebaseerde rantsoene gebruik word (Van Niekerk, 1984). Kleingrane moet altyd heel vir skape gevoer word terwyl dit altyd vir varke gemaal word. Die beste respons met kleingrane word verkry indien dit deel vorm van volledige gebalanseerde rantsoene vir plaasdiere sodat die tekorte in die voedingswaarde van die kleingrane met die insluiting van ander grondstowwe reggestel kan word.
 
Die energiewaarde in terme van TVV (totale verteerbare voedingstowwe) op ‘n droë materiaalbasis word vir mielies aangegee as gemiddeld 92 % (Van der Merwe & Smith, 1991); koring 87 %; triticale (korog) 86 %; gars 81 % en hawer 67 % (Brand et al., 2003). Vir meer besonderhede oor die chemiese samestelling en fisiese eienskappe van kleingrane kan die artikel by die volgende skakel geraadpleeg word
 
As gevolg van omgewingsinvloede (byvoorbeeld grondtipe, klimaat, bemesting, ensovoorts) kom daar aansienlike variasie in die energie-, proteïen- en mineraalinhoud van kleingrane voor. Wanneer kleingrane (veral gars en hawer) swaarkry (byvoorbeeld te min of lae reënval), neem die veselgedeelte van die plant toe en die styselgedeelte en dus die energie-inhoud af (Smith, 1990). Vir doeltreffende rantsoenformulering en die suksesvolle aanwending van kleingrane in plaasdierrantsoene is dit noodsaaklik dat die chemiese samestelling (voedingswaarde) daarvan eers in die laboratorium bepaal word.
 
Om optimale benutting van kleingrane en die beste diereprestasie te verseker, is daar ‘n paar voorvereistes wat nagekom moet word. Mielies word algemeen beskou as die hoofenergiebron in die voeding van herkouers en enkelmaagdiere (bv. varke en hoenders). Verskeie studies is deur die navorsers van die Elsenburg Navorsingsinstituut uitgevoer ten einde kleingrane (byvoorbeeld koring, gars, hawer en triticale) as alternatiewe energiebronne te evalueer. Uit hierdie studies blyk dit dat die kleingrane se proteïeninhoud hoër as die van mielies is, maar daar bestaan ‘n negatiewe verwantskap tussen die proteïeninhoud en die lisienpersentasie (as persentasie van die proteïen) (Brandt & Brand, 1997). Dit beteken dat die kwaliteit van die proteïen afneem met ‘n toename in die proteïen van die kleingrane.  Die relatiewe afname in die aminosuurinhoud met betrekking tot die proteïeninhoud moet dus met rantsoenformulering, veral met nie-herkouers soos varke in ag geneem word (Brand, 2009).
 
Verskeie groeistudies met veral varke is deur die jare op Elsenburg uitgevoer ten einde die waarde van kleingrane te evalueer. Produksie met kleingraanbevattende rantsoene het in die algemeen gunstig met byvoorbeeld mielies as energiebron vergelyk, veral ook ten opsigte van die moontlike besparings in die byvoeging van eksterne proteïene soos soja-oliekoekmeel. Daar is egter beperkings op die insluitingsvlakke van kleingraan (byvoorbeeld gars, korog en hawer) in rantsoene vir varke weens anti-voedingsfaktore in korog (tripsieninhibeerders, ergotbesmetting, nie-styselpolisaggariede/pentosane), gars (nie-styselpolisaggariede/pentosane en betaglukane, hoë veselvlakke) en kaalhawer (betaglukane, pentosane, hoë vlakke onversadigde vette). In die meeste gevalle kan ‘n effe laer produksie verwag word (in terme van droë materiaalinname en groeitempo) met die insluiting van kleingrane teen hoë vlakke in varkrantsoene teenoor produksie met die insluiting van mielies. Die prys en beskikbaarheid van kleingrane sal egter die bepalende faktor vir die gebruik daarvan in varkrantsoene wees. Die beskikbaarheid van doeltreffende eksterne voerensiemmengsels sal egter in die toekoms ‘n belangrike rol speel om die benutting van kleingrane vir veral jong groeiende diere te verbeter (Brand, 1997b) omdat dit die energiewaarde van kleingraan kan verhoog.
 
Koring met ‘n skepelmassa van meer as 70 kg per hektoliter het naas mielies die hoogste energiewaarde van al die kleingrane. Die vetinhoud van mielies is ongeveer tweemaal hoër as dié van koring, vandaar die hoër energiewaarde van mielies.
 
Die geel kleur van mielies word veroorsaak deur die pigmente xantofil asook kriptoxantien en karoteen, die voorlopers van vitamien A. Mielies het dus ‘n baie hoër vitamien A-inhoud as kleingrane. Hierdie tekorte kan deur die byvoeging van sintetiese vitamien A reggestel word. Indien dit nie gedoen word nie, kan aborsies by varksôe voorkom asook die geboorte van klein en swak varkies, wat meestal kort na geboorte vrek.
 
Hoewel mielies die smaaklikste van al die graantipes vir plaasdiere is, word kleingrane heel goed deur plaasdiere benut. Kleingrane moenie te fyn gemaal word voor gebruik nie aangesien dit dan geneig is tot deegvorming in die mond terwyl dit ook poeieragtig en onsmaaklik is (2 mm vir varke en 4 mm en meer vir hoenders is aanvaarbaar) (Brand, 2009).
 
Beter resultate word altyd verkry wanneer kleingrane mielies net gedeeltelik vervang. Indien kleingrane die grootste komponent van herkouerrantsoene uitmaak, moet die rantsoene goed gebuffer wees en die diere moet stadig en geleidelik aangepas word om suurpens (asidose) te voorkom. 
 
Die maksimum insluitingspeile van koring in plaasdierrantsoene word in die volgende tabel aangetoon (Ewing, 1997):
 
Dierspesie
Maksimum insluitingspeil
Hoenders:
            Kuikens
            Braaikuikens
            Lêhenne
            Teeldiere
 
50 %
60 %
60 %
65 %
Varke:
            Kruiprantsoen
            Speenvarke
            Groeivarke
            Afrond
            Sôe en bere
 
60 %
55 %
50 %
50 %
50 %
Beeste:
            Kalwers
            Melkkoeie
            Vleisbeeste
 
25 %
40 %
40 %
Skape:
            Lammers
            Ooie
 
25 %
35 %
 
 
Plaaslike sowel as oorsese navorsingsresultate dui daarop dat dit al hoe belangriker word om mielies en kleingraan saam in die rantsoene van herkouers te gebruik weens die sinergisme wat daar bestaan as hulle saam gevoer word. Sinergisme is die samewerking van verskillende dinge (bv. grane) sodat die geheeleffek groter is as die som van die twee effekte wanneer dit afsonderlik gebruik word. Twee M.Sc.-studies wat aan die Universiteit van Stellenbosch oor die vervanging van mieliemeel met korogmeel gedoen is, kom tot die volgende gevolgtrekkings (Smith, 1993):
·       In die afrondingsrantsoene vir vleisbeeste sal die vervanging van 50 % mieliemeel met korogmeel waarskynlik die beste resultate tot gevolg hê.
·       Die vervanging van 75 % mieliemeel met korogmeel in afrondingsrantsoene vir vleisbeeste sal waarskynlik nie tot swakker prestasies lei as wanneer slegs mieliemeel in die rantsoene gebruik word nie.
·       Die vervanging van tot 67 % mieliemeel met korogmeel in suiwelkonsentrate sal waarskynlik tot dieselfde of hoër vetgekorrigeerde melkproduksie lei.
·       Vir die beste resultate word aanbeveel dat die graankomponent van afrondingsrantsoene en suiwelmeel altyd ‘n minimum van 25 % mieliemeel en ‘n maksimum van 75 % korogmeel bevat.
 
Die beste benutting van kleingrane word verkry indien dit nie meer as 35 tot 50 % van die mielies in skaaprantsoene vervang nie. In die praktyk word mielies dikwels heeltemal met gars in skaaprantsoene vervang omdat dit meer koste-doeltreffend is.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
3 Desember 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X