Dierevoeding

Kan ek tef vir skape gee en watter byvoeding moet ek in die winter gee?

Vraag

Kan ek tef vir skape gee en watter byvoeding moet ek in die winter gee?

Antwoord

Goeie gehalte tefhooi kan as ruvoerbron vir skape gebruik word. Dit is van ‘n beter gehalte as die beskikbare wintergrasweiding in die somerreënvalgebied. Tefhooi het egter ‘n tekort aan deurvloeiproteïen, energie, minerale, spoorelemente en vitamines vir sekere klasse skape. Die byvoeding wat saam met ad lib.-voeding van tefhooi aan ‘n betrokke klas skape gegee word, is afhanklik van die fisiologiese stadium waarin die dier is, byvoorbeeld groeiend; droog (nie-dragtig); laatdragtig en laktasie. 

Die volgende kan as riglyne vir byvoeding van skape gedurende hulle verskillende fisiologiese stadiums saam met ad lib.-voeding van tefhooi dien:
 
1.   Speenooilammers en jongooie
Die volgende kragvoeraanvulling kan daagliks teen ± 500 tot 1 000 g/ooitjie gevoer: 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel + 550 kg gemaalde mielies of heel garspitte. Die voedingspeil van hierdie kragvoeraanvulling word so gereguleer dat die teikengroeitempo gehandhaaf word om die teikenmassa met eerste paring te bereik. Voer hierdie kragvoeraanvulling daagliks met vreetspasie vir elke ooitjie (± 35 – 44 cm/ooitjie) om optimale uitgroei van jongooie te verseker. Die teikenmassa van die jongooie is 80 % van volwasse liggaamsmassa met paring op 12 maande ouderdom of jonger en 90 % van volwasse liggaamsmassa met paring na 12 maande ouderdom.
 
2.   Teelramme
Teelramme moet vanaf twee maande voor die paarseisoen ‘n deurvloeiproteïengebaseerde ramprikkelrantsoen soos Voermol Superlamkorrels of ‘n Ramprikkelmengsel (200 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 575 kg fyngemaalde mielies of heel garspitte) teen ‘n beperkte peil (500 – 1 500 g/ram/dag) gevoer word om testisgroei en spermproduksie te maksimeer wat noodsaaklik is vir ‘n hoë lampersentasie. Daar moet voldoende vreetspasie (± 60 cm/ram) wees sodat alle ramme gelyktydig kan vreet. Dieselfde mengsel wat vir jongooie gevoer word, kan vir teelramme in hulle afseisoen gevoer word.
 
3.   Droë ooie (nie-dragtig)
Een van die volgende onderhoudslekke (100 tot 180 g/ooi/dag) kan aan droë ooie voorsien word:
(1)    Rumevite Ekonolek (klaargemeng);
(2)    Winslekmengsel (250 kg Voermol Winslekkonsentraat + 50 kg fyngemaalde mielies of heel garspitte of Voermol Melassemeel + 100 kg sout);
(3)    Voermol Proteïenblok en
(4)    Voermol Winslekkorrels.
 
4.   Prikkelvoeding van teelooie
Die doelwit met prikkelvoeding is om te poog dat die ooie met die aanvangs van die paarseisoen in ‘n uitstekende kondisie (minstens 3.5 kondisiepunt) is en dat hulle massatoename op daardie stadium ‘n stygende tendens toon (dit verhoog ovulasietempo) om te verseker dat minstens 50 % van die ooie tweelinge produseer. As prikkellek word Voermol Winslekkorrels; Maxiwol Produksiekorrels; Maxiwol Readymix; Maxiblok of ‘n Maxiwollekmengsel (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies + 50 kg sout) teen 300 tot 400 g/ooi/dag vanaf drie weke voor die paarseisoen vir ‘n periode van ses weke aan teelooie voorsien.
 
5.   Middragtige ooie
Een van die volgende onderhoudslekke (100 tot 180 g/ooi/dag) kan aan middragtige ooie voorsien word:
(1)    Rumevite Ekonolek (klaargemeng);
(2)    Winslekmengsel (250 kg Voermol Winslekkonsentraat + 50 kg fyngemaalde mielies of heel garspitte of Voermol Melassemeel + 100 kg sout);
(3)    Voermol Proteïenblok en
(4)    Voermol Winslekkorrels.
 
Indien die middragtige ooie kondisie verloor (hulle moet 50 tot 100 g/ooi/dag in massa toeneem), kan een van die volgende produksielekke (250 tot 350 g/ooi/dag) voorsien word:
(1)    700 kg Rumevite Ekonolek + 300 kg gemaalde mielies of heel garspitte;
(2)    400 kg Voermol Winslekkonsentraat + 400 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 150 kg sout;
(3)    Voermol Energieblok;
(4)    Voermol Produksielek en
(5)    Voermol Maxiwol Produksiekorrels.
 
6.   Laatdragtige ooie
Laatdragtige ooie moet ‘n hoë deurvloeiproteïenlek met die korrekte aminosuurprofiel soos ‘n Maxiwollekmengsel (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg fyngemaalde mielies of heel garspitte + 50 kg sout); Maxiwol Produksiekorrels; Maxiwol Readymix of Maxiblok teen 300 tot 400 g/ooi/dag gevoer word. Die aanbevole riglyn is dat laatdragtige jongooie met enkelingfetusse; jongooie met meerlingfetusse; volwasse ooie met enkelingfetusse en volwasse ooie met tweelingfetusse onderskeidelik gedurende die laaste twee maande voor lam 8.5; 12.5; 10 en 18 % in massa toeneem. Indien hierdie teikenmassatoename nie met hierdie deurvloeiproteïenlekaanvulling saam met ad lib. tefhooi gehandhaaf word nie, moet ‘n volledige lammerooirantsoen (275 kg gemaalde tefhooi + 300 kg gemaalde mielies + 150 kg Voermol SS 200 + 100 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel) gevoer word. Ooie met 1-lingfetusse moet na aanpassing ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaamsmassa tot ‘n maksimum van 2 kg/ooi/dag gevoer word.
 
7.   Lakterende ooie
Ooie lam gewoonlik nie op winterveld nie, want hulle kan nie lammers suksesvol op winterveld grootmaak nie. Indien daar egter ooie gedurende die laatwinter lam, moet hulle dieselfde volledige lammerooirantsoen gevoer word as gedurende laatdragtigheid. Ooie met 1-linglammers word ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % van liggaamsmassa tot ‘n maksimum van 2.5 kg/ooi/dag gevoer.
 
8.   Kruipvoeding
Die voorsiening van kruipvoer aan sogende lammers is ononderhandelbaar vir winsgewende skaapproduksie omdat dit uiters koste-doeltreffend is. ‘n Gemaalde kruipvoermengsel (500 kg fyngemaalde mielies of heel garspitte + 150 kg Voermol Procon + 150 kg Voermol SS 200 + 80 kg Voermol Melassemeel) of Voermol Superlamkorrels kan vanaf 10 dae ouderdom tot ongeveer twee weke na speen ad lib. aan sogende lammers gevoer word.
 
9.   Voerkraalafronding van speenlammers
Met speen moet die 10 tot 15 % swakste (klein en boepenslammers) lammers verkoop word en net die beste lammers moet in ‘n voerkraal op die volgende voerkraalrantsoen afgerond word: 125 kg gemaalde tefhooi (25 mm) + 500 kg fyngemaalde mielies of heel garspitte + 100 kg Voermol Procon + 200 kg Voermol SS 200 + 80 kg Voermol Melassemeel.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
23 April 2012

Kommentaar

Een kommentaar op “Kan ek tef vir skape gee en watter byvoeding moet ek in die winter gee?

  1. JOLENE VAN ROOYEN
    JOLENE VAN ROOYEN

    Inligting oor tefgras – eragrostis tef


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X